Let Wel

Top-20 boeke vir die leeslustiges en vrye geeste

2 min lees tyd
Perskamer 06 Desember 2022 deur Virseker

Wat kan dan nou lekkerder wees om ná ’n woelige jaar deur boeke verlei te word? Of om heerlike saamkuier-resepte te beproef? Jong lesers kan gerus ook naderskuif.

VYF LEKKERLEESBOEKE

Hier is ’n heerlike allegaartjie vir jou tot oorlopens gelaai met al die bestanddele waarvoor jy kan wens: Van ’n spanningsverhale wat jou met natgeswete handpalms gaan laat tot heerlike reisstories oor ons land en sy mense. En natuurlik skuil daar ook iewers diep familiegeheime tussen die bladsye wat jou gaan boei tot op die einde . . .

1. Gifbeker deur Irna van Zyl (Penguin Random House, R290)
Speuradjudant Storm van der Merwe is daar toe ’n gehate kosblogger die middag in ’n spoggerige restaurant dood neerslaan. Wie is besig om moord op te dis?

2. Onder een dak deur Dana Snyman (NB Uitgewers, R260)
Dana Snyman deel sy 100 gunstelingstories wat strek van ou familiestories, reisverhale uit sy Weg!-dae en ware lewensdrama uit sy Huisgenoot-dae, tot intieme verhale uit sy meer onlangse werk.

3. Mara deur Marida Fitzpatrick (NB Uitgewers, R295)
Oor net twee dinge is Rakie Bouwer seker: Haar broer is as kind dood, en sy moet uitvind hóé. Die soektog stuur haar op verborge paaie na haar verlede – waar familiegeheime gevaarlik lê en skuil.

4. Een vir een deur Peet Venter (Lapa Uitgewers, R270)
Kaptein Fritz Hartzer ondersoek die moorde op invloedrykes in Gauteng se georgianiseerde misdaad. Ook binne misdaadbaas Don Knox se kringe is roeringe.

5. Marilyn deur Chanette Paul (Lapa Uitgewers, R350)
Omring met haar geliefde vywervroue, weet Marilyn sy is ’n kaivrou, die waterwese wat mans en kinders die dieptes intrek en verdrink.

VIR JONGER LESERS (6-12)

Maak seker die jongspan gaan hierdie vakansie die genot van lees nog verder ontdek. Daar’s vrolike verhale, skrikkerige verhale, ’n lekkerlees-spanningsverhaal vir tieners, ruimtefiksie en ook ’n stewige reeks wat oor niefiksie handel.

1. Wie skrik vir Wortel Wolf? Deur Leon-Ben Lamprecht & Nicolene Louw (NB Uitgewers, R150)
Die bekende sprokies Die drie varkies, Rooikappie en Die seun wat Wolf! geskree het word in hierdie beginnerleesboek op hulle kop gekeer. Wortel, die vegetariese wolf, is die hoofkarakter in al drie verhale.

2. Sneeuman-swem deur Luan Serfontein & Fanie Viljoen (Lapa Uitgewers, R145)
Op die skool se swemtoer breek die bus. Padda, Wayde en Trish moet hulp gaan soek. Maar ’n afskuwelike sneeuman is op hulle spoor. En hy soek die een met die yskoue hart . . . om op te vreet!

3. Vind uit! Kodering (Lapa Uitgewers, R160)
Dié reeks help kinders om kenners op die gebied van hul gunsteling-niefiksietemas te word. Daar is ses versamelbare titels in die reeks: Wetenskap, Aarde, Kodering, Ingenieurswese, Haaie en Robotte.

4. Speurder Sammi deur Crystal-Donna Roberts (NB Uitgewers, R140)
Sammi is 13 en bly saam met haar tannie Valerie, ’n kunstenaar. Sal sy vir Dedda en Oumie kan help as die slymerige George sy flikkers kom gooi?

5. Z-A-K: Die geheime van Zenkion deur Theresa van Baalen (Lapa Uitgewers, R180)
Die lang reis na die planeet Zenkion is uiteindelik verby, maar vir Mitch Wilson is dit ’n antiklimaks omdat sy beste vriend, Lionel, dit nie saam met hom tot op Zenkion gemaak het nie.

NIE-FIKSIE MET OEMF!

Alhoewel die ouer garde meer bekend is met die OK Bazaars, gaan die boek oor Whitey Basson verskeie generasies boei. Dis ’n suksesverhaal soos min. Veral gedurende die feestyd kan geldsake baie spanning veroorsaak en Theo Vorster se doenbare raad mag dalk tot jou redding kom.

