Tien vrae aan Elders se Erns

 

In die jongste seisoen van Erns Grundling gewilde kykNET-reisprogram, Elders, is Namibië die fokuspunt. Virseker het met Erns, wat ook ‘n joernalis en skrywer is, gesels. 

1. Hoekom moet mense reis of plekke gaan verken?

Die digter Mary Oliver het geskryf: "What is it you plan to do with your one wild and precious life?" Ek dink reis is 'n wonderlike manier om te ontspan, maar ook om jou gemaksone te verlaat. Om jou horisonne te verbreed gaan nie noodwendig van jou 'n beter of slegter mens maak nie, maar dit kan van jou 'n ander mens maak. Vir my gaan reis ook daaroor om ander mense en kulture (en kos!) te verken, en ondanks die verskille ook ons almal se gedeelde menslikheid raak te sien. 

2. Wat was die eerste buitelandse bestemming wat jy in jou lewe besoek het en wanneer was dit?

Namibië voel soms soos 'n tiende provinsie van Suid-Afrika, maar wat 'n eerste stempel in my paspoort betref was dit juis nogal Namibië. In Desember 2002 het ek en 'n vriend met 'n man van Kampsbaai se Land Rover gery - al die pad van Kaapstad tot Windhoek, en toe teruggevlieg. Dit was 'n impulsiewe avontuur en ek sal nooit daardie eerste sonsopkoms aan die ander kant van Noordoewer vergeet nie - die magiese landskap en die ooptes in alle windrigtings. Buitelands, soos in oorsee, het ek die eerste keer in September 2003 beleef, toe ek na Seoel in Suid-Korea gevlieg het om by my vriend Toast Coetzer te gaan kuier. Interessant genoeg is Toast 'n gas in Episode 8 van Elders: Namibië. Kykers sal moet wag om te sien of ons by die baken bo-op Brandberg, Namibië se hoogste berg, uitkom. 

3. Snaakste staaltjie of oomblik van een van jou reise?

Ek het in 2008 baie impulsief (weer eens) na Engeland gereis om vir Leonard Cohen - toe reeds 76 jaar oud - te sien optree by 'n groot musiekfees, The Big Chill. Ek is 'n baie groot aanhanger van Leonard Cohen (hoewel hy oorlede is, verwys ek steeds na hom in die teenwoordige tyd) en kon nie my geluk glo om 'n fotograaf-pas te kry vir die eerste liedjie van sy konsert, "Everybody Knows", nie. Ek het daar gestaan tussen professionele en beroemde fotograwe en verwoed met 'n Nikon SLR-kamera (by my einste vriend Toast geleen) gestaan en foto's neem, maar ook seker gemaak ek kyk nie slegs deur die kamera na Cohen wat basies 'n meter van my af gestaan en sing het nie. Ek het basies glad nie geweet hoe om 'n SLR-kamera te gebruik nie, en het eers ná die tyd gesien dat AL my foto's heeltemal uit fokus geneem was, behalwe een, wat so half uit fokus was. Dit is seker nie so snaaks nie, maar ek lag steeds as ek daaraan dink. Die oomblik was eenvoudig te groot. In die jare daarna het ek gelukkig geleer om behoorlik foto's te neem! 

'n Meer onlangse staaltjie: Op ons eerste produksiedag van Elders: Namibië vroeër vanjaar het ek my een groot reistas - waarin verskeie belangrike en duur items was - in die parkeerterrein buite die hotel in Upington vergeet. Genadiglik het iemand dit betyds gevind en na die hotel se ontvangs geneem. (Ek sou dit later met 'n wye draai weer in Walvisbaai in ontvangs neem.) Op daardie einste eerste dag het ek die middag buite Springbok 'n lid van die kameraspan afgelos en weggetrek in die luukse Land Cruiser Prado wat Toyota SA vir ons gegee het. Op daardie stadium was ek nog besig om gewoond te raak aan die outomatiese voertuig, en in plaas van petrol trap ek toe die briek, want ek wou "ratte" verwissel het! Dit het tot gevolg gehad dat die twee kameramanne (en hulle kameras) byna by die voorruit uit is, en ons tweede voertuig - 'n Hilux-bakkie, wat reg agter my was - byna teen ons gebots het. Dit sou 'n absolute tragedie gewees het en waarskynlik die hele reeks gekelder het nog voor ons Namibië bereik het... Dit is ook seker nie eintlik snaaks nie, en die res van die span was nie dik van die lag nie, maar ons het almal later baie lekker gelag oor die hele insident. Ons het toe met 'n stel reëls vir die reis begin. Reël 1: Moet nooit die Prado se clutch trap nie, want hy het nie een nie... 

4. Wat is die grootste krisis/teëspoed wat jou al getref op een van jou reise?

Ek was baie gelukkig om in al my reise sover werklike groot krisisse vry te spring. Pap wiele en planne wat skeefloop en bagasie wat iewers vergeet word tel nie as krissise nie. Maar toe ek en my vrou Catharien (ons was toe nog nie getroud nie) in September en Oktober 2019 die Rugbywêreldbeker in Japan bygewoon het, het Tifoon Hagibis die hoofstad Tokio getref. Die hele metropolitaanse gebied van meer as 37 miljoen mense (die grootste op die planeet) het in afwagting van die tifoon tot stilstand gekom en basies almal was in hulle huise. (Dit was nog voor die pandemie en inperkings...) Van die Rugbywêreldbeker se wedstryde was gekanselleer en ons het in 'n hotel gebly en wag vir die groot storm. Dit was nogal vreesaanjaend en die storm was baie intens - die sterkste wind en meeste reën wat ek al beleef het. Die feit dat 'n aardbewing van 5.7 op die Richterskaal Tokio laat skud het terwyl die tifoon op sy ergste was het dinge nie makliker gemaak nie. Die volgende oggend was die lug egter helder blou en die wind stil, en die stad het stadig ontwaak en begin terugkeer na normaal. Hierdie storie het 'n gelukkige einde: ons kon 24 uur na een van die grootste storms in dekades in Tokio in 'n vol stadion kyk hoe Japan vir Skotland wen en vir die eerste keer kwalifiseer vir die Rugbywêreldbeker se kwarteindrondte. Die atmosfeer was elektries. 

