Let Wel

Huisgenoot Skouspel Kry Nuwe Borg

2 min lees tyd
Perskamer 15 Maart 2011 deur Virseker

Virseker, Suid-Afrika se eerste korttermyn-versekeringsproduk wat uitsluitlik op die Afrikaanssprekende gemeenskap gemik is, is een van die hoofborge van vanjaar se Huisgenoot Skouspel, die toonaangewende konsert van Afrikaanse musiek in Suid-Afrika wat jaarliks by Sun City gehou word.


Die borgskap sluit volgende jaar se ewe gewilde SkouspelPlus, die Tempo-pryse, Huisgenoot se liedjieskryfkompetisie en die Skouspel se Vrouedag-geleenthede in.


Skouspel, wat van 5 tot 7 Oktober en van 12 tot 14 Oktober gehou word, spog nogmaals met 20 van Suid-Afrika se topkunstenaars. Hulle is te sien in 'n pragtig gechoreografeerde produksie wat hom die afgelope 12 jaar as die grootste viering van Afrikaanse musiek in die land gevestig het.


Meer as 30,000 konsertgangers woon Skouspel jaarliks by en die meeste van hulle bly die hele naweek.
"Skouspel is een van die grootste geleenthede op die Suid-Afrikaanse vermaakkalender en 'n pasmaat vir Virseker, wat as 'n vertoonvenster vir die Afrikaanssprekende gemeenskap se kultuur ontwikkel is," sê Ricardo Coetzee, woordvoerder vir Virseker.


"Ons vennootskap met Huisgenoot is 'n natuurlike uitvloeisel daarvan omdat ons albei daartoe verbind is om Afrikaanssprekendes gehalteprodukte in hul hartstaal te bied. Ons sien uit na die verstewiging van dié wedersyds voordelige vennootskap."


Rudi Hofmeister, hoof van Sosiale Handel by Huisgenoot, voeg by: "Ons is baie opgewonde oor Virseker se toetrede as hoofborg, veral omdat dit 'n handelsnaam is wat werklik met die Afrikaanse gemeenskap en sy behoeftes gemoeid is. Virseker pas volmaak en sal ongetwyfeld 'n bykomende mate van Afrikaanse egtheid aan ons geleenthede verleen."


SkouspelPlus word op 17 en 18 Maart volgende jaar in die Grand West-casino in Kaapstad gehou. Die Tempo-pryse en Huisgenoot se liedjieskryfkompetisie is op Junie volgende jaar se kalender. Die Skouspel-Vrouedaggeleenthede vind vanjaar op 8 en 15 Oktober by Sun City plaas.

 

Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!