5 Taalreëls

Posted on 2016-02-01

 

Afrikaans is ʼn wonderlike taal. Dis kragtig. Dis kleurvol. Dis propvol emosie. Dis ʼn lekker taal wat mens so baie betekenis in kan oordra. Daar is min dinge in die lewe wat so lekker is soos Afrikaans praat nie. Jy kan vry, jy kan baklei, jy kan sing en jy kan jou woorde in stories spin; alles lekker in Afrikaans.

Ons glo dat as jy iets wil sê, dan sê jy dit in Afrikaans. Dis hoekom ons alles in Afrikaans doen van kwotasie tot polisboek. En wat meer is, ons het ook die Virseker Trust gestig wat onderrigbeurse vir Afrikaanssprekende studente bied – dis alles te danke aan die premies van ons kliënte. 

Maar soos met enige iets, as jy dit regtig goed wil doen moet mens dit so elke dan en wan bietjie opskerp. Daarom het ons weer ons ou skoolhandboeke genader en ‘n paar taalreëls te beloer. Lees hieronder wat ons gevind het, dalk is daar iets wat jy al vergeet het.

1. Die koppelteken (-)

Die doel van die koppelteken soos met alle lees- en skryftekens is om lees makliker te maak. Deur die koppelteken te gebruik kan jy nie net misverstand uitskakel nie maar ook woorde skep. So wanneer kan jy die koppelteken gebruik?

  • ‘n opeenhoping van klinkers, bv. hande-arbeid, ewe-eens ens.
  • saamgestelde titels, bv. posmeester-generaal, direkteur-generaal, ens.
  • samestellings met oud-, nie-, assistent-, adjunk-, aspirant-, vise-, pro-, anti- en met –hulle agteraan, bv. ouma-hulle, vise-hoof, ens.
  • herhaling, bv. sing-sing, bietjies-bietjies, ens.
  • aardrykskundige name, bv. Klein-Asië, Groot-Brittanje, ens.
  • samestellings met rigting in, bv. Suid-Afrika, Noord-Amerika, ens.
  • samekoppeling wat ‘n naam geword het, bv. Twee-buffels-met-een-skoot-dood-gesiet-fontein
  • woorde wat met en verbind word, bv. Bek-en-klouseer, wins-en-verliesrekening, ens.
  • samestellings van letters en syfers, bv. B-span, vlug-798, ens.
  • gesteldheid, bv. bek-af, hand-uit, ens.
  • lang woorde, bv. grootvis-hengelkompetisie, ens.

2. Die afkappingsteken (’)

Mens kan die afkappingsteken gebruik wanneer:

  • meervoude wat op -i, -o, -u en ’n beklemtoonde -a eindig, bv. foto’s, hoera’s, ens.
  • verkleiningsvorme wat op -i, -o, -u en ’n beklemtoonde -a eindig, bv. foto’tjie, hoera’tjie, ens.
  • meervoude van letters, bv. g’s, h’s, ens.
  • verkleiningsvorme van letters, bv. g’tjie, b’tjie, ens.
  • Weglating van letters, bv. daar’s, hulle’t, ens.

3. Die Akuutteken (ˊ)

Hierdie is die strepie wat vorentoe op die letters lê. Onthou dat die teken nie op die ‘i’ val as dit langs ‘n ander klinker is nie, maar wel indien dit langs ‘n medeklinkerstaan, bv. dié en ís. En jy gebruik dit waar?

  • beklemtoning, bv. néé, dié, ens.
  • vreemde woorde en spelvorme, bv. attaché, cliché, ens.
  • sekere eiename, bv. Fouché, Naudé, ens.

4. Die Gravisteken (ˋ)

Hierdie is die strepie wat agtertoe op die letters lê, wat jy gebruik wanneer:

  • op hierdie woorde: appèl, dè, hè, nè
  • uitdrukkings van vergelyking, nòg… nòg en òf… òf, bv. hy is nòg vis nòg vlees
  • leenwoorde, bv. crèche, ampère, ens.
  • sekere eiename, bv. Hélène, Thérèse, ens.

5. Die komma (,)

Wanneer moet mens nou eintlik die mannetjie gebruik?

  • tussen twee of meer selfstandige naamwoorde, byvoeglike naamwoorde en werkswoorde, bv. Die dik, hoë, staaldeur skuif sonder moeite oop
  • tussen twee werkswoorde wat verskillende gesegdes vorm, bv. Hy het gestotter, wat toon dat hy skuldig is
  • tussen twee voegwoorde, bv. Hy dink daaraan, indien die son skyn, om te gaan swem
  • wanneer uitroeping krag verloor, bv. Hey, het ek jou al vertel
  • om sinne te verbind met nòg… nòg en òf… òf, bv. òf jy dink nie, òf jy wil nie
  • om woorde uit te los om herhaling te voorkom, bv. Sy is mooi, haar suster, slimmer
  • gedagte in ‘n sin in te voeg, bv. Hy het, en ek bedoel dit nie lelik nie, bietjie gewig aangesit.
  • rondom ‘n verduideliking, bv. Herman, die ou met die blou hemp, vertel goeie stories
  • die naam van ‘n aangesprokene, bv. Susan, jy moet al jou ertjies eet.
  • Om vaagheid en dubbelsinnigheid te voorkom, bv. Sarie, Johan se vrou, bak lekker koek

Taalreëls geneem uit Afrifiksie