Let Wel

Belangrike versekeringsvoornemens vir die nuwe jaar

2 min lees tyd
Perskamer 15 Desember 2021 deur Virseker

WENK 1: VERSEKERDE WAARDE TEENOOR VERVANGINGSWAARDE

Daar’s beslis beter verrassings as om uit te vind dat jou versekeringseis silwer munte uitbetaal, terwyl jy ‘n hele klomp oranje note, en ‘n ekstra nier, benodig om jou besittings te vervang.

Maak dus dubbel seker dat die versekerde waarde – die bedrag waarteen jou besittings verseker is - in lyn is met die vervangingswaarde - oftewel die bedrag wat dit jou sou kos om dit teen vandag se pryse te vervang.

Dis ook slim om jou te vergewis van enige bybetalings wat in jou polisdokumentasie gespesifiseer word. ‘n Laer bybetaling beteken gewoonlik ‘n hoër maandelikse premie, terwyl ‘n hoër bybetaling jou meer sien opdok wanneer jy wel eis, maar jou ‘n hele paar rand op jou maandelikse premie kan spaar.

WENK 2: NEEM KENNIS VAN DIE BEPALINGS EN BYVOORDELE VAN JOU VERSEKERINGSPOLIS

Geen gat in jou sak brand erger as ‘n onnodige een nie. Dié brand wat jy voel wanneer jy ‘n ding goedkoper of selfs gratis kon kry, maar ten duurste daarvoor betaal het.

Gaan jou versekeringspolis na vir enige byvoordele wat gratis of teen ‘n nominale bedrag aan jou gebied word, soos padbystand, wegsleepdienste, huisbystand (vir dienste soos loodgieters, elektrisiëns, vensterpassers en slotslypers), sowel as mediese-, regs- en traumabystand en selfs vermaaklikheidsbystand… en maak daarvan gebruik.

Maak seker dat jy jou versekeraar se noodnommer altyd byderhand het.

Gaan ook die res van jou polisdokumentasie deeglik na sodat jy in fyn besonderhede kennis dra van jou dekking, bepalings en voorwaardes. Moenie anneem dat jy gedek is teen alle risiko’s net omdat jy ‘n premie betaal nie. 

WENK 3: ONDERHOU JOU MOTOR DEEGLIK

Swak onderhoud kan enige motor, oud of nuut, vinnig in ‘n doodskis op wiele laat ontaard – iets wat nie alleen opdraandepad vir jou versekeringseis kan veroorsaak nie, maar jou en jou geliefdes, sowel as ander motoriste, julle lewens kan kos.

Dinge soos die wiele, bande, wielbalansering- en belyning, die remme, veringstelsel, windskerm, ruitveërs, veiligheidstelsels, elektriese stelsel, bakwerk en bybehore moet gereëld nagegaan word om te verseker dat jou voertuig een honderd persent padvaardig is.

Dis veral belangrik voordat jy die langpad aandurf.

Die beste raad is proaktiewe, voorkomende onderhoud: om jou voertuig gereëld deur ‘n kenner te laat nagaan en dit volgens die vervaardiger se spesifikasies – deur ‘n erkende diensverskaffer - te laat versien vir volkome gemoedsrus.

WENK 4: GAAN GEBOUE DEEGLIK NA EN BELê IN GOEIE ONDERHOUD

Maak seker dat jy gereëld ‘n ogie gooi, of laat gooi, oor die dak, geute, ondersteuningstrukture, pype, dreineringstelsels, muurproppe, uitklinkskakelaars en bedrading en stel enige foute – soos kraak-, lek- of roespekke - so gou as moontlik reg.

Let veral op takke wat dreig om ‘n struktuur te beskadig en plantegroei wat ‘n moontlike brandgevaar inhou en sny of snoei dit weg.

Terwyl jy hierdie inspeksies doen, is dit ook slim om die geyser, hekmotor en elektriese heining na te gaan om seker te maak dat hule aan wetlike standaarde voldoen en optimaal werk.

