Laas Sondag sit ek in die kerk. Dit was die 9:30 diens – dit sal mos ’n wonderwerk neem om my op ʼn Sondag voor agt gedress en gesuit en in die kerk te kry. Hierdie is ook die ‘oumens’ diens so daar is nie baie kinders wat pla nie.
Dit het begin soos enige ander diens. Ek het so sewe minute voor die begin van die diens opgedaag, die ouderlinge se hand geskud, die kerkblaaitjie gevat, oor sy grappie gelag en gaan sit – links agter soos altyd. Daar is die gewone beleefdheid in die kerk soos wat die banke vol skuif en die mense mekaar met klein glimlaggies groet.
Presies 31 minute oor 9 stap Dominee na die podium toe. Hy groet die gemeente en knik sy kop sodat die orrelis die voorsang kan begin – twee gesange en een psalm. Ons was halfpad deur die tweede gesang, toe bars die deure oop en ʼn gesinnetjie wals in – ma, pa en twee jong kinders, seker al ’n klompie jare in die skool.
Die gemeentelede waardeer nie die steuring nie, maar gelukkig is die kinders in die kerk.
Die onrustige gesin skrop vir hulle ’n nes in die agterste bank van die middelry. Die kinders kry elkeen ʼn sappie en begin in speelgoedsakke krap.
Een na die ander begin die lede vies agter toe kyk. Van die ooms en tannies begin selfs hulle gehoorstelsels harder sit. Elke nou en dan sal die pa kliphard vir die tweetjies sê om nie so rond te hardloop nie, nie dat dit help nie.
Ek het lanklaas iemand gesien wat so sukkel om uit die Bybel te lees soos wat Dominee Sondag het. Na ’n onnatuurlike lang skriflesing, laat Dominee maar die kollekte op neem.
Toe die kollekte amper klaar is, sê die pa weer kliphard vir een van die tweetjies om op te hou, waarop die engeltjie antwoord “nee, ek wil speel”. ’n Tannie wat in die voorste ry sit vervies haar heeltemal, sy staan op, skuif uit die ry uit en waggel na die pa toe. Die hele gemeente is doodstil. Selfs Dominee hou haar dop.
“Skuus tog meneer, kan jy jou kinders dalk beter beheer. Hulle is redelik steurend.”
Die pa vervies hom bloedig vir die tannietjie.
“Mevrou! Jy moet respek leer vir kinders!”
Die tannie is stomgeslaan en staar die man verleë aan vir ’n oomblik, dan trek sy haar oë op skrefies en klap hom deur sy gesig. Die orrelis hou op speel en die hou weergalm regdeur die gebou.
“Mannetjie! Jy moet jou nie verbeel jy’s te groot vir pakslae nie! As jy nie die goedjies stil kry nie, gee ek julle almal loesings soos julle seker nog nooit gehad het nie! Verstaan!”
Met die, draai die tannie om en waggel terug na haar sitplek toe. Die pa is werklik stomgeslaan. Dominee, met ’n effense glimlag, maak sy keel skoon en gaan rustig voort met sy preek sonder enige ander steurings.