Let Wel

Haal die kramp uit kamp

2 min lees tyd
Perskamer 17 Junie 2022 deur Virseker

Waarom ontvlugting van jou woelige lewe op eksotiese buitelandse bestemmings gaan soek as daar die ongelooflikste ervarings sommer op jou voorstoep vir jou wag?

Kamp is ’n vierletterwoord wat jou hart en siel gaan verower, mits jy dit reg aanpak...

Dinge gaan nie noodwendig vlot verloop nie. Jy’s uit jou gemaksone, weg van die meeste moderne geriewe en op ‘n vreemde plek. Daarom is dit wyse raad om eers vir net een of twee nagte te gaan kampeer waneer jy dit vir die eerste keer doen. Dit gaan vir jou ‘n beter aanduiding wees van wat vir jou werk en wat nie vir jou werk nie. Elke kamp-ervaring is ‘n nuwe ervaring. En met die regte beplanning en toerusting gaan hierdie jou allerbeste ervarings ooit wees.

Hier is 7 wenke vir eerste, en ook ervare kampeerders, om in gedagte te hou wanneer jy reg is om die pad te vat.

1. Die tent

Toets dit eers tuis uit voordat jy ure van frustrasie gaan ervaar wanneer jy by jou bestemming aankom en nie weet waar die bo-of onder kant daarvan is nie. En natuurlik om seker te maak dis groot genoeg vir jou, of wie ookal saam met jou gaan kamp.

2. Maak ’n lysie

Of jy nou ’n lysiemens is of nie, ’n lysie vir jou kampavontuur is sy waarde in goud werd. Merk alles daarop af wat jy reeds gepak het en nog moet pak. Jy wil nie by ’n ongerepte kampeerplek opdaag sonder alles wat jy nodig het nie.

3. Maaltye

Beplan vooruit vir die hoeveelheid etes en mense wat saam met jou gaan kamp. Stel ’n eenvoudige spyskaart saam. Meng jou spesery en maal jou koffiebone tuis en neem dit saam in ‘n Ziploc. 'n Goeie idee is om blikkieskos, voorafbereide kos, droë vrugte en vleis (hallo, biltong!) te pak. Eiers, vars vleis en melk kan gou bederf.

4. Kies goed

Vir eerste kampeerders is dit ’n goeie idee om nie te ver van jou huis af te gaan kampeer nie. Dalk is die slapery op die grond te hard vir jou, of die kos raak op. Die weer mag onverwags verander. Leer wat werk en wat nie werk nie tydens jou eerste paar uitkampsessies naby jou huis.

5. Klere

Wees voorbereid en pak voldoende klere. T-hemde en vinnig-droogwordende klere is die antwoord want nie alle kampterreine het wasmasjiene nie. Dis ook ’n goeie idee om ’n reënjas en iets warmer vir saans in te pak, selfs al is dit in die somer en jy het visioene van heeldag in jou baaikostuum en kortbroek rondloop. As jy gaan stap, kies stewels wat gepas is daarvoor.

6. Tyd

Vermy aankoms by die kampeerterrein in die donker. Arriveer vroeg genoeg sodat jy bekend kan wees met die terrein, waar die geriewe is en natuurlik . . . om daardie tent soos ’n meester op te slaan.

7. Toerusting

  • ’n Koplamp en ’n lantern of twee moet deel van jou standaard-toerusting wees. Toets alles tuis voordat jy vertrek. Jy wil nie net op jou slimfoon se droewige flitslig staatmaak nie.
  • Kies eerder ’n slaapsak vir kouer toestande as warm toestande. Sodoende kan jy dit net ooprits en bo-op dit slaap as dit warm is.
  • Opvoubare kampstoele maak die kuiers rondom die vuur net soveel meer aanegenaam.
  • Pak minstens ’n pan, ’n stel messe en vurke - of sporks (“spoons and forks”) - en basiese plastiek-eetgerei asook ’n paar koffiebekers. Houtlepels en vadoeke, asook ’n waterbottel moet ook op jou lysie wees.
  • Moenie die broodbord, foelie, papierhandoeke, braaitang en vuilgoedsakke vergeet nie.

Bronne:

Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!