Let Wel

Verminder verkeersopeenhopings só

2 min lees tyd
Motor 11 Julie 2017 deur Virseker

Wil jy jou hare uit jou kop trek wanneer jy in ’n verkeersknoop sit? Nie net is dit baie frustrerend om jou tyd in verkeer te mors nie, dit kan jou meer geld uit die sak jaag. Jy gaan meer geld op brandstof spandeer, en jou ongeluksrisiko is ook hoër. Die goeie nuus is dat almal kan saamwerk op die opeenhopings te verminder.

Die statistieke

TomTom het onlangs ’n verkeersindeks saamgestel. 390 stede is bestudeer en Kaapstad is 48ste op die lys geplaas! Johannesburg is nie ver agter nie, en het 70ste plek gehaal. Dit is ook bewys dat ons grootste stede tot en met 5% meer verkeer ervaar as gedurende die vorige jaar se opname.

Lees meer oor die indeks hier.

Wat veroorsaak verkeer?

Virseker woordvoerder Elmarie Twilley sê dat navorsing daarop dui dat daar meer as 12  miljoen voertuie op Suid-Afrikaanse paaie is. “Padwerke, padblokkades, bottelnekke, ongelukke en voertuie wat onklaar raak is gereeld die sondebokke wat swaar verkeer veroorsaak, maar dis menigmaal ‘spookverkeer’ – die soort wat skynbaar uit die niet verskyn – wat groot vertragings veroorsaak”.

Die grootste oorsake van verkeer is:

  • Te veel voertuie op die pad;
  • Gebrek aan aandag terwyl ons bestuur;
  • Motoriste wat nie ’n konstante spoed handhaaf, of egalig versnel en spoed verminder nie;
  • Nie genoeg spasie tussen voertuie op die pad nie (veiligheidsbuffer); en
  • Oorvertroue in bestuursvaardighede.

Bron: Video

Wenke om verkeersopeenhopings te verminder

  • Maak van ’n saamryklub of openbare vervoerstelsel gebruik.
  • Belê in die onderhoud van jou voertuig om te verhoed dat dit onklaar raak.
  • Vermy aandag-afleiers soos eet en drink, grimering, die omsien na kinders, of die gebruik van jou selfoon terwyl jy bestuur.
  • Kies die korrekte baan vir die spoed waarteen jy ry.
  • Hou ’n konstante oog op die voertuie voor jou en handhaaf ’n genoegsame volgafstand.
  • Beplan draaie, opritte en afritte goed vooruit om seker te maak dat jy betyds in die regte baan is.
  • Gebruik rigtingwysers duidelik en vroegtydig.
  • Akkommodeer ander motoriste, veral wanneer dit by die saamvloei van bane kom waar ’n ‘ritssluiter’-struktuur gevolg moet word.
  • Gebruik verkeersverslae of ’n GPS om verkeerbelaaide-areas te vermy.
  • Moenie ‘rubbernek’ by ’n ongelukstoneel of waar ’n voertuig onklaar geraak het nie.
  • Rapporteer foutiewe verkeersligte, skade aan paaie, obstruksies, en heetkolle vir slegte bestuurdergedrag aan die owerhede.

“Dit kom alles daarop neer om ander motoriste te respekteer, verkeersreëls te gehoorsaam en doelbewus te bestuur om vloei te bevorder”, sluit Twilley af.

Bron: Altus Venables van I HEART PR
Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!