Let Wel

Agt wenke vir Agt weke in jou huis

2 min lees tyd
Perskamer 01 Junie 2020 deur Virseker

Hulle se ledigheid is die duiwel se oorkussing, en met ‘n nasionale inperking kan dit wel so wees. Die vraag is of dit ‘n uitgemaakte saak is. Daar is maniere om hierdie situasie om te draai in iets positief. Dit vat wilskrag en leiding, maar dit is wel moontlik om die ledigheid te oorkom. Hier is ons agt wenke vir agt weke se inperking…

Ontspan

Die lewe is ‘n gejaag van sonsopkoms tot sonsondergang. Van een punt na die volgende. As ons gelukkig is, kry ons ‘n week of twee per jaar om net terug te sit en asem te skep. Hierdie is die perfekte geleentheid om ‘n blaaskans te vat. Haal asem en geniet die tydjie af.

Aanvaar

‘n Inperking is ‘n moeilike konsep om te aanvaar. Ons hou nie daarvan om voor voorgeskryf te word nie. Ons reg tot vryheid word sterk beïnvloed en dit is vir niemand maklik nie. Die beste ding wat ons kan doen is om die groter prentjie raak te sien. Hierdie is nie net iets wat ons vir onsself doen nie, maar eerder iets wat ons doen vir ons land se mense. 

Reflekteer

Dis baie maklik om te vergeet wie ons is. Die dinge wat vir ons as individue belangrik is. Ons plaas ander mense se belange voor ons eie, en in die proses verloor ons onsself. Die inperking is n guldige geleentheid om die tyd te neem en weer onsself te vind.

Leer

Daar is ‘n magdom van inligting daarbuite wat ons vrylik kan bekom. Die internet het die wêreld tot so ‘n mate verander, dat ons letterlik op ons bank kan sit en leer hoe om amper enige-iets te doen. Kenners van regoor die wêreld deel hulle kennis en vaardighede oor die internet. Al wat ons moet doen is soek vir ‘n wenk of kursus, en ons sal – teen geen of minimale koste - iets kry. Van bak en brou tot ‘n moontlike nuwe beroep… Hier is jou kans.

Gesels

Elke dag sit ons saam met ons gesinne, maar ons staar eerder na ons fone. Tegnologie het die wêreld nader aan ons gebring, maar ons gesinne verder uitmekaar gedryf. Bêre jou foon. Spandeer kwaliteit tyd met jou gesin. Gesels soos in die ou dae. Leer mekaar weer ken. Spandeer tyd saam. Groei saam. Bid saam.

Kontak

Ons almal het daardie vriend of vriendin met wie ons nie meer so gereëld praat soos wat ons graag sou wou nie. Die tyd staan vir niemand stil nie en, wanneer jy jou oë uitvee, is dit maande van geen kontak. Bel, SMS, Whatsapp, Skype en kontak jou vriende. Hulle mis jou waarskynlik net soveel soos wat jy hulle mis.

Plant

Voedsel items is soms in beperkte voorraad beskikbaar, so dis ‘n slim skuif om meer onafhanklik te wees deur daai groentetuin te skep wat jy nog altyd wou gehad het. As jy jou eie groente en kruie kan groei gaan jy nie net geld spaar nie, maar jy sal in die proses ook sommer ‘n bietjie ontspan!

Dink

Jy kan deesdae feitlik nie meer op sosiale media gaan sonder om oorweldig te word deur ‘n magdom inligting, opinies en teorieë nie. Dis baiemaal moeilik om te besluit wat om te glo en wat nie! ‘n Goeie beginsel is om alles wat jy lees met meer as net ‘n knippie sout te neem, deeglike navorsing te doen met betroubare hulpbronne as gids en mooi oor ‘n saak te dink ten einde jou eie, ingeligte opinie te vorm.

Geskryf deur Wynand Tromp | Tromp Studio | www.tromp.studio

Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!