Let Wel

7 Organisasies Toon Die Krag Van Afrikaanse Passie En Kapitaal Om Sa Te Bou

2 min lees tyd
Virseker trust 14 November 2022 deur Virseker

Die voortbestaan en florering van ‘n taal verg veel meer as die dra van ‘n T-hemp wat sê: #TrotsAfrikaans. Dit verg ‘n besef dat taal onlosmaaklik deel is van identiteit, dat identiteit wat nie proaktief gelééf of daadwerklik ondersteun word nie mettertyd wegsmelt, maar dat taal en identiteit wat voortdurend gevoed en gevier word berge kan versit en selfs die onmoontlike kan vermag.

“As handelsmerk is ons nog altyd trots Afrikaans, maar om te sê dat ‘n mens passievol oor ‘n taal is en om prakties iets te dóén om die voortbestaan en groei van jou taal te verseker is twee verskillende dinge,” sê Ricardo Coetzee, woordvoerder van Virseker, “Afrikaans is so ‘n unieke en ryke skatkis van woorde en uitdrukkings wat nét Afrikaans kan raakvat, dat dit elkeen van ons wie se harte in Afrikaans klop se verantwoordelikheid is om proaktief te soek na maniere waarop ons ons taal prakties kan bou en uitbrei.”

Coetzee wys uit dat daar talle organisasies regoor Suid-Afrika is wat fokus op onder andere navorsing, onderwys, studies, die ontwikkeling van slimfoontoepassings, die insluiting van gestremdes, die ondersteuning van dié in nood – vír Afrikaans, ín Afrikaans. Maar hy beklemtoon dat hierdie organisasies baie sterk staat maak op die volgehoue finansiële steun van die Afrikaanssprekende gemeenskap.

“Dis juis om hierdie rede dat ons reeds vir meer as ‘n dekade lank ‘n stap verder gaan as net eersteklas versekering in Afrikaans, ‘n persentasie van ons kliënte se premies aan die Virseker Trust toeken en só die krag van Afrikaanse kapitaal gebruik om ‘n beter Suid-Afrika vir beide ons en ons kinders te bou. Ons staan op die skouers van elke polishouer, want dis alleen deur hulle – ‘n groot groep mense wat elkeen ‘n klein bydrae lewer – dat ons ‘n formidabele, trots-Afrikaanse krag is wat die wêreld ten goede kan verander..”

Dis meer as net mooipraatjies. Die Virseker Trust het tot op hede meer as R100 miljoen in Afrikaanse onderwys, tersiëre opvoedingsinstansies, kunste, sport en gemeenskapsondersteuning belê.

Coetzee lig die volgende organisasies, wat by die Virseker Trust se mees onlangse skenking baat gevind het, uit:

-        Akademia en Die Kampus Trust, waar Afrikaanse kapitaal help bou het aan ‘n wêreldklas Afrikaanse hoëronderwysinstelling wat sonder winsoogmerk funsioneer. Skenkings dra by tot die ontwikkeling van nuwe kwalifikasies, die suksesvolle uitrol van programme, die aanstelling van passievolle personeel, asook die bou van ʼn omvattende residensiële kampus.

Skenkings help nie alleen studente soos Abigail Fourie, ʼn tweedejaarstudent in BCom (Ondernemingsbestuur), en Michelle Louw, ʼn student in die Hoër Sertifikaat Rekeningkunde-program, om in hul moedertaal te kan studeer nie, maar ondersteun ook ‘n instelling wat goed afgeronde individue kweek. Individue wat weer, op hulle beurt, ‘n verrykende impak in hul gemeenskappe kan maak.

-        Die Solidariteit Helpende Hand studiefonds – ‘n geregistreerde openbare weldaadsorganisasie wat behoeftige Afrikaanse studente se studies moontlik maak deur middel van rentevrye studielenings. Die HHST administreer tans meer as 200 onafhanklike studiefondse namens verskeie donateurs en het reeds meer as 11 000 toekennings aan 4750 behoeftige studente gemaak met ‘n totaal van R277 miljoen.

-        Die Skole Ondersteuningsentrum (SOS) - ’n nie-winsgewende organisasie met die doel om gehalte-onderwys meer bekostigbaar en toeganklik vir alle leerders in Suid-Afrika te maak. Hul ontwikkel opvoedkundige produkte en dienste wat Afrikaanse leerders van alle gemeenskappe en ekonomiese agtergronde in staat stel om toegang tot wêreldklas onderwys te verkry deur middel van geakkrediteerde opleiding vir onderwysers, ’n verbeterde onderrig- en leermodel asook ’n digitale platform (Wolkskool).

