
Daar is ’n muur in Willowmore wat eens net deel van ’n verwaarloosde gebou was.
Vandag vertel dit ’n storie.
En dit is nie die enigste een nie.
Toe die RSG en Virseker Kultuurkaravaan Willowmore besoek het, het die span ’n gemeenskap ontmoet wat besluit het dat die toekoms van hul dorp nie net iets is waarvoor daar gewag moet word nie, dit kan saam geskep word.
Een van die dryfkragte daaragter is Revive Willowmore, ’n nie-winsgewende, gemeenskapsgedrewe beweging wat in 2023 ontstaan het met die doel om nuwe lewe, trots en geleenthede in die Karoodorp te skep.
RSG het tydens die Kultuurkaravaan met Veronica du Plessis en Amy Murray oor die projek en die werk wat in die dorp gedoen word, gesels.
Revive Willowmore se projekte sluit die herstel en verf van geboue en openbare ruimtes in, maar een van die mees sigbare simbole van die dorp se herlewing is sy muurskilderye. Wat met ’n enkele verwaarloosde muur begin het, het gegroei tot ’n Town of Murals-inisiatief wat Willowmore geleidelik in ’n opelug-kunsgalery omskep het. Die kunswerke beeld elemente uit die dorp se mense, geskiedenis, natuurlewe, landbou en Karoo-identiteit uit.
Vir Morné Van Emmenes, Senior Bestuurder by Virseker, verteenwoordig Willowmore presies die tipe storie waarna die Kultuurkaravaan gaan soek het. “Wat hier besonders is, is dat mense nie gewag het vir iemand anders om trots in hul dorp te kom skep nie. Hulle het besluit: hierdie is óns plek en ons kan self begin om dit anders te laat lyk en anders daaroor te voel.”
Volgens Revive Willowmore gaan die werk ook verder as verfraaiing. Die organisasie se langtermynfokus sluit vaardigheidsontwikkeling, werksgeleenthede, gemeenskapsdeelname, die bewaring van plaaslike erfenis en die herstel van gedeelde ruimtes in.
Die muurskilderye is ’n besonder treffende voorbeeld daarvan.
Van ’n koedoe teen die agtergrond van Aasvoëlberg tot Angorabokke wat Willowmore se verbintenis met die sybokhaarbedryf uitbeeld, word gewone mure gebruik om plaaslike stories te bewaar en vir besoekers én inwoners ’n nuwe manier te gee om die dorp te ervaar.
“Dit is maklik om aan kultuur as iets uit die verlede te dink,” sê Van Emmenes. “Maar wat Willowmore wys, is dat kultuur ook iets is wat vandag geskep word. “Wanneer ’n gemeenskap sy eie geskiedenis, mense en karakter op sy mure begin vaslê, sê hulle eintlik: ons storie is die moeite werd om vertel te word.”
Die Kultuurkaravaan se besoek aan Willowmore het ook plaaslike sporthelde en gemeenskapsorganisasies in die kollig geplaas, waaronder Ian Zaayman, Elmarie Erasmus en Phumza Ngxila, asook Vriende van Afrikaans.
Vir Virseker, as hoofborg van die Kultuurkaravaan, is dié stories ’n herinnering dat die behoud van taal en kultuur uiteindelik by mense begin.
“’n Gemeenskap word nie net deur sy geboue gedefinieer nie,” sê Van Emmenes. “Dit word deur sy mense en hul bereidwilligheid om iets beter agter te laat, gedefinieer. “Willowmore het vir ons gewys wat kan gebeur wanneer mense besluit om saam verantwoordelikheid vir die storie van hul dorp te neem.”