Let Wel

Leer hoe om jou band te ruil met die 13 stappe

2 min lees tyd
Perskamer 17 November 2021 deur Virseker

Om ‘n band te ruil klink soos iets wat almal behoort te kan doen, maar baie mans en vroue maak steeds staat op barmhartige Samaritane of wag vir padbystanddienste om te kom help – soms met rampspoedige gevolge. Dis absoluut noodsaaklik, moontlik lewensbelangrik, om te weet hoe om jouself weer terug op die pad te kry indien dit nodig is.

‘n Meningsopname, wat deur Kwik Fit in die VK gedoen is, het bevind dat 38% van motorbestuurders van 18-34 jaar oud nie ‘n band kan omruil of ‘n voertuig se lekplekhersteltoerusting kan gebruik nie. ‘n Ander opname het onthul dat 52% van mans erken dat hulle sal verby hou as hulle ‘n vrou wat met ‘n pap wiel gestrand is teëkom – afgesien van die feit dat hulle sal skuldig voel daaroor. Die opname het ook bevind dat jonger mans meer huiwerig is om te stop omdat hulle te min van basiese voertuigonderhoud weet. Die situasie in Suid-Afrika kan moontlik baie dieselfde wees. 

“Dit maak dit net meer noodsaaklik vir alle padgebruikers om te weet hoe om ‘n band om te ruil,” sê Ricardo Coetzee, woordvoerder van Virseker. “Jy kan nie altyd wag vir iemand om jou te help nie, omdat dit jou kwesbaar maak vir misdade soos rowe, kapings of erger. Dis eintlik baie eenvoudig om ‘n band te ruil en neem slegs ‘n paar minute met genoegsame kennis en die regte gereedskap.” 

Virseker bied die volgende riglyne om ‘n band binne ‘n japtrap te ruil:

1. Wees voorbereid: Maak seker dat jy nooddienste en jou versekeraar se nommers byderhand het. Hê ook ‘n veiligheidsdriehoek, flitslig, basiese gereedskapstel, draagbare domkrag (“jack”) en ‘n opgepompte spaarwiel gereed, sowel as ‘n gepaste moersleutel om die wiele van jou voertuig los en weer vas te maak. (Indien jou voertuig nie ‘n spaarwiel het nie, maar lekplekhersteltoerusting gebruik, maak seker dat jy weet hoe dit werk, aangesien dit wissel van een vervaardiger na ‘n ander.) Dis ook slim om handskoene en ‘n reflekterende baadjie byderhand te hou. 

2. Stop slim: Wanneer ‘n wiel pap word of bars, probeer om in ‘n veilige area te stop waar jy ver van bewegende voertuie is en duidelik sigbaar is vir aankomende verkeer. Probeer om op gelyke grond te parkeer. Indien jy teen ‘n op- of afdraande gestrand is, draai die wiele na die sypaadjie of ander voorwerp wat die voertuig kan stuit om te verhoed dat dit wegrol. Aktiveer die handrem, sluit die voertuig af en sit dit in rat. Outomatiese voertuie kan in drive gelaat word.

3 .Word gesien: Haal jou nooddriehoek uit en plaas dit sowat 45 tot 50 meter agter jou voertuig om ander bestuurders te waarsku en hulle genoeg tyd te gee om te reageer. As jy op ‘n draai gestrand is, is dit slim om dit selfs verder terug te plaas.

4. Hou ‘n ogie uit: Maak seker dat jy gereëld om jou rondkyk vir verdagte individue of ander moontlike bedreigings.

5. Kry die domkrag in plek: Plaas die domkrag onder die voertuig. Hoewel dit wissel, het meeste voertuie domkragpunte, waar die onderstel sterk genoeg is om die gewig te dra, aan die onder-sykant van die voertuig - net agter die voorwiele en net voor die agterwiele. Maak seker dat die domkrag op soliede, harde grond is wat nie sal meegee nie. Verstel die domkrag só dat dit aan die onderkant van die voertuig, sowel as die grond raak, m.a.w. net voordat dit die voertuig sal begin oplig. Moet nog nie die voertuig begin opdomkrag nie – die domkrag dien op hierdie stadium net as ‘n noodstut.