WENK 5: WEET WAT GEDEK WORD DEUR HUISINHOUD- EN DRAAGBARE GOEDEREVERSEKERING

Hoe verseker ‘n mens dinge wat binne is, en binne bly… en dinge wat binne is, maar soms buite bly? Huisinhoud versekering en draagbare goedere versekering veroorsaak soms verwarring van Babelse proporsies!

Huisinhoudversekering dek alles wat sou uitval indien jy jou huis, motorhuis en buitegeboue se dakke sou afhaal en hulle sou omkeer: jou meubels, huishoudelike elektroniese ware, ornamente… Alles wat binne die huis is wat nie gereëld elders geneem word nie.

Draagbare goedereversekering, darinteen, dek die dinge wat jy gereëld saam met jou neem, soos jou selfoon, skootrekenaar, tabletrekenaar, kamera, handsak, horlosie en juwele.

Indien jy onseker is oor wat jou huisinhoud en draagbare goedere versekering dek en wat nié, gaan dit met jou versekeraar na net om dubbel seker te maak.

Dis ‘n slim idee om die inventaris van huisinhoud en draagbare goedere wat jy laat verseker so gedetailleerd as moontlik aan jou versekeraar deur te gee en om hierdie inventaris minstens een maal per jaar op te dateer.

WENK 6: MAAK SEKER DAT JOU BESONDERHEDE OP DATUM IS

Soms is die persoon wat Jan Taks ken en die een wat aansoek doen om ‘n huislening twee verskillende mense. Dieselfde geld soms vir versekering, net omdat kliënte soms nalaat om hulle besonderhede akkuraat weer te gee of op te dateer.

Dinge soos die adres waar jou voertuig snags staan, die gereëlde bestuurder van jou voertuig en sekuriteitsmaatreëls wat in plek is, is uiters belangrik om met jou versekeraar te deel en gereeld op te dateer.

Dit alles vorm deel van die voorwaardes waarop jou versekeRAAR jou versekeRING onderskryf en kan verrykende gevolge vir jou eis hê.

Sou jou 18-jarige byvoorbeeld hulle lisensie kry en gereëld jou motor bestuur, jou huis spog met blinknuwe elektriese omheining, jou bakkie se ratslot nie meer werk nie, of jy vir ‘n verlengde periode by ‘n ander adres bly, stel onmiddellik jou versekeraar in kennis.

WENK 7: SOU DIE NOODLOT JOU TREF, GAAN KALM EN SISTEMATIES TE WERK

Sou jy in ‘n ongeluk betrokke wees of van jou besittings gesteel of beskadig word, is dit moeilik om kalm te bly en te fokus.

Mens se gedagtes spring rond oor hoe dinge anders kon wees, wat wié se skuld was, hoe jy dit wat beskadig is kan vervang, hoe jy deur die res van jou dag gaan kom en dalk selfs wat jy alles aan die vabond sou doen wat jou besittings gesteel het.

Dis egter van kritieke belang dat jy fokus daarop om rustig en sistematies te werk te gaan deur:

  1. Buite gevaar te kom.
  2. Kalm te bly.
  3. Die owerhede, insluitend jou versekeraar, in kennis te stel en te ontbied.
  4. Gebeure en bewyse deeglik te dokumenteer en weer te gee. (Dit sluit adresse, voertuigbesonderhede en registrasienommers in).
  5. Kontakbesonderhede van ander betrokke partye, ooggetuies en die owerhede te kry.

So ‘n benadering kan jou baie tyd, moeite, frustrasie en selfs geld spaar.

WENK 8: DOKUMENTEER EN ONDERSTEUN JOU EIS MET BEWYSE, BESONDERHEDE EN RAMINGS.

Die huiswerk betrokke by ‘n versekeringseis ná ‘n krisis is soos detensie ná 2 periodes wiskunde op ‘n Vrydagmiddag, maar dis broodnodig om dit deeglik te doen.

