Let Wel

Ons Eerste Verjaardag

2 min lees tyd
Virseker trust 16 Januarie 2014 deur Virseker

‘n Onlangse peiling, wat op Facebook gedoen is, toon daar is beslis ‘n behoefte aan dienste wat in die kliënt se huistaal gelewer word. Dit bevestig die gedagterigting agter Virseker, Suid-Afrika se eerste versekeringsproduk wat op die Afrikaanssprekende gemeenskap gemik is en al sy versekeringsdienste – van die kwotasie tot die polis se ondertekening – in Afrikaans lewer.

 

Die peiling is met ‘n oorweldigende positiewe reaksie begroet en ondervraagdes het kommentaar gelewer soos: “Einde ten laaste, wanneer jy Afrikaanstalig is en in jou moedertaal bedien en gehelp word, praat dit met jou hart. Hoewel die gesegte reeds 'n cliché is en as gereelde bemarkingsfoefie gebruik word, bly dit nietemin waar: jou huis is (en hoort) waar jou hart is.”


“Sedert ons bekendstelling ’n jaar gelede het ons daarin geslaag om ’n beduidende getal polishouers te lok en ons is reeds ’n bona fide-speler in die hoogs mededingende korttermyn-versekeringsbedryf,” sê Ricardo Coetzee, woordvoerder vir Virseker. “Ons skryf ons sukses daaraan toe dat baie Suid-Afrikaners dit geniet om in Afrikaans, hul moedertaal, met ons te kan kommunikeer.”


Dis nie net Virseker se dienslewering wat hom onderskei nie, maar ook die werk wat deur die Virseker-trust, sy vleuel vir gemeenskapswerk, gedoen word.


Dirk Hermann, voorsitter van die Virseker-trust, sê: “ ‘n Persentasie van alle Virseker-polishouers se versekeringspremie word in die trust geplaas en dan aan opvoedkundige sake geskenk wat die Afrikaanssprekende gemeenskap na aan die hart lê. Vanjaar het die trust talle welsynsake gesteun, studente beurse oorhandig en onlangs ook R1 miljoen aan ‘n onderwysfonds geskenk. Die trust sal in samewerking met Solidariteit ook voortgaan met sy bydrae tot die bou van ‘n Afrikaanse tersiêre kampus van R150 miljoen in Waterkloof, Pretoria.”


Virseker se sukses word verder gerugsteun deur hoogs innoverende bemarking- en advertensieveldtogte waarin die wese van die Afrikaanssprekende gemeenskap in ‘n snaakse, maar ook opvoedkundige manier vasgevang word. Die veldtogte, wat Pendoring-benoemde advertensies en vennootskappe met gewilde Afrikaanse geleenthede soos die Buite-ekspo, konserte en plaaslik vervaardigde flieks insluit, het opnuut gewys hoe belangrik die gebruik van huistaal is wanneer daar met teikengehore gekommunikeer word.


“Die komende jare gaan gewis opwindend wees,” sê Coetzee. “Ons het nou ‘n stewige fondasie waarop ons kan bou en daar is geen twyfel Virseker sal van krag tot krag gaan in die lewering van dienste wat die waardes in ons bekende lokfrase “Jou versekering, jou mense, jou taal” weerspieël nie.”

Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!