Let Wel

10 idees vir ‘n sakpas-braai sonder om jou beursie uit te brand

2 min lees tyd
Perskamer 19 September 2022 deur Virseker

Jy kry mooiweersbraaiers en dan kry jy braaiers! Dié braaiers is diegene wat ’n vuurtjie aansteek, ongeag of die son skyn en of die hemele oopbars.

Hoe dit ook al sy, wanneer jy ’n vuurtjie gaan maak, is daar een ding wat die gees van braai soms liederlik blus – die gat wat dit in jou beursie kan brand.

Maar daar’s ’n paar werkbare idees wat jou kan help vir ’n bielie van braai. Al wat nodig is, is beter beplanning en ’n paar lekker doen-dit-self-idees.

Begin by die begin. Vir sjef Benny Masekwameng van die televisiereeks Ultimate Braai Master lê een van die geheime van ’n goeie en bekostigbare braai in die beplanning daarvan. Koop in grootmaat, stel hy voor. En dan verpak jy dit in porsies en vries dit tot wanneer die geleentheid vir ’n gesellige kuier met gawe mense opduik.

Carmen Petersen, voormalige kos-assistent van Huisgenoot, stel voor dat jy ’n bietjie minder spandeer aan die gerieflike kitsklaar oplossings wat die supermark jou bied en eerder jou hande uit die mou steek om die bykosse sélf te maak.

Wat is dan nou meer ikonies as ’n heerlike braaibroodjie? Ja, dis maklik om gou winkel toe te draf daarvoor. Maar Carmen sê niks smaak lekkerder as daardie braaibroodjie wat jy maak van gevriesde oortollige brood en selfs broodrolletjies nie.

Haal dit uit om te ontdooi, smeer ‘n heerlike knoffel-en-botter-mengsel daarop (vars knoffel, natuurlik), fyngesnyde uie en tamatie daarmee saam en siedaar! Dis mos nou hoe jy gesellligheid om die vuur aanhits.

Terloops, sy sê jy kan brood drie maande lank suksesvol vries voordat jy dit moet gebruik.

Slaaie is altyd ’n wenner as bykosse. Geblikte of bevrore ertjies en/of mielies rek enige gemiddelde slaai tot ’n smaakliker slaai. Bekostigbare slaaie soos aartappelslaai, rysslaai met soetpatats, aartappels, uie en of soetmielies nog aan die stronk (apart in foelie toegedraai en op die kole gaargemaak) sorg vir ’n feesmaal.

Terloops, jy hoef nie die duurste stuk steak voor te sit vir ’n braai nie. ’n Ware braai gaan immers oor die samesyn, nie oor die begroting nie. Goedkoper beesvleisstukke braai boonop gouer. Dan is vark en hoender ook baie smaaklike braaimaters. En as dinge regtig noustrop trek, is worsbroodjies altyd ’n randrekker-wenner met uiesmoor of chakalaka.

Ignoreer daardie bekende handelsnaam-marinades op die rak en maak jou eie. Gooi sommer die souse wat in jou yskas is, bymekaar. Selfs doodgewone jogurt met ’n bietjie sout en peper en speserye daarby, maak ’n uitstekende marinade.

Hou ook jou ou teesakkies byderhand. Gooi dié in ’n fles met terpentyn en wanneer die tyd daar is vir saamkuier, gebruik jy die geweekte teesakkies as vuuraanstekers. Maar wees versigtig wanneer jy die vuur aansteek en maak seker veral kinders is nie naby nie.

Die argument tussen die hout- en die houtskoolbraaiers is ’n vuurwarm debat waaroor daar nie nou ’n opinie gelug sal word nie. Hou maar net in gedagte dat houtskool langer warm bly as die meeste hout en dit dalk daardie ekstra paar sent die moeite werd maak.

Vir die soettand wat immer op soek is na ’n nagereg, kan jy vrugte (appelkose, perskes, pruime en pynappelskywe) halveer en vir ’n paar minute op die rooster braai. Draai om, sprinkel ’n bietjie heuning oor, braai kortliks, druk vars suurlemoensap daaroor uit en geniet!

Bronne:
https://maroelamedia.co.za/kos/vleis-en-seekos/steek-solank-die-vuur-aan-wenke-vir-n-lekker-braai/ 
https://www.netwerk24.com/huisgenoot/wenresepte/grootste-braai/platsak-10-slim-idees-om-goedkoper-te-braai-20190205 
https://www.greatbritishbbq.co.uk/bbq-tips/top-10-tips-for-a-bbq-on-a-budget 
https://greatist.com/eat/cheap-bbq-ideas-how-to-save-money-when-you-grill-this-summer#You-Can-Also-Make-Affordable-Dessert-on-the-Grill 

Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!