Water & Ligte

 

 “Jammer meneer, ek verstaan jy’s gefrustreerd, maar ek kan meneer ongelukkig nie help nie.”

“Wat bedoel jy? Ek kan nie hierdie betaal nie!”

“Meneer, ek verstaan jy is ongelukkig, maar kan jy asseblief kalm bly.”

“Ek is KALM! Nie een van julle kan vir my sê hoekom ek 'n water rekening van R10 000 het nie! Ek bly in ʼn verdomde twee-slaapkamer woonstel! Ek’t nie eens plante nie! Net ʼn goudvis! Ek het een dekselse goudvis wat weier om dood te gaan!”

“Meneer, ek verstaan, maar die sisteem dui geen onreëlmatighede aan nie.”

Johan druk sy sigaret in ’n oorvol asbakkie dood. Hy sit voor sy rekenaar besig om aan ʼn nuwe internetsekuriteitstelsel te werk. Die rekenaar staan op ʼn groot hout tafel. Op die tafel staan drie skerms, ʼn stukkende telefoon en ʼn glasbak vol water met ʼn waterplant en ʼn goudvis in. Verder is die kamer leeg.

Johan het vinnig-vinnig die hele kamer swart geverf, en swaar gordyne voor die vensters opgehang. Toe mevrou Basson, by wie hy die plekkie gehuur het, die kamer op haar jaarlikse besoek sien, wou sy hom dadelik uitskop. Gelukkig het almal ʼn prys en nou’s hy ʼn huiseienaar. Hierdie stipdonker vertrek is sy werkskamer – dit het geen natuurlike lig nie en tyd beweeg nie hier nie.

Hy verkies dit so, dan kan hy homself heeltemal in sy werk verloor. “As die wêreld wegraak, kan jy sien wat ander mis.”

Elize was nie so gek oor Johan se werksetiek nie.

Sy het dit gehaat dat hy so opgevang in sy werk kon raak, van alles om hom kon vergeet en altyd laat was vir alles. Sy kon nie die klein woonstelletjie met die swartgat kantoor verdra nie.

“Dis nie gesond om heeldag so in die donkerte te sit nie.”

Elize het als probeer wat sy kon om Johan se studeerkamer op te kikker. Foto’s, plante, portrette als is uitgegooi as sy weer daar kom. Net Generaal Smit, ʼn goudvis met ʼn krom stert, kon Johan nie van ontslae raak nie. Die dag wat hy vergeet het om haar ma’le op die lughawe te gaan haal, was die laaste.

ʼn Week later is Johan se salaris verdubbel.

Niemand sou kon se dat Susanna nie verlig was toe sy die “geldgierige merrie” se leë kaste sien op haar weeklikse het-Johan-kos-en-leef-hy-nog besoek nie.

Johan maak sy lessenaar se boonste laai oop en haal ʼn sigaret en ʼn boksie vuurhoutjies uit. Hy steek die sigaret aan, maak weer munisipaliteit se bladsy op sy rekenaar oop, en sug ʼn grys wolkie uit.

Daar is ook net so veel wat ’n man se siel kan vat.