Almal het altyd na Herman Botes toe gegaan vir raad. Nie omdat hy ongelooflik slim was of altyd die regte antwoord gehad het nie, maar omdat hy altyd na almal se stories geluister het. Regtig geluister het, en elke nou en dan sou hy uit gevra het oor jou verhaal. Dan sou hy lank gedink het voordat hy vir jou sy opinie gegee het. Hy het jou nooit veroordeel nie. Mens kon net rustig met hom praat en jou kop om sake kry.
Herman het op sy eie gebly, maar nooit regtig gepraat oor sy lewe nie. Hy’t gesê hy’s in konstruksie, en kon altyd die straat se kinders help met hul wiskunde, wetenskap en tegnologie take.
Hy was werklik ’n aanwins vir die buurt.
Hy was baie lief vir sy tuin. Hy’t gesê tuinwerk maak hom rustig. Hy het soms sommer in die middel van die nag ingespring. Sy harde werk het vrugte gedra. Hy het die mooiste tuin in die hele buurt gehad – groen en eksoties, selfs in die winter. As jy vra sou hy net sê hy gebruik spesiale kunsmis.
Dit was ’n groot skok toe die polisie daar opdaag en hom arresteer.
Hulle het vir weke lank sy tuin en huis omgekrap. Waarna hulle gesoek het kon niemand sê nie. Die speurders het almal oor Herman uitgevra, maar niks laat glip nie.
Hulle het die buurt omgekrap vir weke lank. Toe is Herman terug. Maerder. Net gesê dit was ’n misverstand.
Almal was baie opgewerk vir Herman se part, maar hy het vinnig-vinnig weer in sy roetine ingeval. Kort voor lank is die hele gedoente met rus gelaat en Herman se tuin weer prentjie mooi.
Laat een Saterdag middag klop Herman aan my deur.
Hy is baie haastig en ’n bietjie senuweeagtig. Ek probeer hom innooi, maar hy’s haastig. Hy kyk bietjie ongemaklik rond en sê “Jammer, maar kan ek jou ’n guns vra? Ek moet vir ’n ruk lank weggaan”. Met dit stop hy ʼn aktetas in my hande en sê ek moet dit vir hom veilig hou.
“Moenie bekommer nie jy’s veilig, maar sê vir niemand jy het dit nie.”
Toe’s hy weg en ek staan in my deur met sy aktetas.
Ek kon sweer ek’t flitsligte in sy huis gesien daardie selfde aand.