Let Wel

Hou jou wiele veilig

2 min lees tyd
Motor 30 September 2015 deur Virseker

Kriminele word slimmer en brawer by die dag. Hulle kan voertuie (of dele daarvan) binne sekondes roof. Motor roof is nie net ʼn gevaarlike en traumatiese gebeurtenis nie, maar dit is ook duur en veeleisend om alles uit te sorteer.  Dis juis hoekom dit so belangrik is om goeie motorversekering te hê, en hier by Virseker sluit ons sommer Trauma- en Regsbystand by jou polis in; dit gesê, moet mens tog maar versigtig wees.

 

Lees bietjie deur ons wenke, wat die kanse kan minder maak dat jou wiele gaan voete kry.

Spoorsny

Installeer ʼn opspooringstoestel in jou motor! So ʼn toestel sal nie net die kanse verbeter dat jy jou voertuig terug kry nie maar kan moontlik ook jou versekeringspremie verlaag. Indien jy nie so ʼn toestel het nie kan jy ons gerus skakel sodat ons jou kan help met ons vennote. Daar is selfs opspooringstoestelle wat dit kan verhoed dat jou sluitings-sein nie geblokkeer sal word nie.

 

Sit ʼn klokkie aan

Installeer ʼn alarm en/of ʼn immobiliseerder in jou voertuig. ʼn Motoralarm behoort nie net jou motorversekering premie te verlaag nie maar sal ook booswigte skrik op die lyf jaag. Wat meer is dit sal ook almal in die omgewing waarsku dat daar aan jou voertuig gekarring word. Jou immobiliseerder sal jou enjin stol wanneer dit aangesluit word sonder dat die immobiliseerder afgeskakel word. Dis juis hoekom dit so belangrik is om die immobiliseerderknoppie op ʼn plek te sit waar kriminele dit nie sommer sal vind nie.

 

 

Sluit hom

Dit maak nie saak of jy vinnig inhardloop om jou beursie te gaan haal of die motorhek sluit nie – self al reën dit katte en honde; sluit jou voertuig! Booswigte benodig net ʼn paar sekondes en dan is jou wiele skoonveld. Belê in ʼn ratslot as jou motor nie reeds een het nie en sluit die elke keer as jy parkeer. Ratslotte maak dit nie net moeiliker vir kriminele om jou voertuig te steel nie maar dit skep ook die indruk dat daar ander sekuriteitsmaatreëls in plek is, wat die skurke sal afskrik.

 

Hou ʼn ogie oop

Wees bewus van wat om jou aangaan. Wanneer jy by ʼn rooilig stop moenie jou gedagtes laat dwaal nie, hierdie is al geleentheid wat kriminele nodig het om toe te slaan. Dieselfde geld vir wanneer jy by die huis kom. Kyk rond en maak seker alles is pluis voordat jy jou motor stop en die hek oop maak. As iets uit plek lyk of jy onseker voel ry liefs weg en kry hulp.

 

Sit jou foon neer

So gepraat van aandagtig wees – hou op speel op die foon terwyl jy bestuur. Nie net is dit teen die wet nie, maar dis ook baie gevaarlik en jou versekering gaan nie uitbetaal as jy ʼn ongeluk maak terwyl jy op die foon is nie. Dit is ook baie maklik vir die booswigte om jou foon te gryp of om jou te probeer roof van jou voertuig as jou aandag elders is. Los jou foon in jou sak of beter nog, belê in ʼn handvrye selfoontoestel vir jou motor.

 

Kattebak kraai koning

Raak maar gewoond daaraan om al jou besittings en bagasie in die kattebak te sit; of dit nou die naweek se gholfstokke is of net jou handsak – sit dit weg. Al is jou sak leeg moet dit nie op jou motor se sitplek of iewers waar mens dit maklik kan sien los nie. Dit kan net iemand se nuuskierigheid prikkel en netnou-netnou is jou ruit uit en jou sak weg.

Was agter sy spieëltjies

Kyk mooi na jou voertuig en hou hom skoon. Die taak is baie makliker gesê as gedaan vir baie van ons, maar ʼn skoon kar voel nie net lekker nie, dit help ook met veiligheid. ʼn Voertuig wat goed opgepas word skep die indruk dat daar moontlik veiligheidsisteme in is. Alhoewel, dit eintlik die beste is om maar tog sekere veiligheidsstappe te neem vir jou motor.

 

Lees bietjie op

Lees bietjie op voordat jy ʼn nuwe voertuig koop. Kyk wat word gesê oor die voertuig wat jy in belangstel. Gaan kuier vir die polisie en vra hulle uit oor motordiefstal en hoor wat hulle aanbeveel as ook watse veiligheidswenk hulle vir jou het. Wees baie seker van wat dit is wat jy koop.

Sou jy jouself in die ongelukkige situasie vind waar jy die slagoffer is van ʼn motor verwante misdaad, maak heel eerste seker dat jy en jou passasiers veilig is. Besoek die polisie so gou as wat jy kan sodat jy ʼn saak binne 24-uur van die voorval kan oopmaak. Daarna moet jy jou versekeraar kontak om jou eis in te dien en van daar af sal ons als hanteer.

Onthou, aan die einde van die dag is ʼn voertuig net ʼn besitting wat vervang kan word, maar jy kan nie. Gee liefs jou voertuig op as jou lewe.

Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!