Let Wel

Vir seker 'n netbalspan om op trots te wees

2 min lees tyd
Perskamer 28 Februarie 2022 deur Virseker

Daar is baie waarheid in dié wysheid van Henry Ford: “Jy kan enige iets bereik as jy entoesiasme het. Entoesiasme is die gis wat iemand se hoop tot die sterre sal laat rys.”

 

Só is Lynette Veldtsman, ‘n eise-konsultant by Virseker se kantore in Kaapstad, ‘n persoon wat entoesiasme uitstraal nie net in haar werksomgewing nie, maar ook op die sportveld. En dit is veral in haar voorliefde vir netbal te bespeur, want haar toegewydheid tot dié sport sedert haar laerskooldae het geen keer nie.

 

Vandag is sy een van die dryfvere agter ‘n gemeenskapsnetbalspan in die Kaapse noordelike voorstede. As iemand wat doelgerig is, het Lynette haar span, waarvan die meeste van die tien lede almal ou skoolvriendinne is, vir die aksiebelaaide Quench 10’s-toernooi ingeskryf. Danksy ondersteuning van Virseker kon hulle in 2022 se toernooi, wat van 4 tot 6 Februarie plaasgevind het, deelneem.

 

“Netbal is my uitlaatklep en ‘n manier van ontspanning,” sê Lynette, wat al van laerskooldae netbal speel.

 

“Nie net is dit ‘n manier van afskakel na ‘n dag van werk nie, maar dit is ook my weeklikse oefening.”

 

Die Quench 10’s-toernooi is ‘n jaarlikse sportgeleentheid wat vanjaar weer op die velde langs die Kaapstad-stadion in Groenpunt plaasgevind het. Buiten netbal was rugby en “bok in die hok” (dodgeball) ook op die program.

 

Lynette, wat hoofdoelwagter is, se span het vanjaar vir die derde keer aan die Quench 10’s deelgeneem, en boonop kon hulle met talle Afrikaanse glansmense (met netbaltalent natuurlik!) soos Marciel Hopkins, Cintaine Schutte en Vicky Davis skouers skuur. 

 

Ongelukkig het die Virseker-span op die eerste dag van die Quench 10’s al drie hul wedstryde verloor, maar op die tweede dag het hulle na die semi-finale deurgedring voor hulle uitgeskakel is.

 

Maar hierdie span sien dit vir seker nie as ‘n nederlaag nie, want vir hulle gaan dit oor die samesyn, die plesier om as vriendinne tyd saam te spandeer en om op die netbalbaan van hul daaglikse sorge te vergeet.

 

“Ons passie vir netbal word nie deur wen of verloor bepaal nie, maar oor hoe dit ons as vriendinne bind...”

Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!