Let Wel

Afrikaanse Lekkerleestoepassing

2 min lees tyd
Virseker trust 01 Februarie 2016 deur Virseker

Die Virseker Trust en die Instituut vir Christelike Onderwys (ICO) het onlangs kragte saamgespan in die ontwikkeling van ʼn splinternuwe toepassing vir slimfone wat leerders in Graad 4 tot 12 sal help om hul leesvaardighede te verbeter.

 

“Leesvaardighede is een van die kernaspekte van suksesvolle studie,” sê Saskia Meijer, Hoof Uitvoerende Beampte van die ICO, “Lees is nie meer ‘cool’ vir meeste leerders nie en is ook vir hulle baie tydrowend. Hulle hou van uitdagings en kompetisie en dié toepassing kombineer beide hierdie elemente in ʼn cool platform om hul leesvaardighede op ʼn prettige manier te verbeter.”

 

Die toepassing bestaan uit leesstukke wat volgens moeilikheidsgraad in 8 vlakke verdeel is. ʼn Graad 4 leerder behoort vlak 1 te kan doen. Vlak 8 het meer ingewikkelde leesstof wat ʼn Graad 12 leerder behoort te kan bemeester, maar wat ʼn sterk Graad 4 leerder ook interessant sal vind.

 

Elke vlak het 3 leesstukke wat enige iets van interessante, selfs humoristiese gedigte en resepte tot koerantberigte of tongknopers kan wees. Nadat elke stuk gelees is, moet leerders 3 vrae korrek beantwoord voordat hul na die volgende vlak kan beweeg. Leerders werk – vandat die stuk oopgemaak word totdat die vrae beantwoord is – teen tyd en moet veral hul visuele geheue en begripslees inspan as hul die vrae korrek wil beantwoord.

 

“Hierdie is net die begin,” sê Elmarie Twilley, woordvoerder vir Virseker, “Die toepassing is só ontwikkel dat daar uitbreidingsmoontlikhede is wat leerders later ook kan help met slim tydsbestuur en beter leefstylgewoontes. Die moontlikhede van dié tipe toepassings is feitlik onbeperk en skep baie opwindende vooruitsigte vir innoverende Afrikaanse onderrig – ʼn sleutel fokuspunt van die Virseker Trust.”

 

Die Virseker Trust het reeds meer as R10 miljoen in Afrikaanse onderrig belê en steun aan onder andere die Rapport Onderwysfonds, Akademia - ʼn blinknuwe Afrikaanse universiteit, die Vereniging van Afrikaanse Wiskunde-onderwysers, sowel as die ontwikkeling van Afrikaanse opvoedkundige toepassings (apps) verleen.

 

Die Virseker Trust ken ook jaarliks verskeie studiebeurse toe aan flink jong Afrikaanssprekendes wat menigmaal nie andersins verder sou kon studeer nie.

 

Die Studeer Sonder Sukkel Leestoepassing wat ontwikkel deur Limitless Virtual is, is nou gratis op die Google Play Store beskikbaar. Besoek https://play.google.com/store/apps/details?id=tech.livx.lees om die toepassing af te laai

Kyk na die video vir meer inligting

 

Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!