Let Wel

Eerste Afrikaanse Korttermynversekerings Produk Is Hier

2 min lees tyd
Perskamer 15 Maart 2011 deur Virseker

Telesure Investment Holdings (Edms.) Bpk. (Telesure), 'n internasionale finansiëledienstegroep wat van Suid-Afrika se leidende versekerings produkte huisves, kondig met trots nog 'n eerste aan - 'n Afrikaanse korttermynversekeringsproduk genaamd Virseker.


Ricardo Coetzee, woordvoerder vir Virseker, sê: "Telesure volg 'n strategiese benadering wat verskeie kanale en produkte insluit. Al die maatskappye in die Telesure-groep, wat 1st for Women-versekeringsmakelaars, ibuyeco en Unity-versekering insluit, teiken verskillende segmente van die mark. Hulle is daarop toegespits om hul onderskeie markte se behoeftes te bepaal en produkte en verspreidingskanale te lewer wat die beste in daardie behoeftes voorsien. Die gedagte van 'n enkele organisasie wat verskeie kanale bedryf om die nodige toegang tot die kliënt te kan verkry, wen oor die wêreld heen veld en Telesure het dié benadering vervolmaak."


Die Virseker-slagspreuk "Jou versekering, jou mense, jou taal" som die redenasie agter 'n produk gemik op Afrikaanse verbruikers op. Dit bied die Suid-Afrikaanse verbruiker boonop die keuse van 'n diens wat in sy huistaal gelewer word. Coetzee sê: "Dit maak vir ons sin om 'n produk vir Afrikaanssprekende verbruikers bekend te stel, want sowat drie miljoen mense, dis sowat 18%, van die Suid-Afrikaanse bevolking beskou Afrikaans as hul huistaal.


"Virseker sal alle versekeringsdienste bied - in Afrikaans - van die kwotasie tot die polis se ondertekening. Daar is ook 'n sosiale element betrokke met dié dat 'n persentasie van die polishouer se premie in 'n trust geplaas word - teen geen bykomende koste nie. Dié geld sal aan opvoedingsake bestee word wat die Afrikaanssprekende gemeenskap na aan die hart lê."


"Die krag van die Virseker Trust lê daarin dat alle Afrikaanssprekendes opleiding finansier deur hul koopkrag te mobiliseer," sê Dr. Dirk Hermann, woordvoerder van die Virseker Trust.


Op die trust se agenda sal beurse, beroepsleiding en talle ander Afrikaanse opledingsprojekte wees. Virseker bied nie net omvattende dekking vir voertuie, huisinhoud en geboue nie, maar ook produkte soos "MIV-beskerming", "Bystand" en "Gatsakbonus",


"Uiteindelik bied Virseker gehalteversekering wat daarop gemik is om die polishouer in enige situasie gemoedsrus te gee," meen Coetzee. "Dis 'n uitstekende produk wat deur uitstaande kliëntediens gerugsteun word. En daarby kry opvoeding 'n broodnodige hupstoot. Ons is daarvan oortuig die Suid-Afrikaanse mark sal hom op 'n trotse en lojale manier met die produk identifiseer."


Virseker gaan met 'n oorspronklike en innoverende bemarkingsveldtog aan die Suid-Afrikaanse mark bekend gestel word. Die boodskap sal op 'n vindingryke manier en in witwarm Afrikaans deur bekendes soos Emo Adams oorgedra word.

 

Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!