Let Wel

Marzannè se storie

2 min lees tyd
Virseker trust 01 Februarie 2016 deur Virseker

Marzannè Heymans is ʼn merkwaardige meisie - iemand wat daaraan toegewyd is om ʼn verskil in die lewens van kinders met leerprobleme te maak.


Met behulp van Rapport Onderwysfonds (ROF) en die Virseker Trust studeer sy B.Ed Grondslagfase by Aros – iets wat, sedert sy as kind skool-skool met haar poppe gespeel het, haar passie is: “Ek wil spesialiseer in remediërende onderwys omdat ek weet hoe uitdagend dit is om met ʼn agterstand te worstel.”


Marzannè moes reeds op 9 maande ʼn bril dra en tot op 16-jarige ouderdom moes die lense twee maal per jaar versterk word. Sy het akademies goed gevaar in Volkskool Brakpan tot in graad vier, waarna haar gemiddeld drasties van 80% tot 55% gedaal het.


Haar ouers, Annette en Jan, is deur medici meegedeel dat Marzannè aan oudiovisuele persepsie- en korttermyngeheueprobleme ly. ʼn Lugweginfeksie en koorsstuipe as baba het haar oudiovisuele prosessering só aangetas dat sy nie voor- en agtergrondklanke van mekaar kan onderskei nie. Alle klanke word met gelyke intensiteit na Marzanné se brein gelei in ʼn warboel verwarrende seine.


ʼn Spesiale skool was haar voorland, maar Mnr. Morkel, Volkies se destydse skoolhoof, het volgehou dat Marzannè met die regte ondersteuning bogemiddelde punte kon behaal. Haar ouers het in ʼn gevorderde gehoorstelsel belê wat haar sou help om onderwysers duidelik te hoor. Volkskool het studiemateriaal en vraestelle in groot druk laat maak en haar ekstra tyd met opdragte gegun.


Marzannè se punte het gestyg. Sy het ook groot sukses behaal in sport en kultuur. Sy het matriek met volle universiteitsvrystelling geslaag en pas haar eerste semester op Aros met ʼn gemiddeld van sowat 80% voltooi.


Marzannè se rolmodel is haar neef, die 23-jarige Hendri Herbst, ʼn blinde Paralimpiese kampioenswemmer – die “perfekte voorbeeld van hoe ʼn mens enige iets kan vermag deur genade, positiwiteit, doelgerigtheid en nederigheid.”


“God gee my die krag, liefde en beskerming om storms te bowe te kom. Hy gee talente met ʼn doel en daarom gebruik ek myne ten volle tot Sy eer. Die keuse van wat jy met jou seëninge doen bepaal jou lewensroete.”


“Studente soos Marzannè is die kern van die Virseker Trust,” sê Elmarie Twilley, woordvoerder van Virseker. “Ons staan bankvas agter Afrikaanse onderrig, dus word ʼn porsie van premies aan die trust toegeken en is meer as R10 miljoen tot dusver in Afrikaanse onderrig belê. Marzannè se verhaal is die begin van ʼn kettingreaksie waarby elk van haar leerders sal baat vind!” 


Die Virseker Trust ken ook jaarliks verskeie studiebeurse toe aan flink jong Afrikaanssprekendes wat menigmaal nie andersins verder sou kon studeer nie. Maar sonder ons lede sou die Virseker Trust nie moontlik gewees het nie. Elke maand skenk ons ʼn gedeelte van al die premies wat ons ontvang aan die Virseker Trust, om die groei en voortbestaan van Afrikaans te verseker. So, indien jy net so groot op Afrikaans is soos ons, voltooi ʼn versekeringskwotasie en kyk hoeveel jy kan spaar op jou versekering.

 Virseker trust

FOTO: Waldimar Pelser, redakteur van Rapport, Dr. Dirk Hermann van Solidariteit en Neil van der Walt, Virseker handelsmerkbestuurder soos geneem uit Rapport.

Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!