Let Wel

Brandveiligheid vir as jy gaan kamp

2 min lees tyd
Perskamer 28 Julie 2022 deur Virseker

Veiligheid en voorsorg is van primêre belang ongeag of jy op pad, tuis of elders gaan kampeer. 

Op pad

Dinge verloop seepglad – jy en jou geliefdes is op pad om in die boendoes te gaan kamp – en toe begin dinge skeefloop. Jou viertrekvoertuig slaan aan die brand! 

Daar kan soveel moontlike oorsake wees. Om net ‘n paar te noem: dit kan wees van droë lang gras wat in die onderstel versamel het tot oorverhitting, ‘n brandstoftenk wat lek of elektriese bedrading. 

Dan onthou jy dat jy ‘n brandblusser iewers in jou voertuig het. Maar is dit die regte een? As dit ‘n droëchemiese-poeierbrandblusser wat vir Klas A-, B- en C-brande is, kan dit die meeste van jou probleme oplos. Maar as dit ‘n 1 kg-blusser is, gaan dit slegs vir 10 sekondes werk. Dié blussers is ook in ‘n 4 kg-weergawe beskikbaar en dit word aanbeveel dat jy altwee kapasiteit-blussers in jou viertrek installeer.

Kamptyd

Brande is een van die mees onvoorspelbare dinge in die lewe en dit kan in ‘n oogwink verwoesting saai. En wanneer jy kamp, is die risiko ook hoog. Daarom is dit ‘n goeie idee om ‘n koolstofdioksied-brandblusser soos die Fire Striker in jou kampkombuis te monteer. Dié blusser het nie ‘n vervaldatum nie.

Besig om spek in ‘n pan te braai en dit bars in vlamme uit? Dit kan jy smoor deur ‘n deksel op die pan te sit. 

Maar wat as jou kampvuur buite beheer raak?

Kampterreine is gewoonlik goed toegerus vir kampvure, maar dit beteken nie jy moenie ook dubbel seker maak alles is in orde nie. 

Moet byvoorbeeld nie vuurmaak waar daar oorhangende takke is bo die plek waar jy jou vuurtjie wil aansteek nie, en ook nie droë blare en takke op die grond naby jou vuur nie. Dis ook ‘n goeie idee om altyd ‘n emmer sand naby te hou, net vir ingeval . . . En die absolute goue reël: Hou deurentyd ‘n oog op jou kampvuur.

Wanneer jy klaar gebraai het en dis tyd om in te kruip of op te pak, moet jy seker maak die vuur is heeltemal geblus. Verkieslik moet die vuur uitgebrand wees, waarna jy steeds water op die as moet gooi. 

As dit nog smeul, moet jy minstens twee emmers water op die kole gooi om die vuur te “verdrink”. Roer deur die as-watermengsel en voel of daar nog  hitte in die kole is. As jy nog enige sisgeluide hoor, is dit nog nie behoorlik geblus nie. As dit té warm is om aan te raak, is dit te warm om net so te los.

As daar nie genoeg water is nie, kan jy ook sand daarop gooi.

Watter brand val onder watter klas?

Hoe kies jy die regte brandblusser? Hier is ‘n kortlikse uiteensetting volgens die Europese ISO-standaard A, B, C, D en F wat ons plaaslik inspan:

Klas A – gebruik nat chemiese brandblussers/skuimbrandblussers: papier, hout, karton en plastiek (byvoorbeeld ‘n braaivleisvuur wat buite beheer raak of jou motor se instrumentepaneel). 

Klas B – gebruik skuimbrandblussers/koolstofdioksied-brandblussers: paraffien, petrol of diesel (byvoorbeeld ‘n lantern wat omgeval het of ‘n brandstoftenk wat lek)

Klas C – gebruik koolstofdioksied-brandblussers: Elektries van aard (byvoorbeeld foutiewe bedrading)

Klas D – gebruik droë chemiese-poeierbrandblussers: Chemikalieë en metale

Klas F – gebruik nat chemiese brandblussers: Kookolie, ander vette en vloeibare gasse (byvoorbeeld in restaurante en kampkombuise) 

  • Gehalogeneerde koolwaterstofbrandblussers word verbied omdat die gas skadelik is vir die osoonlaag. 
  • Moet nooit waterbrandblussers gebruik vir klas B-, C-, D- en F-brande nie.

Bronne:
https://www.outsideonline.com/outdoor-adventure/environment/how-to-put-out-campfire/
https://www.dec.ny.gov/outdoor/7827.html
https://thecampstove.com/how-can-we-prevent-fire-accidents-during-camping/

Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!