Let Wel

Ons sport, ons trots

2 min lees tyd
Perskamer 17 Maart 2017 deur Virseker

Dis geen geheim dat die liefde vir sport diep deur Suid-Afrikaners se are loop nie. Jou span is jou span, en die res is almal verkeerd. Dit is ook ‘n teer sakie as jou outjies die dag verloor. Een ding is seker – sport kan vreemdelinge bymekaar bring en families verdeel!

Ons land het ‘n redelike jong sportgeskiedenis, maar ons het al dosyne internationale titels verower. Ons spog die graagste met ons twee rugbywêreldbekertitels. 

Rugby

Rugby is verseker baie populêr. Elke wedstryd staan ons hand op die bors, of langs die veld en skree. Die ‘manne’ is al soos goeie vriende, en die kompetisie onder mekaar raak soms wild. Maar wanneer dit by die Bokke kom, staan ons saam. En ons huil sommer wanneer die kaptein die beker lig. Wie kan nou vergeet hoe Percy ons in 2007 deurgedra het met sy skopskoen? Hoendervleisoomblikke.

Behalwe vir die Wêreldbeker, het ons ook al 3 Drienasie-bekers gewen.

Krieket

Ons mense is ook groot krieketliefhebbers. Of dit nou ‘n toets- of eendagwedstryd is, ons span graag uit op die gras en raak heeltemal gek as die bal tussen ons beland. Die Proteas maak ons soms benoud (en ja, ons praat van daardie Allan Donald-oomblik), maar ons sal altyd wit-streep-oor-die-neus aanhou krieket kyk. Ons trotste oomblikke in Suid-Afrikaanse krieket sluit in toe ons in 2012 as die beste span in toetskrieket aangewys is en, in dieselfde jaar, ook die eerste span geword het om die hoogste rang in toets-, eendag en T-20-krieket te behaal.

Gholf

Jy is dalk nie 100% seker wat ’n “bofperk” is nie, maar jy weet hierdie ouens maak groot geld. Gholf is nóg ‘n groot gunsteling onder Suid-Afrikaners. Waar was jy toe Bobby Locke die eerste Suid-Afrikaner was om die Britse Ope te wen? Miskien was jy by die 19de putjie… Meeste van ons was nog nie eers gebore nie! Vandag spog ons met ‘n hele klomp talentvolle spelers – Charl Schwartzel, Louis Oosthuizen, Retief Goosen, Trevor Immelman – om net ’n paar te noem.

Swem

Ons is net so goed in die water soos op die veld. Swemsport is baie gewild in SA, veral vandat die hartebrekers Ryk Neethling en Chad Le Clos hulle verskyning gemaak het. Maar, in 1996 al het Penny Heyns vir ons by die Olimpiese Spele gewys hoe maak mens! Nie te vergeet van Natalie du Toit wat in 2002, slegs ’n jaar ná haar been afgesit is, al by die Statebondspele branders gemaak het nie.

Daar is ‘n baie lang lys van sportsoorte waarin ons nóg uitblink, ondermeer netbal, atletiek, fietsry en tennis. En ons sportvelde bring gereeld nuwe talent na vore.  Nee wat, ons mág maar trots wees!

Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!