Let Wel

Hulp Vir Jagersfontein-boere Ná Slikdamramp

2 min lees tyd
Virseker trust 14 November 2022 deur Virseker

Die Virseker Trust het R50 000 aan Solidariteit Helpende Hand geskenk wat spesifiek aangewend gaan word om verligting te bring vir boere in die Jagersfontein-omgewing wat erg deur die onlangse slikdamramp geraak word.

Sowat 160 huisgesinne en ongeveer 600 mense in Charlesville en Imuteleng is geraak toe die diamantmyn se slikdam op 11 September gebreek het. Talle boere het ook ekstensiewe verliese gelei nadat die slik oor hul grond gespoel en skade aan die infrastruktuur aangerig het. Grootskaalse veeverliese is aangemeld. In een spesifieke geval het ʼn boer 90% van sy vee verloor.

“Hierdie is ‘n reuse humanitêre krisis en dis ons voorreg om, danksy die ondersteuning van elkeen van ons polishouers, uit te reik na hierdie gemeenskap en ‘n praktiese verskil kan maak om mense, wat ‘n lewensbron vir soveel ander skep, weer op hul voete te kry,” sê Riaan Pretorius, woordvoerder van die Virseker Trust. “Ons moedig ander maatskappye en individue aan om dieselfde te doen, want die behoefte is werklik baie groot en uiters dringend.”

Volgens Kobus Venter, Solidariteit Helpende Hand se streeksorganiseerder van die Vrystaat, bedek slik steeds groot stukke landbougrond en weidingsveld. Die slik het ook in die omliggende spruite en Rietrivier ingespoel tot by die Kalkfonteindam.

“Dié water is tans nie geskik vir landbou nie aangesien dit basies net modder is en die boere het groot uitdagings om hulle vee en gewasse van water te voorsien,” sê Venter.

“Daar is nagenoeg 13 plase wat deur die slik geaffekteer word. Die slik het nagenoeg 15km gestoomroller met ʼn wydte van 1,5km.”

Water is en bly steeds ʼn groot behoefte vir die hele gemeenskap. Die landbougemeenskap het egter die volgende dringend nodig:

• Ten minste twintig tot veertig 5 000 liter watertenks;
• Geweldig baie meters 32mm-waterpyp;
• Ten minste veertig tot tagtig waterkrippe;
• Geld om te boor vir grondwater;
• Pompe om water na die watertenks en krippe te pomp;
•  Kragvoer vir ooie wat tans lam;
• Voer vir ander vee;
• Draad en boumateriaal om heinings te herstel.

Venter het gesê Virseker se skenking gaan aangewend word om van dié toerusting aan te skaf om iets volhoubaar vir die boere neer te sit wat jare ná die ramp hierdie gemeenskap, sowel as die omliggende gemeenskappe, kan bystaan.

Mense wat finansiële steun wil bied om broodnodige toerusting aan te koop, kan ʼn e-pos stuur na [email protected] of bel 079 488 1964.

Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!