Dwelmmisbruik en depressie is twee groot en diep slaggate in vandag se gemeenskap. Stap die uitdagende pad saam met Lindie Stander en hoe sy hoop gevind het.

Hoekom loop dinge so skeef in die pragtige Stellenbosch met die een na die ander opspraakwekkende moord? Die gesoute joernalis Julian Jansen is ’n raakvatter met nuwe feite en stewige onderhoude met geliefdes.

Johannes de Villiers se boek is ’n kragtoer wat gewone mense wat deur die lewe platgevee is, ook ’n stem gee.

1. Whitey: Sakereus van Shoprite deur Niel Joubert (NB Uitgewers, R330)
Whitey het ’n legende geword toe hy die sukkelende OK Bazaars vir R1 gekoop het. Van ’n paar klein winkels het hy Shoprite in Afrika se grootste kleinhandelaar omskep.

2. Jou Geldsake: Hou kop in onseker tye deur Theo Vorster (Tafelberg Uitgewers, R270)
Krisistye laat baie mense moedeloos en vuisvoos, maar dit hoef nie. Die ekonoom Theo Vorster gee raad oor hoe om jou geldsake te bestuur sodat jy dit kan oorleef.

3. Agter my glimlag deur Lindie Stander (NB Uitgewers, R290)
In haar rou stem vertel die Binnelanders-aktrise haar hartverskeurende maar tog hoopvolle verhaal soos net sy kan – sonder skroom en met ’n goeie skeut humor.

4. Moord op Stellenbosch: Twee dekades se skokverhale deur Julian Jansen (NB Uitgewers, R295)
Opspraakwekkende moorde uit Stellenbosch het die land geskok. Julian Jansen praat met familie en vriende van die slagoffers, kry toegang tot geslote polisiedossiere en onthul nuwe inligting.

5. Meer as jou seerkry deur Johannes de Villiers (NB Uitgewers, R290)
Hoe gaan jy aan as jy beroof is van die lewe wat vir jou kosbaar was? Die insig wat Johannes de Villiers verwerf het toe sy eie lewe uitmekaar geval het, is die inspirasie vir hierdie boek.

KÓÓK, AFRIKAANS

Terwyl die algemene indruk heers dat Suid-Afrikaners net kan braai, is daar skitterende bestaande en opkomende sterre wat dit ’n stewige kishou toedien. Hierdie keur van kosboeke dek feitlik elke aspek van ’n feesmaal en klein proesels – of dit nou tradisioneel of met ’n nuwe kinkel is. En dis meer as net resepte. Elkeen getuig van die sjef se weergalose passie vir kos, liefde vir mense en treffende stories oor die ontstaan van hul disse. Moenie verbaas wees as jy een van hierdie kosboeke optel en dit soos ’n roman begin lees nie.

1. Brood & Botter: ’n Lewe van kook deur Nic van Wyk (NB Uitgewers, R425)
Nic se onopgesmukte restaurantkos gaan jou verras met dieplekker geurkombinasies en sy hartskos weerspieël sy voorkeur vir eerlike kos sonder fieterjasies.

2. Huiskos deur Herman Lensing (Penguin Random House, R390)
Huiskos bevat meer as 80 resepte, van ontbyt tot hoofgeregte, van bykosse tot vleisgeregte, van koeke, koekies en beskuit tot nageregte. Elke hoofstuk weerspieël Herman se liefde vir kos en vir mense.

3. Lekker & Goed deur Carmen Niehaus (Lapa Uitgewers, R320)
Dit is ’n lekker-eet-boek met ou bekendes en nuwelinge wat gesonder gemaak is om steeds heerlik te kan eet sonder om skuldig te voel – net soos Carmen aan huis eet.

4. Oor die kole deur Martelize Brink (NB Uitgewers, R420)
Oor die kole is ’n om-die-vuur-kosboek met resepte vir elke okkasie in die buitelug: van ’n boere-ontbyt of kaalvoet-kuier om die braaivuur tot ’n fynproewer-feesmaal met dekadente soetgoed.

5. Smulkos deur Esther Malan (NB Uitgewers, R310)
Daar’s ou bekendes: worsies, hoender, mieliebrood, vlakoekies . . . Maar Huisgenoot-lesers wat Esther se weeklikse resepte ken, weet dat daar niks alledaags aan dié slim kok se disse is nie.

Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!