Let Wel

Begin 2023 reg met hierdie wenke

2 min lees tyd
Perskamer 21 Desember 2022 deur Virseker

’n Nuwe jaar is net soos ’n skoon bladsy in ’n boek – en jy het die geleentheid om self te besluit wat jy gaan neerskryf. Net so het jy ook beheer oor hoe jou nuwe jaar gaan begin én hopelik gaan verloop. Ons het ’n paar idees om jou te help om jou jaar reg te begin.

Begin by jouself

Een van die beste maniere om die nuwe jaar te begin, is deur iets inspirerend en kreatief te vind om te doen.

Skep byvoorbeeld ’n rustige, stil plekkie vir jouself waar jy kan afwen en mediteer wanneer jy baie stres het, of ruim tyd in om gereeld ’n nuwe boek (of dalk ’n klassieke een) te lees. Jy kan ook tyd maak om nuwe vaardighede te bemeester, of eenvoudig meer tyd in tuin deur te bring as dit jou vreugde bring.

Laat hierdie dien as inspirasie vir die res van die jaar en jy sal vind dat jou jaar nie net lekkerder gaan wees nie, maar ook meer produktief.

Skud ’n slegte gewoonte af


Dreig jy al lank om op te hou rook, gesonder te eet of van ander slegte gewoontes ontslae te raak? Wel, nou is die ideale tyd om daad by die woord te voeg. Begin deur te beplan hoe jy dit gaan doen en stel dan spesifieke doelwitte as mylpale waarteen jy jou vordering kan meet. Hou dan vol tot jy van die gewoonte ontslae is. Jy sal verstom wees oor hoe ’n groot hupstoot dit jou selfvertroue sal gee.

Kry jou finansies in orde

Dit mag dalk na ’n onbegonne taak lyk om jou begroting te laat klop, maar dis een van die beste dinge om 2023 mee te begin. Kyk na dit waarop jy geld uitgee en soek maniere om daarop te bespaar – soos byvoorbeeld deur produkte wat jy gereeld gebruik, te koop wanneer dit afgemerk is, of wintersklere aan die begin van die somer gedurende uitverkopings te koop.

Stel ’n inkopielys op, en koop nét dit wat daarop is – handelaars is goed daarmee om jou in die versoeking te lei om duur items te koop wat jy glad nie eers nodig het nie.

Kom tot rus
In vandag se gejaagde lewe, is dit soms moeilik om af te skakel, maar behoorlike rus is noodsaaklik om jou batterye te herlaai. Een van die maniere om te sorg dat jy goed slaap, is om ’n haalbare rus-roetine in te stel deur jou slaap- en opstaantye konstant te hou.

Wanneer jy beter slaap, val baie ander dinge ook in plek omdat jy meer energiek voel, in ’n beter bui is en beter besluite kan neem.

Maak dit ’n gewoonte. Dit neem ’n paar maande vir ’n aksie om ’n gewoonte te word, en dit neem net so lank om veranderinge in jou slaapgehalte te sien. Maar hou daarby en kort voor lank hoef jy nie eers meer daaraan te dink nie – en dís wanneer jy die vrugte daarvan sal pluk.

Met hierdie idees, en dié wat Ricus in die video genoem het, behoort jy ten volle toegerus te wees om 2023 op die regte noot aan te pak. Ons hoop dat ons raad jou sal help, en dat 2023 een van die beste jare in jou lewe sal wees.

Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!