Let Wel

Trust bring hoop vir aspirant-sakevrou

2 min lees tyd
Virseker trust 24 Augustus 2020 deur Virseker

Die 19-jarige Ricke du Toit van Centurion moes al heelwat storms in haar lewe trotseer, maar laat haar deur niks stuit nie. Nou kan sy, danksy ‘n helpende hand van die Virseker Trust, haar BCom-graad aan Akademia voltooi en haar sakewêrelddroom najaag.

Ricke is vanaf die ouderdom van 15 in pleegsorg weens uitdagende huislike omstandighede.

Ten spyte van uitdagings van die verlede, het sy in haar nuwe omgewing floreer en haar matriekjaar aan Hoërskool Tuine voltooi. Hierna het sy haar visier gestel op ‘n BCom-graad in Ondernemingsbestuur, maar, met baie beperkte fondse het hierdie doelstelling buite haar bereik gelê.

Sy het haar tot Solidariteit Helpende Hand en die Virseker Trust gewend en aansoek gedoen om ‘n rentevrye studielening. Danksy die voortgesette ondersteuning van Virseker polishouers – wat ‘n porsie van hul maandelikse premies aan die Trust skenk – kon dié lening toegestaan word en studeer Ricke tans as eerstejaarstudent aan Akademia, ‘n wêreldklas, trots-Afrikaanse universiteit, terwyl sy ook deeltyds as junior boekhouer werk.

Ricke se kop het nog altyd in die besigheidswêreld se rigting gestaan en sy het onlangs ‘n sterk belangstelling in die finansiële bedryf – iets wat sy uitdagend en interessant vind - begin ontwikkel. Sy het dit vir haarself ten doel gestel om hard te werk en, oor die verstek van die volgende 10 jaar, ‘n loopbaan in hierdie bedryf te bou en sodoende vir haarself, haar geliefdes en ook vir ander ‘n beter lewe te kan skep.

Sy mik ook vir ‘n plekkie van haar eie waar sy gemaklik en veilig kan voel – een wat sy dalk ook met iemand spesiaal kan deel.

Sy glo sterk in waardes van eerlikheid, opregtheid, vriendelikheid, hulpvaardigheid en hardwerkendheid. Sy glo verder dat ‘n mens nie net daarop moet fokus om jou eie lewe en suksesse te bou nie, maar ook klem daarop moet lê om uit te reik na ander, hulle te motiveer, by te staan, te inspireer en te bemagtig - iets wat sy glo ook jou eie karakter bou en die geleentheid bied om lewenslange vriendskappe te smee.

Ricke beskryf haarself as hulpvaardig, kreatief, gedetermineerd, gedissiplineerd en avontuurlustig. Sy is ook iemand wat tyd inruim vir goeie balans en is mal daaroor om te teken en om te oefen, tyd saam met familie en vriende te spandeer en ‘n goeie boek, soos The Book Thief deur Markus Zusak,  te lees.

Haar raad aan jongmense wat uitdagende tye in hul lewens deur is, of tans trotseer: “Werk hard, moenie opgee nie maak nie saak hoe moeilik jou omstandighede is nie. Jy is altyd beter as jou omstandighede. Op die ou einde sal jou harde werk die moeite werd wees, jy sal die vrugte daarvan pluk.”

Virseker is ‘n produk van Auto & General Versekeringsmaatskappy Beperk, ‘n gemagtigde Versekeraar en Finansiele Diensverskaffer.

Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!