Let Wel

Virseker is reg vir #WêreldBakdag!

2 min lees tyd
Bak brou 17 Mei 2016 deur Virseker

Dis soms so maklik om te vergeet  om vir die mense om ons te sê hoe baie ons hulle waardeer. En dis juis wat Wêreld Bakdag so spesiaal maak. Maak vandag iets lekkers om vir die mense wat jou dae ʼn bietjie makliker maak dankie te sê. 

Daar’s ‘n Noorse spreekwoord wat gaan: “Koekies word gemaak uit botter en liefde”. Om iets vir die persone in jou lewe self te maak, beteken dat hulle vir jou belangrik genoeg is om jou tyd en denke op hulle te spandeer.

Moenie nog ‘n dag mors nie, gebruik vandag om jou waardering aan ander te wys.

Hier volg die resep vir ʼn smul-lek-lekker mokka-sjokoladekoek vir so 8 – 10 mense (afhangende van hoe groot jy die stukkies sny).

Bestanddele:

Vir die koek:

1¾ k suiker

1¼ k olie

1 t vanieljegeursel

2 eiers

2½ k koekmeel

⅓ k kakao

¼ t sout

1 e bakpoeier

¾ k karringmelk

1 k kookwater

 

Vir die mokkavulsel:

1 k botter

1¾ k versiersuiker

¾ k kakao

3½ e melk

2 t kitskoffie

½ k pekanneute, gekap

 

Metode:

Vir die koek:

Voorverhit die oond tot 170 °C.

Meng die suiker en olie.

Meng die vanieljegeursel en eiers en voeg by.

Sif die droë bestanddele. Voeg by die mengsel.

Voeg die karringmelk by.

Voeg die kookwater bietjie-vir-bietjie by.

Voer drie gesmeerde 20 cm-koekpanne met waspapier uit en verdeel die mengsel tussen die drie panne.

Bak elkeen vir 20 tot 25 minute. Toets of gaar.

Laat dit op ’n draadrak afkoel.

 

Vir die mokkavulsel:

Klop die botter tot glad en romerig.

Sif die versiersuiker en kakao saam en voeg by die botter. Klits goed deur.

Maak die melk warm en roer kitskoffie daarby totdat dit opgelos is.

Voeg by die versiersuiker. Klits met ’n elektriese menger tot dit goed gemeng is.

Versier die koek in drie lae.

Strooi die gekapte pekanneute bo-op.

 

Resep geneem uit Louise van der Hoven se boek Woestynkombuis te kry:

http://www.foxandravenemporium.com/products/woestynkombuis-louise-van-der-hoven

Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!