Let Wel

Versekering 101 (Versekering Vir Domkoppe)

2 min lees tyd
Perskamer 15 Maart 2011 deur Virseker

Die lewe is ingewikkeld.


Maar jy weet dit mos, dan nie?


Die kinders moet gevoed en die rekeninge betaal word en uiteindelik is daar belangriker dinge as versekering wat mens wakker hou, dan nie? Verkeerd! Dis baie belangrik om te verseker die bates waarvoor jy so hard gewerk het, word met die regte dekking én teen die regte prys beskerm.


Ricardo Coetzee, woordvoerder vir Virseker, sê: "Te veel mense aanvaar versekering as vanselfsprekend. Dis eers wanneer 'n ramp soos 'n brand of diefstal hulle tref dat mense besef presies hoeveel dit gaan kos om alles te kan vervang. Iemand wat ten volle gedek is, het gemoedsrus en kan vinniger van onverwagte voorvalle herstel."


Die uitneem van 'n versekeringspolis kan 'n intimiderende affêre wees. Maar dit hoef nie die geval te wees nie. Daar is normaalweg drie soorte kanale waardeur dekking bekom kan word – direk, deur 'n makelaar of deur 'n aggregator. Elkeen het sy voordele, maar die verbruiker is uiteindelik die een wat moet besluit watter kanaal die beste in sy leefstyl se behoeftes kan voorsien.


Hier beantwoord Virseker, Suid-Afrika se eerste en enigste versekeringsproduk vir die Afrikaanse gemeenskap, 'n paar tergende vrae oor die wonderlike wêreld van versekering.


Raak my ouderdom my premie?
In ons ondervinding is ouer bestuurders by minder ongelukke as jonger of nuwelingbestuurders betrokke. Ons premies word volgens 'n glyskaal aangepas wat bepaal 'n 18-jarige bestuurder betaal die hoogste premie. Die premie word verminder soos die bestuurder ouer word.


Hoekom styg my premie jaarliks, hoewel my motor se waarde elke jaar net verder afneem?
Jy word nie net vir die diefstal van jou voertuig gedek nie, maar ook vir enige moontlike herstelwerk. Die koste van herstelwerk en onderdele styg jaarliks en jou premie moet ongelukkig daarmee tred hou. Virseker neem wel jou motor se dalende waarde in ag wanneer jou premie hersien word.


Is dit waar dat my premie geraak word wanneer ek trou?
Ja. Ons het gevind getroude mense of dié wat saam woon, hou 'n laer risiko as enkellopende of geskeide mense in. Dis dalk die geval omdat enkellopende mense meer uitgaan en hul woonplek meer leegstaan.


As ek nie dié maand my premie kan betaal nie, kan ek volgende maand 'n dubbele betaling doen?
Soms is dit maar moeilik om jou premie op die eerste werkdag van die maand te kan betaal. Om jou in so 'n geval te help, kan jy voorsiening maak vir 'n "spesiale aftrekking" op 'n datum wat jou pas. As jy teen dié datum nog nie betaal het nie, het jy geen dekking in die tydperk waarvoor die betrokke premie bedoel was nie. Hoewel die poliskontrak nog geld, is daar geen dekking nie. As ons in 'n maand geen betaling ontvang nie, het jy ongelukkig geen dekking in daardie maand nie.


Hoekom betaal vroue 'n laer premie?
Statistieke wys vroue is beter bestuurders en is by minder motorongelukke betrokke. Daarby is die herstelkoste van vroue se voertuie gemiddeld laer as dié wat deur mans bestuur word.


Kan ek twee afsonderlike eiendomme met een polis dek?
Nee. Jy sal die onderskeie eiendomme met afsonderlike polisse moet dek. Dis omdat elke eiendom sy eie risiko inhou en die premies sal dus ook verskil.


Watter faktore bepaal die premiebedrag?
By Virseker word verskeie faktore in ag geneem. Dit sluit die maak en model van 'n voertuig in; waar jy woon; wie die bestuurder is; waarvoor word die motor gebruik; en jou eis-geskiedenis. Omdat al dié kwessies 'n rol speel, is dit belangrik dat jy eerlik is wanneer jy dié en ander vrae beantwoord. As jy onseker oor 'n antwoord is, wees eerlik met die konsultant en sê jy wil eers gaan seker maak. Dis baie belangrik om eerlik te wees wanneer jy met jou versekeraar of makelaar skakel, insluitende wanneer jy eis. Bedrog kos die versekeringsbedryf jaarliks miljoene rand en dit het uiteindelik ook 'n uitwerking op jou, die eerlike verbruiker, se premiebedrag. Onthou, bedrog sluit enigiets in - van 'n diefstaleis vir 'n leerbaadjie wat jy nooit besit het nie tot 'n eis vir 'n "gekaapte" voertuig wat eintlik verkoop is. Bedrog kan tot 'n misdaadrekord lei, aangesien die meeste versekeraars dié kliënte vervolg wat hulle daaraan skuldig maak.


