Let Wel

Ken jou brandstof

2 min lees tyd
Motor 10 April 2018 deur Virseker

Weet jy hoekom jy 93 of 95 brandstof in jou kar gooi? Dié nommers verwys na die oktaansyfer in die brandstof, maar hoekom is dit belangrik? Ons brei ’n bietjie uit.

Eers moet jy verstaan dat moderne enjins in vier fases werk:

  1. Lug word deur ’n vakuum by die enjin se inlaatklep ingesuig. Die vakuum word deur die afwaartse beweging van die enjinsilinder veroorsaak, en brandstof word sodoende in die silinderkamer gespuit.
  2. Die brandstof- en suurstofmengsel word saamgepers soos die silinder opwaarts beweeg, en die vonkprop steek dit aan die brand.
  3. Dié verbranding stoot dan weer die silinder afwaarts, en die beweging laat die krukas draai (wat die kar laat ry).
  4. Die silinder beweeg weereens opwaarts en stoot die verbrande gasse by die uitlaatklep uit. Dan word die stappe weer herhaal.

Vóór die verbranding in fase twee kan plaasvind, moet daar ‘n mengsel van brandstof en suurstof wees. As daar meer suurstof as brandstof is, word die mengsel as “lean” beskryf. En as daar meer brandstof as suurstof is, word die mengsel as “rich” beskryf.

Wat beteken oktaan?

Soos vroeër genoem, verwys die nommers 93 of 95 na die oktaansyfer van die brandstof. Hoe hoër die nommer, hoe hoër die oktaan – en hoe hoër die oktaan, hoe laer die ontvlambaarheid. Dus, brand 93 makliker as 95.

As ons weer kyk na die vier fases van die enjin, dan is dit belangrik om te besef hoekom motorvervaardigers sekere brandstof aanbeveel. Sou jy die verkeerde brandstof gebruik, kan die verbranding plaasvind vóór die silinder in sy optimale posisie is. Dit veroorsaak dan dat jou kar minder krag het, en selfs skade kan kry. Moderne enjins kan hul ontstekingstyd reguleer, so dit maak nie noodwendig ‘n baie groot verskil nie, maar meeste bronne stem ooreen dat gewone motors (nie sportmotors nie) nie ’n hoër oktaan brandstof nodig het nie. 

Wat van diesel?

Moderne dieselenjins vereis diesel met ‘n ppm (“parts per million”) van 50 of minder. Die enjin en dieselfilter kan beskadig word as ‘n swakker gehalte diesel gebruik word. Boere met hul eie diesel op die plaas moet seker maak dat die dieselgehalte goed genoeg is vir hulle bakkies. 500ppm, of selfs 5000ppm, mag dalk reg wees vir trekkers en trokke, maar word nie aanbeveel vir passasiersvoertuie nie.

Daar het jy dit! As jy onseker is van watse brandstof jou motor gebruik, kyk in die eienaarsboekie of vra een van die petrolbeamptes by die vultstasie.

Bronne:

https://www.proctorhonda.com/blog/2014/january/3/introduction-to-octane-rating.htm

https://lifehacker.com/what-happens-if-you-put-the-wrong-octane-of-gas-in-your-1785407622

http://www.roadandtrack.com/new-cars/car-technology/news/a18008/premium-fuel-futures/

https://www.youtube.com/watch?v=gqvhaPLuTPI

http://automedicsafrica.com/car-running-rich-lean-means-much-insufficient-fuel-supply/

Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!