Let Wel

Die druk op jong sportdeelnemers

2 min lees tyd
Perskamer 16 Mei 2017 deur Virseker

Dit klink dalk vir jou vanselfsprekend dat te veel druk in sport slegte nagevolge vir jou kind kan inhou. Maar tog staan duisende sportbehepde ouerpare elke week langs die veld en skel. Soveel so dat doodgewone sport-oefening nie meer vir kinders lekker is nie.

Dr. Pierre Nel, ’n sportsielkundige van Bloemfontein, stem saam: “Die onnodige druk wat op jong atlete geplaas word, veroorsaak dat Suid-Afrika jaarliks goeie sportdeelnemers verloor weens beserings of omdat dit nie meer vir hulle lekker is om te speel nie.”

Of dit nou rugby of ballet is, buitemuurse aktiwiteite speel beslis ’n belangrike rol in ’n jongmens se ontwikkeling – maar hoeveel druk moet op hulle geplaas word om te presteer voor dit ongesond raak?

Die motiewe

Daar is twee hoofredes hoekom ouers hulle kinders dryf om te presteer. Die natuurlike afleiding is dat ouers hul eie drome deur hulle kinders probeer verwesenlik. Die tweede is dat hulle hoop om beurse vir die kinders te bekom. Die probleem is dat kinders dikwels uitbrand voor hulle die ouderdom haal waar keurders wedstryde begin bywoon.

Die nagevolge

Te veel van ’n goeie ding is natuurlik ’n slegte ding. Te veel druk op die sportveld kan lei tot opstandigheid en rebellie, die gebruik van alkohol of ander middels, en die verwerping van oefening. Jy kan selfs fisiese skade aan ’n kind se ontwikkeling veroorsaak as hulle te ver gedruk word.

Die oplossing

Die Solidariteit-webblad deel hierdie wenke van die Amerikaanse Akademie vir Pediatrie:

  • Fokus op verbetering en nie op wen of verloor nie.
  • Onthou dat puberteit verandering in jong kinders meebring wat liggaamlike en sielkundige eise aan hulle stel.
  • Moedig hulle aan om meer as een sportsoort te beoefen.
  • Laat hulle gerus self besluit watter sportsoorte hulle wil beoefen en wanneer hulle wil ophou.
  • Probeer om jou kinders se vreugde voor jou eie te plaas.

Laastens, moenie jou teleurstelling uitdruk wanneer jou kind se span verloor nie. Sê altyd vir jou kinders dat jy trots is op hulle, en help hulle om die beste weergawe van hulself te wees. Onthou dat sport nie die begin en einde is nie, en dat kinders afgerond moet wees. Gun hulle die geleentheid om ook aan akademie en kultuur tyd te spandeer. Deelname moet voorkeur neem – nie kompetisie nie.

Bronne

http://bloem.getitonline.co.za/2012/01/30/uitblinker-of-uitgebrand/

https://www.airrifle.co.za/threads/23349-Sport-Druk-knak-jonges

https://jougesin.solidariteit.co.za/te-veel-druk-in-sport-ongesond-vir-jou-kind/

Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!