Let Wel

10 wenke om gaste welkom te laat voel oor die feestyd

2 min lees tyd
Perskamer 06 Desember 2022 deur Virseker

Vir baie mense beteken die feestyd gastetyd, ’n gesellige saamkuiertyd met vriende en familie in jou huis. Hier is ’n paar wenke oor hoe jy hulle welkom kan laat voel want gelukkige gaste help om ’n gawe atmosfeer te skep.

1. ’n Gastekamer is nie ’n stoorkamer nie
’n Ekstra kamer in die huis word maklik as die afpakplek of tydelike bêreplek vir alles en nog wat ingespan omdat daar nie altyd gaste is nie. Pak maar liefs alles op en stoor dit waar dit hoort – en dit beteken nie in die kaste of onder die bed in jou gastekamer nie . . .

2. Hou jou stilering in toom
Beperk die versierings en ornamente in jou gastekamer tot die minimum. Dit beteken nie jy moet die kamer steriel laat nie, maar dat minder tierlantyntjies soms baie meer verwelkomend is vir iemand met hul eie voorkeure en smaak.

3. Pakplek vir jou gaste
Sorg dat daar pakplek en hangplek in die kamer is vir jou gaste se klere. Dis wel vakansietyd, maar wie wil nou heeldag met gekreukelde klere rondloop? Of andersins ure lank ’n vriendskapsband met ’n strykyster smee?

4. ’n Gemaklike stoel en indien moontlik, ’n lessenaar
Vertoef jou gaste dalk ’n bietjie langer as ’n dag of twee, is dit raadsaam om seker te maak daar is minstens ’n gemaklike stoel in die kamer om op te sit. Soms het jou gaste nodig om, vakansietyd of nie, tussendeur werk af te handel. As jy ’n lessenaar in die kamer kan inpas, is dit goed. Maar moenie kop verloor en inderhaas een gaan aankoop as jy nie een het nie.

5. Katoeters en kabels
Met vandag se ooraanbod en benutting van tegnologie kan jy weet daar gaan ’n behoefte aan ’n kragpunt en prop vir herlaaiers wees. Om te keer dat die gastekamer in ’n kraaines van kabels ontaard, kan jy byvoorbeeld ’n mooi en praktiese houertjie laat waarin hulle hul kabels kan plaas. As jy oor ’n universele herlaaier beskik, kan jy dit voortydig in die houertjie laat. 

6. Laat daar (voldoende) lig wees
Maak seker dat al die ligte in die kamer werk voordat jou gaste arriveer. Met beurtkrag wat ons so gereeld kelder, kan jy ook ’n herlaaibare lig in die kamer plaas. ’n Goeie leeslamp is altyd ’n aanwins vir enige vertrek.

7. Wees WIFI-vriendelik
Het jy WIFI in jou huis en mag jou gaste toegang daartoe kry? Plak dan byvoorbeeld die wagwoord op die deur of op jou universele herlaaier sodat jy nie herhaaldelik die wagwoord hoef uit te spel of te herhaal nie. Sluit ook belangrike kontaknommers en noodnommers in op die lysie.

8. Maak seker jou gastekamer is skoon en netjies
’n Onnet gastekamer met goeters wat rondlê, stuur ’n baie duidelike boodskap uit dat jou gaste nie eintlik welkom is nie. Maak dubbel seker niks lê rond wat inderhaas verwyder moet word as jou gaste reeds in die kamer is nie.

9. Wees bedagsaam
Sit ’n waterkraffie en ’n glas in die gastekamer vir ingeval jou gaste in die middel van die nag dors raak. Maak ook seker daar is altyd ’n ekstra rol toiletpapier sigbaar in die badkamer sodat jou gaste nie nodig het om deur al die kaste daarvoor te soek nie.

10. Beddegoed: Die heel belangrikste!
Skoon en vars is die sleutelwoord hier. Gevlekte lakens hoort nie in ’n gastekamer nie. Verskaf gemiddeld twee kussings per gas. Maak ook voorsiening vir vars handdoeke vir jou gaste. Hou ’n ekstra kombers of twee byderhand net ingeval daar ’n onverwagte kouefront opdaag.

  • https://www.impressionhomes.net/the-perfect-guest-bedroom-15-warm-and-welcoming-tips/
  • https://www.rooirose.co.za/wenke-vir-n-huislike-gastekamer/
  • https://www.thespruce.com/put-together-a-perfect-guest-room-1976987
  • https://www.remodelaholic.com/7-tips-preparing-guest-room-company/
Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!