Let Wel

Vakansie-kykgenot wat jy in pront Afrikaans kan stroom

2 min lees tyd
Perskamer 08 Desember 2022 deur Virseker

Wanneer fliekNET, Showmax en Netflix ter sprake kom, kan jy maar naderstaan vir uitstekende vermaak wat op jou wag. Jy gaan saam lag, saam huil en soms benoud raak – dis net die regte medisyne om ’n taai jaar mee af te sluit...

’n Gunsteling onder fliekflooie keer terug: kykNET se opwipkanaal, fliekNET (DStv-kanaal 149), gaan jou van 16 Desember tot 15 Januarie bederf met ’n keur van Afrikaanse flieks.

fliekNET

  • Magda Louw (Desiré Gardner) gee jou ’n goeie idee rondom die lewe van ’n middeljarige Afrikaanse vrou. En hoe gaan sy haar jaarlikse besoek aan die ginekoloog verwerk? Hou hierdie een op jou lysie want vanaf 2 Januarie ontpop Magda as ’n komediereeks op kykNET.
  • Die fliekweergawe van Dalene Mathee se roman Toorbos was slegs die tweede Afrikaanse fliek wat vir die Oscars gekies is. Die fliek handel oor Karoliena Kapp (Elani Dekker) wat in die 1930s uit haar bosgemeenskap in die Knysna-woude ontwortel word.
  • Vir ’n tikkie nostalgie is daar ’n paar klassieke Afrikaanse flieks waaronder Boetie gaan border toe (Arnold Vosloo), Tant Ralie se losieshuis (Wena Naudé), Lokval in Venesië (Gé Korsten) en Lord Oom Piet (Jamie Uys).

SHOWMAX

  • Donkerbos, ’n Afrikaanse misdaadreeks, gaan jou aan die keel beetkry en nie maklik laat los nie. ’n Speurder (Erica Wessels) moet haar eie donker verlede en ’n gekompliseerde gemeenskap trotseer om te keer dat ’n sewende kind se lewe geneem word.
  • Hoe gaan die 38-jarige Frans (Tim Theron) die pad vorentoe aanpak ná hy soos ’n warm patat voor die kansel gelos is? Vir die tweede keer . . . Klein Karoo II is ’n opvolgfliek wat beslis die kyk werd is.
  • Wat beteken familie vir jou? Liewe Kersfeesvader (Mila Guy) vertel die verhaal van ’n tiener-skoonheidskoningin se interaksie met haar eksentrieke pa en ’n broer wat maklik beínvloed word. En natuurlik . . . ’n nuwe romanse.
  • Daar’s natuurlik ook vermaak vir die kleinspan. Lollos Mallemeule borrel oor met musiek en dans en is gewaarborg om ’n groot gunsteling te wees. En kort voor lank gaan ouers ook saamdans en -sing.

NETFLIX

  • ’n Meubelmagnaat, Ludik, (Arnold Vosloo) moet sy geheime dwelmsmokkelnetwerk inspan om vuurwapens oor die grens te smokkel in ’n poging om ’n ontvoerde familielid te red. Dit is ’n oortuigende misdaaddrama met hope skop, skiet en veel meer.
  • Trek jou snesies nader vir ’n emosionele wipwarit genaamd Raaiselkind. Wanneer ’n negejarige outistiese seun dood in die bad gevind word, word sy ma, Ingrid (Diaan Lawrenson) van moord verdink.
  • Dominee Tienie (Frank Opperman) bereik ’n kruispad in sy lewe wat sy huwelik, sy loopbaan en sy geloof op die proef stel. Dit is ’n lieflike verhaal van ’n man se reis om weer die lig te word wat hy voorheen vir almal was.

 

Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!