Let Wel

Afrikaans: Van toeka tot nou

2 min lees tyd
Perskamer 13 Februarie 2017 deur Virseker

Ons taal, die taal van miljoene, groei en verander steeds ná honderde jare sedert sy ontstaan. Ons loer bietjie om te sien hoe die fondasie van dié familie van dialekte gelê is.

 

Baie mense dink dalk dat Afrikaans se wortels in 1652 geplant is, maar die Afrikaanse taalgeskiedenis strek nog verder terug – na 1595. Die taal het ontstaan toe die Khoi en die groepe op die Nederlandse skepe mekaar beter probeer verstaan het. Alhoewel die Nederlanders ’n invloed op die taal gehad het, moet ons onthou dat Afrikaans nie ontstaan het uit die Nederlands wat Oom Jan se mense gepraat het nie. Dit het uit die mond van die Khoi gekom.  “Hierdie aanleerderstaal van die Khoi-sprekers toon ’n verskeidenheid ooreenkomste met latere Afrikaans en word daarom vandag as Khoi-Afrikaans beskou”, skryf Afrikaans.com. 

 

In die 1600’s al, het reisigers aangeteken dat die Kaapse taal nie soos dié van hul Europese taal klink nie. Mens kan dus sien hoe lank terug ons taal tot stand gekom het.

 

Toe Afrikaans ‘n paar dekades later met Engels kennis gemaak het, het die taal verder ontwikkel.  Ná die tweede Britse oorname is ’n verengelsingsbeleid ingestel om Engels die enigste taal in Suid-Afrika te maak, maar die beleid het nie geslaag nie. Die 18de eeu het baie verandering gebring. Twee groepe – die Khoi-Afrikaners en die Veeboerafrikaners – het oor die Hottentots-Holland-berge getrek. “Hulle het mekaar se dialekte van Afrikaans beïnvloed, en teen die middel van [hierdie] eeu, was Afrikaans op die Voorposte ’n nuwe taal met ’n nuwe identiteit.”

 

Omdat vandag se Afrikaans uit ‘n mengelmoes dialekte ontstaan het, lyk dit anders in spreek- en skryfvorm, asook in verskillende dele van ons land. Daar is, byvoorbeeld, Kaapse Afrikaans en Noordwestelike Afrikaans.

 

Meeste vorme van ons taal is heelwat ouer as Standaardafrikaans. Afrikaans is eers in 1925 as amptelike landstaal verklaar! “Afrikaans was tot ná die helfte van die 19de eeu net ’n spreektaal. Tóé eers is daar begin om in Afrikaans op verskillende plekke, op verskillende maniere, en met verskillende oogmerke in gedagte, te skryf.”

 

Vir ‘n oulike, omvattende tydlyn van hoe Afrikaans ontstaan en ontwikkel het, kliek hier.

 

Bron: www.afrikaans.com

Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!