Honderd-en-sewentigduisend

Posted on 2016-03-08

 

Honderd-en-sewentigduisend rand. Dis wat jou gewone onderwyser per jaar verdien. Voor belasting. En vir dit, kyk ons na gemene kinders, gene wat nie in kennis belangstel nie en luister na ongeskikte ouers. In alle eerlikheid laat ons, versondig ons ons siele vir honderd-en-sewentigduisend rand.

Dalk moes ek ʼn dokter of ʼn ingenieur geword het maar as jy jonk is, is jy dom van die hoop, drome en entoesiasme. “Ek gaan dinge verander. Hierdie is my roeping.” Roeping se gat. Honderd-en-sewentigduisend rand se gat.

Jy sit in jou klaskamer met jou verbleikte groen knoophemp en luister na Mnr Pa-van-die-jaar, met sy Rolex en ʼn Landrover sleutel in sy hand wat skreeu omdat sy groot seun Afrikaans druip.

Honderd-en-sewentigduisend.

Ja, Meneer as Ou Grotes dalk ʼn boek oopmaak so elke dan en wan sal sake seker anders lyk. Seker ook my skuld.

Honderd-en-flippen-sewentigduisend rand.

Dit dek nie eens my vrou se medikasie nie, wat nog gepraat van die hospitaal- of dokterskostes. Mediesefonds is al in Februarie uitgeput.

Maar ons is elkeen verantwoordelik vir ons keuses. Ek sit nie hier en vra vir vergifnis of selfs dat iemand verstaan nie, dis net ... honderd-en-sewentigduisend rand.

Dis nie elke dag dat jy so ʼn kans kry nie.

ʼn Ou skoolvriend met ʼn groot wildsplaas aan die eenkant van die grens en ʼn swart tas aan die anderkant, wat aanbied om al die mediese kostes te dra. Al wat jy moet doen is die tas vir hom bring. Wat sal honderd-en-sewentigduisend rand dan doen?

Nou goed, niemand se hart is so sag nie en daardie tas kan niks goeds bevat nie. Vir sulke geld... Te hel met die gereg!

Te hel met honderd-en-sewentigduisend rand.

Eintlik was dit alles heel maklik. Wit leun vir my vrou. “Nee lief, ons gaan net besigheid praat. Jy gaan net verveeld wees. Rus liefs hier by die huis.” Vyfhonderd rand vir die wag by die grens om nie te veel vrae te vra nie. Dan ry mens net versigtig. Kan nie bekostig om afgetrek te word of om die kar te stamp nie. Die versekering is al maande terug gekanselleer.

Alles loop seepglad tot by die plaashek. Hier sit ek nou – lieg of bieg, nie een opsie lyk goed nie.

Honderd-en-sewentigduisend.

ʼn Polisieblokkade reg voor die hek.

Honderd-en-sewentigduisend. Honderd-en-sewentigduisend. Honderd-en-sewentigduisend.

Klop die man aan my ruit.

“Middag meneer.”

Hy praat stadig, ʼn stem van iemand wat al heeldag in die son sit. Sy groot ronde rooi gesig laat sy maer ogies net dunner lyk.

“Hallo. Is alles reg?”

“Ja-nee. Als is reg.”

Stilte. Honderd-en-sewentigduisend. Hy kyk net met skrefies ogies. Ek sweet nie so maklik nie, Ou Rooies.

 Eindelik vra hy met sy stadige stem, “Waar kom jy vandaan?”

“Van Welkom af.”

“Vêr ent van Welkom af?”

“Ja, was nogal ʼn lang pad.”

“Wat maak jy so vêr van Welkom af?”

Honderd-en-sewentigduisend.

“Ek kom kuier bietjie vir ʼn ou skoolvriend.”

Hy loer onder sy kieliebak deur na die plaas hek.

“Moet ʼn ware vriendskap wees.”

Sarkasme is nie almal se vriend nie, Ou Rooies.

Honderd-en-sewentigduisend. Honderd-en-sewentigduisend. Honderd-en-sewentigduisend.

“Ekskuus tog?”

“Nee, ek bedoel maar net dat dit ʼn vêr ent is.”

Ek knik my kop en sy dun ogies probeer hard om deur my te sien.

“Meneer kan jy asseblief uit jou motor klim?”

“Mag ek vra hoekom ek dit sal doen?”

Hy steek sy vet handjie in sy hempsak in en haal ʼn verfrommelde en voosgevoude papier uit en skud dit aan een hoek oop.

Honderd-en-sewentigduisend.

“Meneer ek en die lasbrief vra mooi.”

Honderd-en-sewentigduisend.

 

Hoe sê Adam Small? “die Here het geskommel en die dice...”