Let Wel

Moets en moenies as jy wil sleep

2 min lees tyd
Perskamer 21 Julie 2022 deur Virseker

Jare gelede was karavane en sleepwaentjies veral vakansietye ‘n algemene gesig op ons paaie. Toe word dit deur vliegtuie en reise oorsee vervang. En later die pandemie. Maar nou is daar weer ‘n baie sterk terugkeer na die “goeie ou dae” waar jy ‘n karavaan of ‘n waentjie aan jou motor koppel en jy ons pragtige land weer herontdek.

Maar dis nie net vir aanhaak en ry nie. Daar is ’n paar dinge, bo en behalwe die korrekte bestuurslisensie om ’n karavaan te sleep, asook ’n geldige lisensie vir die karavaan of sleepwaentjie wat in plek moet wees voordat jy met ’n padwaardige woonwa of sleepwaentjie vertrek.

(Ons verwys hierna hoofsaaklik na karavaan, maar dit is baie beslis ook van toepassing op ’n sleepwaentjie)

1. Oefen, oefen en oefen

Gebruik ’n leë parkeerterrein hiervoor. Fokus op hoe dit voel as die karavaan aan jou motor gekoppel is. Watter impak het dit op jou motor se hantering en wat gebeur as jy rem?

2. Gewig

Die verskillende gewigsvereistes en -verspreiding is baie belangrik, veral die bruto- en sleepstanggewig.

Oneweredige verspreiding van gewig beïnvloed die stabiliteit van die woonwa en kan dit laat rondswaai. Die woonwa moet nooit neus-in-die-lug by die koppeling, oftewel “by die bal” wees nie, maar swaarder aan daardie kant. Die vertikale vrag moet 45-75 kg wees en nooit 100 kg oorskry nie.

As jy ’n motor gekoop het wat reeds ’n sleepstang aan het, moet jy seker maak wat die kapasiteit daarvan is. Baie motors word toegerus met sleepstange wat net geskik is vir kleiner sleepwaens.

3. Water

Maak ook seker dat jou karavaan se watertenk heeltemal leeg is voordat jy koers kies. Maak dit eers vol met vars water wanneer jy by jou bestemming aankom.

4. Sluit dit toe

Binne-in die karavaan moet alle kaste se deure; die yskas; vensters; en die karavaan se deur ook gesluit wees. Buite moet alle kompartemente gesluit wees, die kragkabel ontkoppel wees, die stabiliseerders ingetrek en die gas ontkoppel wees. Ook die battery moet ontkoppel word.

Voor jy wegtrek moet die handrem ontkoppel word, die banddruk en ligte nagegaan word en die karavaanwiel (“jockey wheel”) opgetrek word.

5. Spoed en ligte

Een van die basiese veiligheidsbeginsels wat maklik vergeet word, is dat jy jou spoed moet verminder wanneer jy ’n karavaan sleep. En ook belangrik: onthou om jou hoofligte se hoogte aan te pas sodat dit nie reg in aankomende motoriste se oë skyn nie.

6. Algemene instandhouding

Maak seker dat al die nodige ligte werk en dat die koeëllaars (“bearing”) van beide die woonwa en jou voertuig (as jy by die kus is) behoorlik gesmeer is.

Omdat karavane nie elke dag in gebruik is nie, het dit ’n nadelige impak op die gesondheid van die bande. Ouer bande word bros, het minder greep op die pad en kan onverwags jou in die steek laat. Laat die bande dus goed nagaan voordat jy op jou reis vertrek. En moenie vergeet om jou spaarband ook te laat nagaan nie.

Wanneer skokbrekers nie in ’n goeie toestand is nie, benadeel dit stabiliteit. Laat toets dit behoorlik om seker te maak jou karavaan se stabiliteit, wat ook jou motor se padhouvermoē nadelig kan beïnvloed, 100% is.

Gaan jou motor se remme, remskoene en remvloeistof goed na.

Onthou, die maksimum bruto gewig van ’n sleepwaentjie met remme is 3500 kg en een sonder remme mag nie 750 kg oorskry nie.
’n Woonwa se gewig is die eenheid self en natuurlik die inhoud daarvan.

Daar trek jy, maar . . .

Gaan jou karavaan na elke keer wanneer jy op roete stop vir ’n blaaskans of om brandstof in te gooi.
Moenie jaag om by jou bestemming uit te kom nie want alles neem langer wanneer jy iets sleep. En natuurlik – hoe meer haas, hoe meer brandstof word verbruik.

Jy moet ook jou volgafstand van voertuie vergroot in die geval dat daar vinnig remme aangeslaan moet word. Jou motor het meer momentum as normaalweg met ’n woonwa en dit kan tot ’n knipmes lei.

’n Matige spoed verhoog jou beheer oor jou motor en verminder die swaai van die woonwa. En wanneer dit begin swaai, moet jy net spoed geleidelik verlaag en nie probeer om uit die swaai te bestuur nie.

Vermy dit om voertuie op ’n oneweredige oppervlakte verby te steek en hou in gedagte dat die windsleur wanneer jy ’n vragmotor verbysteek, jou na die vragmotor se kant toe gaan trek – en wanneer jy verby is, mag dit jou in die teenoorgestelde rigting druk.

En laastens, ken jou roete en weet presies waarheen jy op pad is. Pasop dat Google Maps jou mislei en ‘n alternatiewe roete aanbeveel waar selfs Giniel de Villiers dit nie sal waag nie . . .

Bronne:
https://kampi.co.za/page/caravan-departure-checklist
https://brinktowingsystems.co.za/
https://www.masterdrive.co.za/training-programs/
https://www.carmag.co.za/technical/technical/11-top-tips-for-successful-towing-in-south-africa/
https://www.caravansa.co.za/forums/topic/10-tips-for-safe-towing/

 

Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!