Let Wel

Vier Valentynsdag deur jul liefde vir mekaar te vier!

2 min lees tyd
Perskamer 10 Februarie 2023 deur Virseker

Wat is die beste geskenk vir jou geliefde op Valentynsdag? Dit gaan jou nie ’n dooie duit kos nie, want op dié dag is dit belangrik dat daardie spesiale mens in jou lewe weet jy is dáár, in die nou en in die oomblik. En nee, Ricus, dit beteken nie dis spesiaal om haar te nooi om jou bakkie te kom was nie. Al is die bakkie ook hoe bakgat.

Sit daardie lastige selfone af, haal diep asem en maak seker dat hierdie Valentynsdag nie net die internasionale dag van liefde is nie, maar dat dit ook ’n baie spesiale dag is om weer jul liefde vir mekaar te herbevestig. 

Daar is ’n ou gesegde wat lui: “Moenie die meeste waarde van ’n geskenk aan die koste daarvan heg nie, maar heg eerder waarde aan die liefde van mens wat daardie geskenk vir jou gegee het.” 

Dis ook hoe dit werk met Valentynsdag. Dit maak nie saak of jy eersteklaskaartjies Europa toe, of kwalik ’n buskaartjie stad toe kan bekostig nie. Wat saak maak, is die liefde. Dit is immers die grootste geskenk wat jy iemand kan gee . . .

Hier is ’n paar idees hoe jy met ’n bietjie voorbereiding vanjaar seker kan maak Valentynsdag is nie net nog ’n datum op die kalender nie. 

Ons het oor die algemeen ’n baie groot liefde vir die buitelug. En selfs al spandeer julle baie tyd saam buite met ’n gereelde braai of twee, kan jy die beste daarvan maak met ’n bietjie ekstra moeite. 

Of julle nou tuis is of elders in die natuur kampeer, is ’n kampvuur altyd ’n wenner. Kry ’n paar lanterns of stringetjies lig wat met batterye werk, en jy kan ’n lieflike atmosfeer skep. Gebruik byvoorbeeld glasbottels om die stringetjies lig in te plaas en rangskik dit rondom ’n piekniekkombers voor die kampvuur waar jy reeds ’n paar kussings en dalk selfs ’n gerieflike kampstoel of twee geplaas het.  

As julle tuis is, kan dit ure se pret verskaf om mekaar uit te daag om die ander een se gunsteling ete vir die aand te maak, al is dit hoe uiteenlopend. Maar jy het dalk 7 duime wanneer dit by kosmaak kom en dit tot nou toe vermy. Dis tyd om boedel oor te gee en die potte en panne nader te trek! Kook saam in die kombuis terwyl heerlike romantiese musiek in die agtergrond speel. 

Onthou jy nog waar julle mekaar die eerste keer gesoen het of besluit het julle gaan die pad vorentoe saam stap? Maak ’n okkasie daarvan deur iets spesiaal aan te trek, dalk selfs nog die klere, of iets soortgelyk, wat julle op daardie spesiale geleentheid gedra het. Blaas die pret in jul verhouding aan. Liefde hou ook van lag . . .

Rek die onthou nog verder uit deur later tuis weer na jul eerste fliek wat julle saamgekyk het, te kyk. Daardie is kosbare oomblikke en wanneer julle dit herbesoek, bevestig dit net weer eens waarom julle steeds gek is oor mekaar.  

As die weer saamspeel, kan jy pak vir ’n piekniek op ’n mooi plek. Maar as moeder natuur bietjie knorrig is, kan julle tuis in die sitkamer net so romanties wees met ’n piekniekmandjie en -kombers, yskoue vonkelwyn en natuurlik die regte musiek in die agtergrond. 

Terloops, ’n goeie idee is om ’n Spotify-speellys saam te stel met al die musiek wat in julle verhouding ’n groot rol gespeel het.

Speel toeris met jou geliefde in jou dorp of stad. Die kans is goed dat daar wel ’n paar juwele, hetsy argitektonies of histories, is wat wag om ontdek te word. Oorweeg dit selfs om vir ’n aand in ’n bekoorlike bed-en-ontbytplekkie in te boek, al is dit in dieselfde plek waar jy bly. 

Bederf mekaar met ’n wedersydse geskenk-uitdaging. Stel die perk op ’n bedrag van R100 vir elkeen van julle en kyk wat julle vir mekaar teen daardie bedrag kan aankoop. Dit kan enigiets wees – van ’n geliefde ou boek by ’n tweedehandse winkel of ’n gekke geskenk wat julle gaan laat skater van die lag. En draai dit toe met ’n spesiale liefdesbrief aan jou geliefde. 

Maak tyd en kyk na die sterre. As julle naby die see is, gaan swem of snorkel saam. As jy in die binneland naby water is, pak ’n piekniekmandjie vir op die oewer of kry ’n kano en hou piekniek op die water. Stel die wekker en sien saam die son opkom. En vertel mekaar wat julle in mekaar sien, waardeer en liefhet. Vier jul liefde!

Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!