‘n Goeie vertrekpunt is om alle bewyse – foto’s, ooggetuies se verklarings ens. – by jou eis in te sluit, saam met baie gedetailleerde besonderhede van waar ‘n insident afgespeel het en wat verlore, beskadig of gesteel is. 

Spesifieke detail rondom straatname, make, reeksname, modelnommers ensomeer is van kritieke belang.

Maak ook seker dat jy goed gedetailleerde kosteskattings in inwin vir die herstel en/of vevanging van jou besittings en dit by jou eis insluit.

Dié huiswerk is wel moeite, maar kan jou eis baie goed ondersteun en selfs die verwerking daarvan bespoedig.

WENK 9: VRA UIT OOR HOE JOU VERSEKERING VIR JOU BEHOEFTES AANGEPAS KAN WORD

‘n Spesifieke broek lyk nie noodwendig goed aan al wat ‘n boud is nie. Net so pas een versekeringspakket nie noodwendig almal nie. So, ‘n pasgemaakte oplossing wat spesifiek aan jou unieke behoeftes voorsien is ‘n baie goeie skuif.

Jy mag dalk elke sent moet omdraai en vir NOU net die mees basiese versekering vir jou voertuig en huisinhoud benodig.

Dalk het jy die behoefte aan meer omvattende versekering vir jou huis, motor en besittings, tesame met ekstra produkte soos ‘n persoonlike ongeluksplan, regsbystand en ‘n begrafnisplan.

Dalk is jy die eienaar van ‘n onderneming, wat beteken dat Virseker se besigheidsversekering ‘n beter stel oplossings vir jou bied.

Hoe dit ookal sy het ons ‘n oplossing wat jou leefstyl, EN jou sak, netjies sal pas!

WENK 10: MOENIE DááI KLIëNT WEES NIE

“‘n Leuen het spoed, maar die waarheid het uithouvermoë.”

Dit is belangrik om te alle tye een honderd persent eerlik met jou versekeraar sowel as die owerhede te wees. Verdraaide waarhede of blatante leuens kan ongelukkig heelwat meer as net ‘n verwerpte eis tot gevolg hê.

 Die grootste sondebokke wanneer dit by versekering kom is:

  • ‘n Verdraaide weergawe van die waarheid om die blaam op iemand anders te plaas.
  • Onakkurate besonderhede van versekerde items en sekuriteitsmaatreëls.
  • Oordrewe eise waar besittings se waarde oorskat word en/of goedere wat nie tydens ‘n spesifieke insident gesteel of beskadig is nie as sulks aangemeld word.

Dit kan lei tot ‘n slegte profiel en selfs weiering van jou versekering. ‘n Oop en eerlike verhouding met jou versekeraar help om ‘n goeie profiel te bou – iets waarby jy in die langtermyn baie baat kan vind!

WENK 11: WEES WAAKSAAM EN TREF DIE NODIGE VOORSORG

Die gesegde lui dat voorkoming beter is as genesing. Met versekering geld presies dieselfde.

Die noodlot het ‘n voorliefde vir diegene wat nie op hulle hoede is, en nie genoegsaam voorbereid is nie, so jou beste verdediging om jouself, jou geliefdes en besittings te beskerm… is JYSELF.

Dit klink dalk voor die hand liggend, maar eenvoudige voorsorgmaatreëls  - soos om nie waardevolle besittings op jou voertuig se sitplek te los nie, gevaarareas te vermy, verkeersreëls te gehoorsaam, dubbel seker te maak dat jou huis en voertuig wel gesluit is, jou motor en huis goed te onderhou, te belê in goeie sekuriteit, jou kinders in goeie veiligheidsbesingsels te onderrig en noodnommers op jou foon te berg – kan groot verliese voorkom, dalk selfs lewens red.

Wéét dat misdadigers jou dophou, wéét dat ‘n ongeluk binne ‘n oogwink gebeur. Dink elke dag daaraan en wees meer proaktief voorbereid.

 

 

 

Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!