Let Wel

Spanning en Immuniteit – gesonder en sterker

2 min lees tyd
Perskamer 24 Junie 2020 deur Virseker

‘n Donderende renoster wat deur jou huismuur bars of ‘n stille slang in die tuin - stres kom in verskeie gedaantes. Trauma kan skielik jou lewe binnebars, soos met ‘n egskeiding en siekte, of suutjies rondhang, soos met ‘n moeilike loopbaan, kinders, geldsake of bedsake.  Voeg hierby politieke onsekerheid en die bedreiging van ‘n virus en spanning word ‘n kroniese teenwoordigheid en ‘n bedreiging vir ons gesondheid.

Spanning kan gesond wees – die liggaam se ‘veg of vlug’ impuls skakel streshormone, adrenalien en kortisol,  aan en berei die liggaam voor vir aksie – spiere bult, die hart klop vinniger en die fokus verskerp.

Wanneer die renoster sy loop geneem het, behoort adrenalien en kortisolvlakke na normaal terug te keer, maar aanhoudende spanning verhoed dit. Langdurige hoë vlakke van kortisol onderdruk die immuunstelsel se teenliggaampies en lei tot inflammasie wat bydra tot siektes soos artritis, depressie, diabetes, hartvatsiektes en selfs kanker.

Die gedurige blootstelling aan spanning het dus ‘n direkte fisiologiese invloed op ons immuunstelsel en gesondheid.

Daar is egter maklike en praktiese maniere om spanning te hanteer en gesonder keuses te maak.

Asemhaling

“Stadige, diep asemhaling kalmeer die fontein van adrenalien en gedagtes. Stikstofoksied wat deur die liggaam afgeskei word tydens hierdie tipe asemhaling - wat slegs deur die neus plaasvind - versterk die immuunstelsel,” verduidelik Dr. Linda Lee, ‘n kenner van Chinese tradisionele medisyne en joga-spesialis. “Probeer gerus ook Dr. John Douillard se 1-minuut meditasie,” beveel sy aan.

Oefening

Probeer ten minste 150 minute per week – so 20 minute per dag - oefen. Stap. Om die blok, winkel toe, trappe op, trappe af. Strek en diep asemhaling help ook.

Limfvatiese vloeistof versprei die immuunstelsel se teenliggaampies deur die liggaam maar moet deur spierwerking – oefening – ‘aangedryf’ word.
Oefening help ook om ooraktiewe gedagtes te laat bedaar en oortollige adrenalien uit te woed.

Eet lekker

“Sekere kosse verhoog inflammasie in die liggaam,” sê Megan Pentz-Kluyts, dieëetkundige van Kaapstad. Suiker is ‘n sondebok (maar, o wee, so ’n lekker bok)…
Sy beveel aan dat suiker-inname verlaag word, al is dit net een teelepel minder in die koffie. Eet minder koekerasies en lekkergoed en kies bessies en vrugte as gesonder, soet alternatiewe.

Verminder geprosseerde kos – enige kos wat nie lyk soos dit in die natuur voorkom nie – en eet meer kleurvolle kos soos botterskorsie, brokkoli en beet. Sy beveel ook vis soos snoek en sardyne aan, sowel as kanola olie, avokados en stysels soos bruinrys en patat. Drink water en onversoete rooibostee maar hou terug op alkohol – dit verminder die immuunstelsel se witbloedselle.

Kruie en speserye kan ook help om jou immuniteit te verbeter. Gebruik gemmer, kaneel, naeltjies, borrie, neutmuskaat en kardamom. Siberiese ginseng, heilige basiliekruid en soethoutwortel (‘liquorice root’) help om inflammatoriese reaksies te beperk en teenliggaampies te vorm.

Slaap

Die Sleep Foundation verduidelik dat te min slaap jou immuunreaksie kan kortwiek. Tydens slaap word anti-inflammatoriese sitokiene gevorm en vrygestel. Ook word die slaap-hormoon, melatonien, in die donker gevorm. Melatonien help nie net om slaap te reguleer nie, maar is ook ‘n kragtige anti-oksidant.

Onthou ook om nie met jou rekenaar en selfoon in jou slaapkamer te slaap nie.

Lewenstyl

Gepraat van tegnologie; verminder jou sosiale media- en nuustyd. Met alomteenwoordige negatiewe nuus en bangpraatjies, vorm ander mense se opinies en vrese sommer gou ook jou verwysingraamwerk.

Fokus om ‘n meer ontspanne lewenstyl te kweek. Maak tyd om stil te word en tot jou sinne te kom, letterlik. Sit rustig en gebruik jou vyf sintuie om jou omgewing te ervaar. Luister na wat jy hoor, voel, kyk rond, ruik verskillende geure en proe.

Die spreekwoordelike renosters en slange (en skoonmense en siektes) kan nie vermy word nie. Wanneer mens in die bos gevaar teëkom, is die raad dikwels om doodstil te staan. Geen emosie, geen reaksie, net stilte. In ons moderne oerwoud kan hierdie stilte tesame met gesonder kos-keuses, meer slaap en minder nuus dit baie makliker maak om sterk en gesond te bly. Dit mag dalk net ons lewe red.

Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!