Die SOS verskaf vakspesifieke opleiding aan meer as 16 000 onderwysers per jaar van meer as 1 000 skole deur middel van seminare, webinare en werkswinkels.

Die wolkskool ondersteun verder meer as 35 000 leerders en bestuur alle aspekte van ’n skool se aanlyn onderrigbehoeftes, vanaf Graad 1–12, in 30 vakke. Die Wolkskool bied tans meer as 15 000 videolesse, assesserings en werkkaart en die SOS bied ook ’n professioneel gemodereerde gestandaardiseerde eksamen (Graad 4–11) vir alle sleutel vakke.

Die wolkskool se hibriede benadering en “omgekeerde klaskamer” onderwysstelsel optimaliseer die proses van leer en help leerders om in die klaskamer én eksamenlokaal uit te blink.

-        Die WEET e-Naslaangids: Hierdie gids – ‘n digitale naslaanbron - verseker dat die nuwe generasie op skool toegang het tot goeie gehalte, betroubare inligting in Afrikaans wat voldoen aan hul behoeftes vir skooltake en navorsing. Dit lê klem op die feit dat veral laerskoolleerders inligting in hul moedertaal beter kan verstaan en verwerk. Hierdie platform word voortdurend aangevul en uitgebrei ten einde ‘n meer positiewe, gebruikersvriendelike en aanloklike ervaring vir leerders te skep.

-        Die Afrikaanse Taalraad wat Afrikaans en al sy variëteite as taal van eenheid binne ’n meertalige konteks bevorder. Die ATR speel in hierdie verband ’n fasiliterende en netwerkskeppende rol en koördineer taalaksies met ander taalorganisasies, akademici, gemeenskapsleiers, kerkleiers, skole ens. om taaluitdagings die hoof te bied. Een van die ATR se sleuteldoelstellings is om Afrikaans en die behoud daarvan – oor demografiese en sosio-ekonomiese grense heen – meer inklusief te maak en voortdurend te hervitaliseer. Die ATR mik sodoende daarop om alle Afrikaanssprekendes vir die behoud en groei van die taal te mobiliseer.

-        Die Pionierskool vir Siggestremdes: Hierdie skool fokus sterk op toeganklikheid van lees- en leermateriaal vir blinde en swaksiende kinders en volwassenes. Ekstra befondsing het die skool uiteindelik in staat gestel om ‘n hele paar goue gunstelingstories, sowel as blinknuwes in die vorm van grootdruk, braille en klankopnames beskikbaar te stel aan siggestremdes wat dit gate uit geniet.

-        Die Helpende Hand Noodfonds Josef Silo’s: Dié projek staan individue, gesinne, instansies en organisasies wat weens die Covid-19 pandemie in hongersnood verkeer by deur die voorsiening van kospakkies, maar gaan ook een stap verder deur mense te bemagtig om na hulself om te sien. Elke persoon wat gehelp word word deeglik geassesseer om, aan die hand van ‘n maatskaplike werker, te bepaal wat die beste stappe is om te neem om die holistiese, vohoubare welstand van die persoon te verseker.

Virseker se onlangse skenkings bring die totale skenkings aan hierdie organisasies op sowat R87 miljoen te staan en die totale bedrag wat Virseker tot op datum in Afrikaans belê het op meer as R108 miljoen.

“Hierdie is slegs etlike voorbeelde van hoe Afrikaans, deur daadwerklike toewyding tot ondersteuning van die taal op ‘n konkrete wyse, berge versit. Ons praat hier van mense wie se lewens onherroeplik verander word deur die positiewe krag van Afrikaanse passie en kapitaal,” sluit Coetzee af.

“As ons hierdie potensiaal kan versprei na selfs meer individue, gemeenskappe en meer maatskappye, sal ons die generasie wees waarvan ander oor dekades, dalk selfs eeue van nou af, sal sê: ‘Húlle was ‘n soort wat jy mín kry. ‘n Soort wat gepraat het en ge#TrotsAfrikaans het, ja, maar, meer belangrik, nie geskroom het om vorentoe te tree en skouer aan die wiel te sit om te bou wat ons vandag het nie. Dít het die deurslag gebied. Afrikaans groei. Afrikaans blom. Afrikaans BOU. Ons staan op die skouers van reuse.”

Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!