Let Wel

COVID-19: Kry jou ryding só gereed as dit lank stil gestaan het

2 min lees tyd
Perskamer 08 Mei 2020 deur Virseker

As gevolg van die inperkingstyd, weens die Covid-19-pandemie, staan talle mense se voertuie agter slot en grendel in die motorhuis. Maar weens die verskillende inperkingsvlakke wat die regering in plek gestel het, begin talle mense terugkeer werk toe of moet van hulle dalk voorberei om binnekort weer die daaglikse rit na hul werkplek aan te pak.

Tog moet bestuurders daarteen waak om net agter die stuur in te skuif, die sleutel te draai en dan koers te kies. ’n Voertuig wat te lank gestaan het, moet jy met die nodige versigtigheid aanpak.

 ’n Motorenjin is immers gemaak vir aandrywing en as dit vir ’n geruime ruk nie geloop het nie, kan dit tot skade lei.

 Hier is ’n paar handige wenke vir ’n voertuig wat lank stil gestaan het:

  • Sommige motors mag dalk net met die intrapslag na ’n paar weke dadelik op en wakker klink, maar wees versigtig om sommer net koers te kies. Laat die voertuig eers ’n bietjie luier.
  • Selfs al was jou ryding in die motorhuis, sal dit steeds moontlik onder stof wees.
  • Gaan die voertuig se battery na. As jou motor redelik nuut is, behoort die battery die inperking te oorleef het, maar ’n ouer battery mag dalk herlaai moet word.
  • Onthou ook dat selfs ’n nuwe battery kon pap geraak het, maar voor jy dalk daaraan peuter maak dalk eers seker of dit nie nog onder waarborg is nie.
  • Gaan al die nodige vloeistowwe soos die enjinolie, enjinverkoelmiddel, remvloeistof en vloeistof vir die kragstuur na. Kyk ook of daar genoeg water vir jou ruitveërs is.
  • Dit is veral belangrik om die banddruk ook na te gaan – onthou ook van die noodwiel!
  • Ruitveërs is ’n belangrike veiligheidseienskap wat beteken dit moet in ’n goeie toestand wees. As jou motor dalk in die son die afgelope tyd gestaan het, kon die rubbers van die ruitveërs dalk begin verkrummel het.
  • Gaan ook jou voertuiglisensie na, maar moenie bekommerd wees as dit dalk tydens die inperking verval het nie. Die regering het vir motoreienaars ’n grasietyd gegee vir as ’n lisensie verval het.
Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!