Let Wel

Veiligheidswenke Vir Jou Afstandbeheerde Hek Of Motorhuis-Deur

2 min lees tyd
Perskamer 21 Augustus 2013 deur Virseker

Het jou motorhuis se deur al ooit sommer so vanself oopgegaan? Daar was ‘n hele paar onlangse verslae van mense wat perongeluk hul bure se hek, of dié van iemand anders in die omgewing, oopgemaak het met hulle afstandbeheer. So, hoe kan iemand die frekwensie of kode van jou hek of deur se afstandbeheer breek en toegang tot jou eiendom verkry?


“In Suid-Afrika is die frekwensie waarop meeste afstandbeheer-toestelle funksioneer 433.92 MHz, so dit kan gebeur dat, wanneer jou bure wat dieselfde tipe afstandbeheer as jy het ‘n knoppie op hulle toestel druk terwyl jou ontvanger in programmerings toestand is, hulle afstandbeheer aanvaar word vir toegang tot jou eiendom. In hierdie toestand , ‘luister’ die ontvanger vir geldige uitsendings en indien jou bure ‘n geldige knoppie druk word dit deur die stelsel aanvaar”, verduidelik Elmarie Twilley, woordvoerder van Virseker.


Diewe kan ook jou afstandbeheer se sein dupliseer. Later, terwyl jy nie tuis is nie, gebruik hulle dié sein om jou hek of deur oop te maak.


Richard Rohman van Centurion Systems verduidelik: “Dit is eintlik slegs moontlik met ouer, vaste-kode afstandbeheer stelsels waar die kode wat versend word nooit verander nie. Meeste nuwe versenders gebruik kode-hop tegnologie, wat beteken dat elke kode wat versend word heeltemal uniek is en verskillend is van die vorige kode. Dit maak dit feitlik onmoontlik vir misdadigers om die kode te dupliseer of te breek.”


Die nuwe generasie van ontvangers spog met funksies soos ‘Druk vir Drie Sekondes’-leer en ‘Dubbel Druk’-leer wat help om hierdie probleme aan te spreek. “Indien jou afstandbeheer rolkode-tegnologie het, sal die kode na elke gebruik verander. Dit maak enige ander afstandbeheer-toestelle behalwe joune nutteloos”, sê Twilley.


Hier is ‘n paar nuttige veiligheidswenke:

 

  • Maak seker dat jy slegs afstandbeheer-toestelle gebruik wat kode-hop tegnologie en enkripsie gebruik, aangesien dit heelwat veiliger is.
  • Wanneer jy jou outomatiese motorhuis-deur toemaak, hou die deur dop totdat dit 100% toe is om seker te maak dat niemand onderdeur glip nie.
  • Kontak ‘n sekuriteitsmaatskappy en span hulle in om jou te help om ‘n nuwe, veiliger stelsel op te stel.
  • Hou jou afstandbeheer-toestelle veilig. Dit sluit in om nie kinders daarmee te laat speel nie en so te voorkom dat iemand dit steel.
  • Wanneer jy jou motor buite jou motorhuis parkeer, maak dubbel seker dat jy dit sluit sodat potensiële inbrekers nie toegang tot jou afstandbeheer, en later jou motorhuis, kan verkry nie.

 

Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!