Let Wel

Vyf wenke vir aanlyn-inkopies

2 min lees tyd
Perskamer 24 Junie 2020 deur Virseker

Die Covid-krisis het die digitale revolusie versnel en só het al hoe meer verbruikers weens die nasionale inperking aanlyn begin inkopies doen. E-handelaars gaan integraal van belang wees om die ekonomie weer op spoed te kry.

Jan Alleman besef nou ook hoe gerieflik dit kan wees om items, van kos tot elektronika, aanlyn te koop – én hoe maklik dit is. Aanlyn-kleinhandel gaan dus veral nou groei soos meer ondernemings besef dat dit een van die belangriker roetes tot finansiële oorlewing is.

Talle verbruikers is nog onkundig oor dié nuwe manier van hul gunsteling winkels virtueel te besoek en te ondersteun, maar dit is nie iets wat met vrees aangepak hoef te word nie.

Aanlyn-inkopies is waarskynlik net so veilig soos konvensionele inkopies indien ’n paar basiese voorsorgmaatreëls getref word. Tog soos in enige bedryf is daar ongelukkig swendelaars wat poog om verbruikers te bedrieg, wat beteken mens moet net waaksaam wees.

Hier is ’n handvol wenke vir as jy ’n virtuele inkopietog aanpak:

Ondersteun bekende aanlynwinkels

Vir gemoedsrus is dit altyd beter om ’n handelsmerk wat ’n goeie reputasie het te ondersteun, want die kans is beter dat só ‘n winkel beter sisteme in plek het om jou virtueel veilig te laat voel. As jy dit oorweeg om items by 'n nuwe winkel te koop en nie seker is of dit vertrou kan word nie, doen eers jou huiswerk. Koop ook eerder by ’n Suid-Afrikaanse aanlynwinkel as ’n buitelandse een, wat nie noodwendig deur plaaslike wetgewing gereguleer word nie.

Pasop vir vals webwerwe

Dit is veral belangrik om self ’n webwerf oop te maak deur die adres daarvan eerder in te tik. Moenie sommer ’n skakel volg wat via jou e-pos of teksboodskapdiens soos WhatsApp by jou beland nie. Daar is talle slenters wat versprei word met nagemaakte skakels wat op die oog af na die ware Jakob lyk. Wettige handelaars se webwerwe se URL sal dikwels “https” bevat eerder as net “http”. Die “s” verwys na ’n goeie sekuriteitsvlak vir die webtuiste.

Gebruik veilige betalingsmetodes

Banke probeer hard om kredietkaarttransaksies so veilig as moontlik te maak, maar die onus is ook op jou om bedag te wees en jou kaartbesonderhede te beskerm. Moet nooit jou kredietkaartbesonderhede stoor op jou rekenaar, slimfoon of dit vir iemand e-pos nie. Geen bank of aanlynwinkel sal jou ooit vra om jou PIN-nommer of ander wagwoorde te verskaf nie.

Versterk jou virtuele immuniteit

Belê in ’n goeie, veelvlakkige antivirusprogram vir jou persoonlike rekenaar, en maak ook seker jy gebruik meer as een wagwoord vir jou aanlyn doen en lates. Moet ook nie sommer aanlyntransaksies doen as jy aanmeld by ‘n openbare Wi-Fi-area, soos ’n koffiewinkel of winkelsentrum se gratis Wi-Fi-diens, nie.

Maak seker van die Bepalings en Voorwaardes

Soos met enige transaksie is dit belangrik om die fynskrif te lees voor jy dit deurvoer. Jy kan uitgebuit word op ’n wettige manier oor jy nie jouself met die voorwaardes vereenselwig nie. Jy word wel as jy aanlyn koop beskerm deur die regulasies van die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies asook die Wet op Verbruikersbeskerming.

*Hierdie artikel is slegs vir inligtingsdoeleindes gepubliseer en moet nie as finansiële of regsadvies deur Virseker interpreteer word nie.

Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!