Let Wel

Internasionale Moedertaaldag: Sê jou sê, in jou moedertaal!

2 min lees tyd
Perskamer 19 Februarie 2021 deur Virseker

Op 21 Februarie 2021 word Internasionale Moedertaaldag gevier en die span by Virseker en VivA – die Virtuele Instituut vir Afrikaans – het bietjie gaan delf om uit te vind wat die dinge is wat ʼn mens net béter kan sê, wat bekendes die graagste sê en wat jy nóg nie kan sê nie, in een van Suid-Afrika se gunstelingtale: Afrikaans.

Afrikaans is een van die jongste amptelike tale ter wêreld en word vanjaar, op 8 Mei, 96 jaar oud. Dit is die derde mees gesproke taal in Suid-Afrika, naas IsiZulu en IsiXhosa.

“Die eerste Afrikaanse woordelys, met die titel Proeve van Kaapsch taaleigen, is reeds in 1844 deur ʼn Nederlander, A.N.E. Changuion, opgestel en van daar het die taal gegroei en floreer tot die een waarin ons vandag wêreldwyd leer, skryf, sing, toneelspeel, denke verskuif en grense versit,” sê Ricardo Coetzee, woordvoerder van Virseker

“Daar is eers na Afrikaans verwys as ‘Kombuishollands’, hoofsaaklik deur diegene wat gemeen het dat dit ʼn ‘swakker vorm’ van ware Nederlands was - iets waaraan Afrikaanssprekendes hulle duidelik min gesteur het, want, amper ʼn eeu later, skitter Afrikaans in sy woord- en kleurrykheid, met miljoene wat dit op eie bodem en oorsee met trots hul hartstaal noem.”

VivA meen daar is ʼn hele paar dinge wat ʼn mens net beter in Afrikaans kan sê as in ʼn ander taal:

Hoe vertaal ʼn mens nou braaivleis of dop-en-dam of boeretroos? Is enige ander woorde meer beskrywend as ʼn pensklavierbietjiedag of tjokker? Of hoef ʼn mens vir iemand te verduidelik hoe ʼn varkoor of ʼn rooidag lyk? In watter ander taal kan ʼn mens ʼn oënskynlike teenstrydigheid soos ja-nee aanwend om saam te stem, te verskil of te berispe? 

Kan jy in enige ander taal as Afrikaans so lekker jaag as jy voet in die hoek sit, of iemand so lekker slegsê as jy hom beskuldig dat hy ronde hande het? In Afrikaans kan jy witvoetjie soek as jy iemand se guns wil wen, met die leeu se stert speel as jy moeilikheid soek en só ʼn laspos onder sy blaker skop dat sy kers wip as jy hom uiteindelik afgeskud kry. Jy kan iemand in die oë sit as jy dié in die verleentheid stel, ʼn sukkelaar van die wal in die sloot help, ʼn goedgelowige siel om die bos lei en ʼn fyngevoelige gees se lang tone raaktrap. Dis mos ʼn taal wat gemaklik in sy sprekers se monde sit.

Maar Afrikaans het nie net ʼn ryk skat van opgetekende woorde en uitdrukkings nie, dis ʼn taal wat daagliks groei en gedy:

Ons het onlangs blakerteks (Engels: blurb), buisserp (Engels: Buff) en damprook of damp (Engels: vape) bygekry. Uit ons bekende woordeskat het vatvyf vir die Engelse high five weer nuwe lewe gekry. Maar ons het nie net vertaal nie, ons het ook nuwe woorde gemaak: Iemand wat laf is, is begailik, ʼn duiwelstertis ʼn mes, ʼn grilgriet is ʼn vrou wat vir alles gril, en ʼn trolvegter is iemand wat internettrolle op hulle plek sit. Ons lekker ou voertsek het ook nuwe lewe gekry in die nuwe tsek, wat net so graag deur ons landgenote gebruik word. En van die jongmense kry ons awê en bra, alles tekens dat Afrikaans onder die volgende geslag lééf.

ʼn Paar bekendes sê ook dat Afrikaans behoorlik raakvat waar ander tale rondtas: 

By die Toks en Tjops-span voel Toks van der Linde dat “lekker” die lekkerste sê – kop in een mus met Virseker Beker se Hamilton Wessels. Breyton Paulse hou voet by stuk dat “plettervat” die beste van die tong af rol, terwyl Vaatjie meen dat “braai” koning kraai.

