Let Wel

Geen berg, see of rivier nie – maar Klerksdorp het mense van uitstaande karakter

2 min lees tyd
Perskamer 28 Oktober 2026 deur Virseker

Klerksdorp het dalk nie ’n ikoniese berg, ’n see-uitsig of ’n rivier wat deur die middedorp kronkel nie.


Maar, soos iemand tydens die RSG en Virseker Kultuurkaravaan se besoek dit gestel het, die dorp het iets anders: Mense van uitstaande karakter.


Dit is ’n eenvoudige uitspraak wat uiteindelik een van die sentrale temas van die hele Kultuurkaravaan vasgevang het. Tydens die Klerksdorp-kuier het RSG onder andere Erich Wiese, ’n internasionaal gerekende spiesgooiafrigter, ontmoet, asook Eljana en Louis Wiid, wat Solid Ground, ’n veeldoelige natuur- en aktiwiteitepark buite die dorp, bedryf. 


Vir Morné Van Emmenes, Senior Bestuurder by Virseker, kon die opmerking oor Klerksdorp se mense amper as opskrif vir die hele 4 509 km lange reis gedien het. “Ons het op elke dorp iets anders gesien, maar die een konstante was mense,” sê Van Emmenes. “Mense wat hul talent deel. Mense wat iets bou. Mense wat ander leer. Mense wat geleenthede skep. Mense wat besluit dat waar hulle woon die moeite werd is om in te belê.”


Wiese se verhaal illustreer hoe kundigheid vanuit ’n plaaslike gemeenskap veel verder as ’n dorpsgrens kan strek, terwyl die Wiids se Solid Ground weer ’n ander manier verteenwoordig waarop mense ruimte skep waar ander kan deelneem, ervaar en saamkom. 


Dit is juis die tipe verhale waarna die Kultuurkaravaan vanaf die begin gesoek het.


Toe die veldtog geloods is, is luisteraars genooi om nie net bekende toeriste-aantreklikhede te benoem nie, maar die mense wat hul gemeenskappe dra – die koshelde, skeppendes, sportsterre, omgee-engele, skoolhelde en ander “verborge skatte”. 


“Ons het soms ’n baie eng idee van wat ’n dorp besonders maak,” sê Van Emmenes. “Ons dink dit moet iets wees waarvoor mense kilometers ry om ’n foto te neem. Maar wat gebeur as die grootste bate van ’n dorp eintlik sy mense is? “Die onderwyser wat ’n kind se potensiaal raaksien. Die afrigter wat jare lank kennis oordra. Die entrepreneur wat ’n idee in ’n onderneming verander. Die persoon wat bloot besluit dat daar iets vir die gemeenskap geskep moet word.”


Klerksdorp was die laaste dorpskuier voordat die Kultuurkaravaan se reis op 23 September by Virseker se hoofkantoor in Midrand afgesluit is. Die ses-dorp-reis het uiteindelik 4 509 km beslaan. 


“Teen Klerksdorp het ons reeds duisende kilometers gery en ongelooflike dinge gesien,” sê Van Emmenes. “Maar daardie opmerking, dat ’n dorp dalk nie ’n berg, see of rivier het nie, maar wel mense van karakter – het vir my baie van die Kultuurkaravaan opgesom.


“Plekke word uiteindelik deur mense onthou. En mense se stories is iets wat ons moet aanhou vertel.”

 

Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!