Wat is 'n bybetaling?
'n Bybetaling is die bedrag wat jy in geval van 'n verlies betaal en dis die onversekerde deel van jou verlies. Dis om te keer dat kliënte 'n eis vir 'n klein bedrag of 'n vals eis indien en dit help om die premie laag te hou. Wanneer jy 'n eis vir byvoorbeeld herstelwerk ná 'n motorbotsing indien, sal jy 'n bybetaling moet doen, ongeag wie vir die ongeluk verantwoordelik was. Dis belangrik dat jy die polisdokument noukeurig lees, veral wat bybetalings betref, aangesien daar soms bykomende bybetalings kan geld, soos wie die motor ten tyde van die ongeluk bestuur het ens. In die meeste gevalle bied Virseker 'n vasgestelde bybetaling in plaas van een wat 'n persentasie van die verliesbedrag is. Ons sal ook ons bes doen om jou bybetaling van 'n skuldige derde party te verhaal, al is daar geen wetlike verpligting op ons om dit te doen nie. Dis 'n diens wat Virseker sy kliënte gratis bied.


Hoe kan ek my bybetaling verminder?
Jy kan jou bybetaling verminder deur 'n hoër premie te betaal.


Wanneer my voertuig in 'n botsing beskadig is, kan ek dit deur die duikklopper van my keuse laat herstel?
Ons beleid bepaal jou motor word deur 'n verskaffer op ons paneel van goedgekeurde verskaffers herstel. Ons duikkloppers waarborg hul vakmanskap en bied 'n lewenslange waarborg op die herstelwerk. Dit stel ons in staat om voortdurend die gehalte van die herstelwerk na te gaan wat deur die verskaffers gedoen word saam met wie ons werk. Sou jy daarop aandring dat die herstelwerk deur 'n duikklopper van jou keuse gedoen word, gee ons jou 'n kontantbedrag gelykstaande aan dit wat dit sou gekos het as ons dit gedoen het. In so 'n geval kan ons geen waarborg gee vir die werk gelewer nie.


As iemand my motor sonder my toestemming bestuur en dis betrokke by 'n botsing, sal julle my eis uitbetaal?
Ja. Op voorwaarde dat jy binne 48 uur 'n strafregtelike klag teen dié persoon by die polisie indien. Jy mag die klag nie terugtrek nie.


Hoekom moet ek 'n bybetaling doen as dit nie my skuld was nie?
'n Bybetaling is betaalbaar wanneer ook 'n eis ingedien word en dis die eerste betaling wat gedoen moet word – of jy die skuldige is of nie. Die administrasiekoste van 'n eis bly dieselfde, ongeag wie die skuldige party is. As dit nie jou skuld was nie, kan jy die bybetalingbedrag van die ander party eis. Dit kan ongelukkig lank vat, veral as die skuldige party nie verseker is nie. Ons regsdepartement sal sy bes doen om jou bybetaling in so 'n geval te verhaal – sonder bykomende koste. In sommige gevalle kan 'n bybetaling nie verhaal word nie, soos wanneer:

 

  • die versekerde persoon geen besonderhede van die derde party het nie;
  • die derde party geen inkomste of bates het waarop beslag gelê kan word nie;
  • die regskoste meer as die verhalingskoste is;
  • die derde party nie opgespoor kan word nie; en
  • die eis se meriete nie die verhalingskoste regverdig nie.

Hoekom moet ek meer as een bybetaling doen?
Jou versekeringskontrak dek verskeie risikovlakke. Dit beteken, byvoorbeeld, as jou motor by 'n ongeluk betrokke is en die bestuurder daarvan is nie die gereelde bestuurder nie, hef ons 'n bykomende bybetaling omdat dié bestuurder nie die eens is op wie die premie gegrond is nie. Die risikovlakke bepaal die bedrag van die bybetaling.


Hoekom is dit belangrik om verskeie kwotasies vir versekering aan te vra?
Wanneer dit by motor- en huisversekering kom, kan die belangrikheid van meer as een kwotasie nie onderskat word nie. Versekeringstariewe verskil ingrypend tussen die onderskeie verskaffers en dis gewis die moeite werd om seker te maak jy kry die beste en mees gepaste produk. Dis belangrik dat jou versekeringspolis so saamgestel is dat dit die beste aan jou vereistes voldoen. Dis 'n mors van geld om vir dekking te betaal wat jy nie nodig het nie, terwyl onderversekering ook 'n risiko is. Deur verskeie kwotasies in te win, maak jy seker jy kry die mededingendste tariewe en die beste moontlike dekking wat in jou behoeftes voorsien.


Watter opsies is daar vir voertuigversekering?
Hoewel motorversekering talle opsies bied, is daar in die algemeen drie soorte voertuigdekking. Omvattende dekking dek die polishouer teen enige ongelukskade of wanneer die voertuig gesteel word. 'n Eis kan ook ingestel word vir enige skade wat die polishouer aan ander partye en hul eiendom aangerig het. Derdeparty-, brand- of diefstaldekking dek die polishouer teen bepaalde skade aan die voertuig of wanneer dit gesteel word. Die polishouer kan ook eis weens skade wat aan ander partye en hul eiendom aangerig is. Ongelukskade aan die versekerde voertuig word nie gedek nie. Slegs derdepartydekking dek die polishouer net teen skade wat aan ander partye en hul eiendom aangerig word. Maak seker jy verstaan die onderskeie soorte dekking en kies die regte een!

 

Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!