Let Wel

Moet jy jou kar laat luier op koue wintersoggend

2 min lees tyd
Motor 07 Augustus 2015 deur Virseker

Ons almal ken iemand wat sweer by dié raad: laat jou jou kar eers ʼn rukkie luier voordat jy die pad aandurf op koue wintersoggende. En dit maak sin as jy dink aan hoeveel langer dit ons vat om aan die gang te kom wanneer daar so ʼn ysige windjie waai.

 

Maar, dit is nie noodwendig die beste idee om jou kar te laat luier nie – self op die koudste oggende! Soos meeste wolhaarstories is daar wel ’n greintjie waarheid te vind in die oorsprong van die storie.

 

Dit ís waar dat ’n  koue kar slegter petrolverbruik het; en natuurlik vat dit langer vir jou kar om sy optimale temperatuur te bereik in die winter.

 

Dit is veral waar vir ouer karre wat nog vergassers gebruik. Teen die ‘80s en vroeë ‘90s het meeste motorvervaardigers opgehou om vergassers te gebruik en eerder oorgeskakel na elektroniese sisteme.

 

In ouer karre wat steeds vergassers het, kan die koue lol met die hoeveelheid lug en brandstof wat op ’n slag deur die enjin verbrand word. Maar selfs dan is minder as ’n minuut se luier nodig om jou kar voor te berei vir die rit. Indien jy jou kar vir te lank laat luier kan dit eerder skade aan jou kar doen. Die olie kan verdun word deur met te veel brandstof te meng wat jou enjin kan beskadig.

 

Met nuwe tegnologie soos afstandbeheerdesleutels het meer en meer mense die gewoonte gekweek om hul karre sommer vir tien minute voor hul vertrek te laat luier! Die gevolge hiervan kan rampspoedig wees vir jou moderne motor oor ’n lang tydperk. Veral jou vonkproppe en uitlaatpyp kan maklik beskadig word in die proses, want dit is totaal onnodig om jou kar op te warm.

 

Dié gewoonte kan ook natuurlik ’n gat in jou sak brand oor tyd; jou motor verbruik aansienlik meer brandstof terwyl hy luier. Tegnologiese ontwikkeling is juis daarop gemik om elke liter petrol so ver moontlik te rek – maar luiering maak al dié vooruitgang ongedaan. Wanneer jou kar luier kry jy effektief nul kilometer per liter.

 

Buiten vir die skade wat jy skoon per ongeluk jou motor kan aanrig, is luiering ook ’n groot bydraer tot lugbesoedeling. So nie net brand luiering ʼn gat in jou sak nie maar ook in die natuur.

 

Moderne karre het ’n self-regulerende elektroniese sisteem wat seker maak dat die enjin die regte hoeveelheid petrol en lug terselfdertyd kry. Meeste motors op ons paaie is dus reg vir byna enige avontuur die oomblik wat jy die sleutel in die aansluiter draai.

 

Dis wel belangrik om aanvanklik maar rustig te bestuur – om voet in die hoek te sit met ’n yskoue kar is beslis nie aan te beveel nie! Die eerste paar minute van jou reis is juis daar om jou kar so vinnig as moontlik warm genoeg te kry om optimaal brandstof te verbruik. Maar dit alles gebeur van self! Vat die eerste paar minute van jou reis rustig en alles behoort perfek te werk.

 

Motors is so ’n noodsaaklike deel van ons daaglikse lewens, dis g’n wonder almal probeer elke truuk in die boek om hul motors se lewens te verleng nie. Gelukkig is daar maklike maniere om jouself te beskerm teen die noodlot se verrassings – loer na al ons motorversekerings opsies vir een wat jou behoeftes pas.

Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!