Let Wel

4 509 km, ses dorpe en die mense wat Afrikaans laat leef

2 min lees tyd
Perskamer 28 Oktober 2026 deur Virseker

Wat begin het as ’n reis op soek na Suid-Afrika se versteekte kultuurskatte, het ná 4 509 kilometer bevestig dat die land se grootste skatte dikwels nie plekke is nie, maar mense.


Met Virseker as hoofborg het die RSG en Virseker Kultuurkaravaan in September deur Suid-Afrika gereis om die mense, stories, kos, tradisies, ondernemings en gemeenskapsprojekte te ontdek wat dorpe hul unieke karakter gee.


Die reis het Heidelberg, Willowmore, Merweville, Fraserburg, Jacobsdal en Klerksdorp ingesluit voordat dit op 23 September met ’n spesiale regstreekse uitsending vanaf Virseker se hoofkantoor in Midrand afgesluit is. 


Teen daardie tyd het die Kultuurkaravaan presies 4 509 km afgelê, deur dwarswinde, gietende reën, sonskyn en grondpadbergpasse en, volgens RSG, “wonderlike dele van die land ontdek en herontdek” en uitsonderlike Suid-Afrikaners langs die pad ontmoet. 


“Ons het die pad gevat met die gedagte dat ons op soek is na besondere plekke en stories, maar hoe verder ons gereis het, hoe duideliker het dit geword dat dit die mense is wat hierdie dorpe besonders maak,” sê Morné Van Emmenes, Senior Bestuurder by Virseker.


“Jy ontmoet mense wat nie noodwendig dink dat dit wat hulle doen buitengewoon is nie. Hulle herstel ’n gebou, hou ’n plaaslike organisasie aan die gang, rig jong sportlui af, bewaar ’n dorp se geskiedenis of help eenvoudig waar daar ’n behoefte is. Maar wanneer jy al daardie stories saamvoeg, sien jy hoe gemeenskappe leef.”


Dit is presies wat die Kultuurkaravaan langs die pad ontdek het.


Op Willowmore het die span kennis gemaak met Revive Willowmore, ’n gemeenskapsgedrewe organisasie wat verwaarloosde ruimtes en geboue herstel en deur openbare kuns, waaronder ’n groeiende netwerk van muurskilderye, nuwe kleur aan die dorp gee. RSG het tydens die besoek met Veronica du Plessis en Amy Murray oor die projek gesels. 


Op Fraserburg het boerdery, onderwys en kultuur ineengevloei toe die span onder meer beleef het hoe ’n plaaslike toneelstuk temas soos die veld, klip, stilte, sonsondergange, reën en die werklikheid van boerdery gebruik het om die Karoo se leefwêreld uit te beeld. 


Jacobsdal het weer gewys hoe sentraal water is vir ’n gemeenskap se voortbestaan. Die Kultuurkaravaan het gehoor van ’n droogte van byna tien jaar wat letsels gelaat het, maar terselfdertyd nuwe denke aangewakker het. Die plaaslike waterskema het ’n belangrike rol in die ontwikkeling van die landboudistrik gespeel, waar saai-, pekanneut-, skaap- en beesboerdery deel van die ekonomie vorm. 


En in Klerksdorp het ’n opmerking die reis amper perfek opgesom: die dorp het dalk nie ’n berg, die see of ’n rivier nie, maar dit het “mense van uitstaande karakter”. RSG het onder andere met die internasionaal bekende spiesgooiafrigter Erich Wiese, asook Eljana en Louis Wiid van die Solid Ground-natuur- en aktiwiteitepark, gesels. 


“Vir Virseker was hierdie nooit net ’n geleentheid om ons naam aan ’n projek te koppel nie,” sê Van Emmenes.


“Ons handelsmerk het ’n lang verhouding met Afrikaans en sy gemeenskappe. Die Kultuurkaravaan het ons die geleentheid gegee om letterlik na daardie gemeenskappe toe te gaan, saam te kuier en te hoor wat vir hulle belangrik is. Dít is hoe ’n handelsmerk nader aan mense beweeg – deur eers te luister.”


Die veldtog het ook daarop gemik om iets tasbaars in die gekose gemeenskappe agter te laat. Elke gekose dorp het ’n regstreekse RSG-kuier ontvang, ’n plaaslike skool het ’n ATKV-Boektrommel ter waarde van R8 000 ontvang en elke dorp het R300 000 se RSG-lugtyd gekry om plaaslike toerisme te bevorder. 


Deur die Kiek die Karavaan-kompetisie kon luisteraars ook die reis volg en foto’s van die karavaan op Facebook deel vir ’n kans om R5 000 te wen. 


’n Kultuurkapsule het verder saamgereis en is by die dorpe aangevul met items wat iets van elke gemeenskap se identiteit en kultuur vertel. 


Vir Van Emmenes het die 4 509 km uiteindelik net een eenvoudige boodskap bevestig.


“Ons het vertrek op soek na versteekte skatte. Teen die einde het ons besef hulle was nooit werklik versteek nie. Hulle is in ons skole, op ons plase, in ons ondernemings, ons kuns, ons sport en in die mense wat elke dag besluit om iets vir iemand anders of vir hul gemeenskap te doen.


“Ons moes net die tyd neem om stil te hou en na hulle stories te luister.”

 

Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!