6. Maak los, maar net genoeg: Verwyder die doppies wat die wielmoere beskerm (indien jou voertuig dit het) en maak die moere los. Meeste wielmoere maak antikloksgewys los, tensy hulle ‘n “L” ophet en kloksgewys losmaak. Dit mag dalk aansienlike inspanning verg, wat normaal is. Moenie die wielmoere heeltemal losmaak nie – net tot op die punt waar jy hulle gemaklik met een hand en die moerlsleutel kan draai.

7. Domkrag op: Sodra die wielmoere los genoeg is, kan jy die voertuig begin opdomkrag – nie te hoog nie, want hoe hoër jy dit lig, hoe hoër sal jy die spaarwiel moet optel om dit in plek te kry. Een of twee vingers spasie tussen die ou band en die grond behoort genoeg te wees. 

8. Wielmoere uit: Draai die wielmoere heeltemal los en haal die ou wiel af. Maak seker dat jy die moere op ‘n veilige, skoon plek hou. 

9. Vervang: Kry die spaarwiel – dit sal waarskynlik in die kattebak of onder aan die agterkant van die voertuig vas wees met ‘n maklik-verwyderbare skroef, slot of ketting – en pas dit waar die ou wiel was. Daar sal waarskynlik merkies op die band self of op die wiel wees om te wys watter kant na die voertuig toe, en weg van die voertuig af, moet wys, en/of in watter rigting die wiel moet draai sodra dit vas is. 

10. Maak liggies, dan stywer vas: Maak die moere eers met jou hand vas in ‘n oorkruis-patroon, net om seker te maak dat die wiel gelyk vastrek. Maak die moere so vas as wat jy kan met die moersleutel en een hand en laat sak dan die voertuig tot die wiele aan die grond raak. Hou deel van die gewig steeds op die domkrag. Maak die moere dan stywer – in ‘n oorkruis-patroon - vas met die moersleutel. 

11. Laat sak en maak styf vas: Laat sak die voertuig tot op die grond, maar hou die domkrag net as stut in plek. Maak die moere so styf as moontlik vas, weereens in ‘n oorkruis-patroon – staan op die moersleutel indien jy moet. Sodra die moere stewig vas is, laat sak die voertuig heeltemal en verwyder die domkrag. Moenie vergeet om die doppies oor die wielmoere weer in plek te sit (as die spaarwiel dit toelaat) nie. Bêre die spaarwiel en ander gereedskap. 

12. Vat dit rustig: Ry eers stadig om seker te maak dat als mooi vas is, voordat jy begin versnel. Hou by die spoedbeperking (gewoonlik 80 km/h) van die noodwiel. 

13. Herstel: Laat die ou band so gou moontlik herstel of vervang. Kleiner lekplekke op die loopvlak, wat kontak maak met die pad, is gewoonlik maklik om te herstel, maar skade aan die buitesye van die band beteken in die meeste gevalle dat jy ‘n nuwe band moet aanskaf. 

“As jy eerder nie jou hande wil vuil kry nie, kan jy altyd jou versekeraar se padbystanddiens skakel. Dit behoort die eerste stap te wees as jy onveilig voel, omdat hulle ook nooddienste kan ontbied indien nodig,” sluit Coetzee af. “Om ‘n band te kan ruil is nietemin ‘n vaardigheid wat jou bemagtig, uit ‘n lelike penarie kan help of selfs jou lewe kan red.”

 

Virseker is 'n produk van Auto & General Versekeringsmaatskappy Bpk, 'n gemagtigde nie-lewens finansiële-diensverskaffer (FDV-lisensienommer: 16354) Enige verwysing na "ons", "deur" of "met" op hierdie webwerf/advertensie verwys na Auto & General.

 

Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!