Niks les jou dors soos yskoue gemmerbier nie. Dié resep van Herman Lensing het ’n vrugtekinkel.
genoeg vir 3 liter
10 g-sakkie kitsgis
400 ml louwarm water
400 g (500 ml) suiker
300 g bevrore frambose
2 500 ml water
hand vol rosyne
10 ml jamaikagemmer (kyk by apteek)
1 kg gebreekte ys vir voorsit
175 g vars frambose
Plaas gis, louwarm water en suiker in mengbak en roer tot suiker opgelos het. Maak bak toe met kleefplastiek en laat staan op ’n warm plek tot gismengsel dik is en ’n skuimlaag bo-op vorm. Plaas bevrore frambose en helfte van water in groot mengbak en pols met staafmenger tot fyn. Voeg res van water, rosyne, jamaikagemmer en gismengsel by en meng deur. Maak bak toe met kleefplastiek en laat staan oornag op ’n koel plek – nie in die yskas nie. Gooi mengsel deur ’n sif, gooi rosyne weg en plaas bier in yskas tot yskoud. Gooi gebreekte ys in groot ponsbak saam met vars frambose. Gooi yskoue bier oor en sit voor in glase van jou keuse.