5. Wat is jou moet-hê item wat jy altyd saamneem as jy op reis gaan?

Dit is seker maar taamlik vervelig en voorspelbaar, maar deesdae maak ek seker ek onthou my selfoon, maar self meer belangrik: genoeg laaiers en kabels. Ek kan nogal vergeetagtig wees en dikwels 'n laaier by die huis vergeet, of slegs een kabel en dit dan iewers verloor, wat dit dan moeilik maak om my foon se battery te herlaai as ek iewers ver in die boendoes is. So ek maak seker dat ek ten minste een draagbare laaier by my het, en ten minste twee ekstra kabels. Natuurlik geniet ek dit die meeste om heeltemal sonder 'n selfoon te reis, of dit vir lank af te skakel of in "Airplane Mode" te hou, maar dit is nie altyd prakties moontlik wanneer ek vir werk of projekte reis nie. Wat staptoerusting betref is die volgende items vir my absoluut ononderhandelbaar : 'n waterbottel (of twee), 'n ligte maar goeie reënbaadjie, 'n ligte maar warm fleece top en 'n kopliggie. 'n Mens moet nooit sonder 'n kopliggie in die berge gaan stap nie, want jy weet nooit wanneer slegte weer of donker jou dalk kan oorval nie. (Natuurlik het selfone ook deesdae 'n goeie flitslig.) 

6. Van al die plekke waar jy al was, watter een het vir jou die mooiste herinnering gegee en hoekom?

Sjoe, hierdie is so moeilik om te antwoord. Dit laat my dink aan iets wat ek Deon Maas op 'n keer hoor sê het by die musiekfees Oppikoppi. Iemand het vir hom gevra: "Watter een was jou lekkerste Oppikoppi?" Hy antwoord toe dadelik: "Hierdie Oppikoppi." Met ander woorde, die een wat hy in die oomblik bywoon is vir hom die lekkerste. Ek probeer ook so na bestemmings en reiservarings kyk. Die een waarin ek myself bevind is gewoonlik die lekkerste! So as ek nou terugdink aan my mees onlangse lang reis na Namibië toe ons Elders: Namibië geskiet het, was daar soveel mooi herinneringe. Een wat uitstaan: Die gin wat ek teen sononder by 'n rooskwartsmyn saam met Dolf de Wet van die plaas Mickberg en Die Withuis Gastehuis in die suide van Namibië geniet het. Dit was kort ná baie goeie reën in die suide van Namibië, wat 'n jare lange droogte gebreek het. Die veld was welig en Dolf was sielsgelukkig. Dolf en sy vrou Kinna lê my na aan die hart, die Withuis is 'n gunstelingplek vir my in die suide. Die sonsondergang was 'n ontploffing van skakerings van pienk, pers, rooi en oranje, en dit was kosbare oomblikke saam met Dolf. Min het ek geweet dit is ons laaste skemerkelkie saam. Hy is enkele maande later, en slegs 'n paar dae voor daardie episode uitgesaai het, oorlede aan komplikasies van Covid-19. Ons het die eerste episode aan hom opgedra. 

7. Waarheen sal jy graag wil gaan, waar jy nog nie was nie en hoekom?

Ek sal baie graag eendag 'n Elders-reeks in Suid-Amerika wil gaan skiet, spesifiek in Patagonië, die gebied in beide Chili en Argentinië. Die landskap lyk betowerend, daar is baie staproetes en gletsers en 'n woestyngebied en daar is ook nog nasate van die Suid-Afrikaners wat kort ná die Anglo-Boereoorlog soontoe verhuis het. Die kombinasie van natuurskoon, staproetes, stories, karakters en geskiedenis klink vir my na 'n vanselfsprekende Elders-reeks in die toekoms. 

8. Wat is jou gunsteling bestemming in Suid-Afrika?

Hierdie klink nou vreeslik, en ek kan nou lang paragrawe skryf oor plekke soos Natures Valley in die Oos-Kaap, die Bakkrans Natuurreservaat in die Cederberg, rustige Elandsbaai langs die Weskus of die Krugerwildtuin, maar aangesien ek so baie reis is my gunsteling bestemming in Suid-Afrika my rusbank in ons huisie in Brooklyn, saam met my vrou Catharien en ons twee honde, Suki en Mika. Dit is vir my baie kosbaar om gehaltetyd met hulle te kan spandeer. Behalwe vir die rusbank, is stap saam met Catharien en die honde in Newlands Forest 'n groot gunsteling. Die honde is op hulle gelukkigste daar. Ek en Catharien ook. 

9. Wat moet eendag op jou grafsteen staan?

Die rus is elders.

10. Wat is vir jou die lekkerste Afrikaanse sêding of woord?

Ek hou nogal daarvan om 'n uitgestrekte landskap wat my werklik beïndruk 'n "onpeilbare vista" te noem. Ek hou van die woord "onpeilbaar". Die meeste dinge, veral die wat saak maak, is vir my onpeilbaar.