Let Wel

Speel die pad korter en maak die vakansie vroliker met hierdie vermaaklike aktiwiteite!

2 min lees tyd
Perskamer 14 Desember 2022 deur Virseker

Die pad is lank, dis warm en die kroos is neulerig. En die “is ons al amper daar”-refrein is stadig besig om die laaste van jou rasionele denke te absorbeer. Maar moenie tou opgooi nie, gaan kuier ’n bietjie in die trommel van jou geheue en laat herleef ’n paar idees uit die goeie ou dae voordat TV en rekenaarspeletjies jou kinders se lewe oorgeneem het.

Met hierdie speletjies het jy nie nodig om apps af te laai of seker te maak daar’s plek in die bagasieruim nie. Selfs beurtkrag gaan nie die pret verduister nie. Kort voor lank gaan almal deel wees daarvan, al het hulle aanvanklik nie gedink die speletjies is nie “cool” genoeg nie . . . tot waar daar ’n roomys of twee op die spel is om te wen! 

1. Wees op en wakker op pad

Geen papiere of skerms is nodig om die speletjie aan die gang te kry en gesonde kompetisie aan te wakker nie. As jou kinders die alfabet ken, gaan hierdie woordspeletjie ’n heerlike uitdaging wees.

Begin by die letter “A”. Die eerste een wat iets met dié letter raaksien, kry ’n punt, of dit nou ’n winkel se naam, voertuig of ’n padteken is – byvoorbeeld “A vir ambulans”, “B vir Buffelsfontein”, ensovoorts. Daar is ook ’n lekker kinkel. Die een wat eerste ’n begraafplaas identifiseer, forseer die opposisie om weer van vooraf te begin. 

2. Identifiseer voertuie

Afhangende van hoe oud jou kinders is, kan hierdie speletjie aangepas word om die kleur of fabrikaat raak te raai. Daag die jongspan uit om die eerste rooi of geel motor raak te sien, terwyl die groter kinders die fabrikaat kan raai. Maak dit meer van ’n uitdaging deur te raai van watter provinsie die motor afkomstig is, soos byvoorbeeld NW (Noordwes), GP (Gauteng) en MP (Mpumalanga). 

3. 20 vrae

As daar een ding is waarmee jou kroos goed is, dan is dit om vrae te vra. Kanaliseer hierdie energie (op pad sowel as tuis) met 20 vrae. Hoe werk dit? Een speler dink aan ’n persoon, ’n plek of ’n voorwerp. Die res maak beurte om ja-of-nee vrae te vra. Na afloop van elke vraag, moet hulle ’n raaiskoot waag. As hulle nie die antwoord binne 20 vrae kry nie, verloor hulle die uitdaging.

4. Naam, van . . .

Ouma en Oupa het hierdie speletjie kleintyd voos gespeel. En dit kan vandag nog skitterende vermaak lewer. Trek pen en papier nader (’n vel vir elke deelnemer plus ’n vel waarop die alfabet lukraak neergepen is. Op elke vel moet daar die volgende kolomme wees: Naam, van, dier, dorp en totaal. 

Elkeen kry ’n beurt om ’n letter van die alfabet te kies (geblinddoek, natuurlik). Deelnemers het 30 sekondes om die kolomme te voltooi. Sou die letter “D” byvoorbeeld gekies word, moet daar onder elke kolom iets geskryf word wat met die letter begin, byvoorbeeld: Dieter, Dippenaar, Delmas, Donkie. Vir elke korrekte woord wat met die regte letter begin, kry deelnemers ’n punt.

5. Aan wie behoort dit?

Laat die gaste heerlik saamspeel! Met hierdie speletjie kry elkeen in die groep die kans om ’n onbekende of minder-bekende feit oor hulself neer te skryf voor etenstyd. Een persoon sal hierdie brokkies aan die gehoor voorlees waarna daar geraai moet word wie dit neergepen het. Dis meer as net ’n speletjie, dit help ook om beter bande met mekaar te vorm. 

6. ’n Kardoes vol speletjies met kaarte, klank en klets

a) Is daar ’n pak kaarte byderhand? Plaas 9 kaarte op die tafel en gee deelnemers 5 minute om dit te memoriseer. Draai dan die kaarte om en vra hulle om te onthou in watter plek hulle spesifieke kaarte gesien het. 

b) Vrolikheid op note met musikale stoele. Plaas die stoele in ’n sirkel met een stoel minder as wat daar deelnemers is. As die musiek stop, moet almal op ’n stoel sit. Die een wat te laat is, verloor. Verminder die stoele ooreenkomstig met die verminderde aantal deelnemers tot waar daar net een stoel en twee deelnemers oor is. Oud en jonk kan hierdie geniet. 

c) Telefoontjie is vir almal. Fluister ’n enkele woord of ’n kort sinnetjie in die persoon langs jou se oor. So word die boodskap letterlik van oor tot oor oorgedra en die laaste persoon moet dit wat hy of sy dink hulle het gehoor, hardop sê. Dit gaan jou laat skaterlag.

 

Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!