Springbok-rugbyster Frans Steyn sê “bakgat” is die beste, terwyl die meer poëtiese “asembenemend” sanger Refentse se stem kry. Nuusleser Daniëlla van Heerden is glo van kleins af as ʼn nuuskierige “agie” beskryf – ʼn woord met ʼn “g” wat maklik van Afrikaanssprekendes se tonge af rol, maar hulle Engelse eweknieë gereeld hoofbrekens besorg!

Maar natuurlik is ons nog nie klaar aan Afrikaans gewerk nie. Daar is so ʼn paar woorde wat nog gereeld ʼn kopkrappery veroorsaak, en vertalers soek steeds na gemaklike ekwivalente vir woorde en uitdrukkings soos in person meeting (waar die deelnemers fisiek teenwoordig is), swipe (wat ʼn mens oor ʼn raakskerm doen), like (wat ʼn mens op Facebook doen), word of mouthoff the gridpower couplecondiments (bv. op restaurante se tafels), toppings (op pizza), cover (iemand wat ʼn opname van ʼn bekende kunstenaar se liedjie maak) en “real life”.

Virseker en VivA verwelkom enige varsgebekte nuutskeppings vir hierdie – en ander – woorde via sosiale media. Deel jou gunstelingwoord, -gesegde of jou slimste nuutskepping met die hutsteken #Moedertaaldag, noem @virseker en @viva_afrikaans en wie weet, dalk pryk jou woord eersdaags in die WAT!

“Op Moedertaaldag 2021 vier ons Afrikaans – nagenoeg ʼn eeu oud, maar eintlik steeds in sy tienerskoene,” sluit Coetzee af. “Oud genoeg om te weet hy weet baie, wys genoeg om te weet daar’s nog ʼn eindelose skat van dinge om te leer, gewild genoeg om te weet hy behoort, dapper genoeg om te weet dat hy berge kan versit, en passievol genoeg om daad by die woord te voeg en dit met oorgawe te doen!” 

Virseker en Afrikaans:

Virseker, Suid-Afrika se eerste en enigste trots Afrikaanse versekeringsproduk, span ook die Virseker Trust ten bate van Afrikaans in. Die klem word veral gelê op Afrikaanse kunste, opleidings- en onderwysinisiatiewe wat na aan die harte van die Afrikaanssprekende gemeenskap lê, sportontwikkeling en ondersteuning van dié in nood.

Die Virseker Trust het tot op datum reeds meer as R75 miljoen in die bevordering van Afrikaans belê deur, onder andere, Akademia – ʼn blinknuwe, klasleidende Afrikaanse universiteit, Aardklop, die eeu oue Virseker Beker-skolerugbytoernooi en ʼn onlangse R1 miljoen-skenking aan Covid-19 verligtingsprojekte.

Virseker is ‘n produk van Auto & General Versekeringsmaatskappy Beperk, ‘n gemagtigde Versekeraar en Finansiële Diensverskaffer.

VivA en Afrikaans:

VivA is ʼn niewinsgewende maatskappy wat gestig is as ʼn navorsingsinstituut, met die missie om ʼn inklusiewe diens aan die taalgemeenskap te lewer ten opsigte van die beskikbaarstelling van digitale hulpbronne in en oor Afrikaans 

VivA het op die oomblik reeds die volgende portale: Woordeboekportaal (waarin ons al meer as 50 woordeboeke en woordelyste het), Adviesportaal (waarin ons taaladviseur, Sophia Kapp, taaladvies gee), Inligtingsportaal (waarin ons onder andere ʼn reeks blogs en podsendings gelaai het), Korpusportaal (waarin daar meer as 280 miljoen tekste is waarin taalwerkers taalpatrone kan naspeur), Taalportaal (wat ʼn vergelykende grammatika tussen Afrikaans, Nederlands en Fries huisves) en Taalonderrigportaal (wat ʼn algemene Afrikaanse grammatika en ʼn Afrikaanse skoolgrammatika huisves). Al hierdie is gratis toeganklik vir die hele taalgemeenskap. Meer inligting is beskikbaar by www.viva-afrikaans.org.

Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!