Let Wel

Hoe om jou vier-by-vier silwerskoon te hou

2 min lees tyd
Motor 07 Augustus 2015 deur Virseker

Jou bakkie is altyd reg vir aksie wanneer jy hom nodig het. Of dit nou is om die hele gesin se fietse én al julle kampeertoerusting saam te karwei tydens vakansies, of vir harde werk heeljaar lank – jou bakkie skrik vir niks nie. Natuurlik beteken dit dat jy mooi na jou bakkie moet kyk om seker te maak dat alles in ʼn goeie toestand is.

 

Dat jou bakkie gaan vuil word tydens al jul avonture, is onafwendbaar. Vir sommiges is dit selfs helfte van die pret. Die realiteit is egter dat al die stof, sand en modder nie goed is vir jou bakkie se enjin of bakwerk nie. Hier is ’n paar wenke om jou ryding weer silwerskoon te kry na jul volgende avontuur.

 

Modder

Veral modder kan gevaarlik wees. Elke area se modder is natuurlik anders – sommiges is loperig, maar ander kan baie kleiagtig wees en wanneer dit droog word kan dit soos sement tussen jou kar se onderdele vassit. Dis juis hoekom dit so belangrik is om so gou as moontlik jou kar te was – dit maak dit ook baie makliker om die modder af te kry.

 

Jou beste vriend hier is beslis ’n hoë-druk tuinslang. Dit sal die modder sommer maklik kafdraf en selfs uit die kleinste hoekies uitforseer. As jy nie in jou eie hoë‑druk tuinslang wil belê nie, hoor of jou naaste karwas dalk een het wat jy by hulle kan gebruik.

 

Natuurlik moet jy ook onder jou enjinkap was. Daar is baie opinies oor hoe om te werk te gaan om jou enjin ook moddervry te kry. Veral nuwer vier-by-viers het klomp sensitiewe elektroniese komponente wat beslis nie gek is oor papnat word nie. En wees veral versigtig naby jou lugfilter, bedek dit liefs met plastiek.

 

Meeste gedugte viertrekeienaars was hul enjin versigtig en stuk-vir-stuk met ’n borsel, tuinslang en handdoek. Jy kan ook jou hoë-druk tuinslang gebruik, maar gesoute karwassers beveel aan dat jy dan liewer jou kar se enjin laat loop terwyl jy was. Handelaars beveel ook aan dat ’n mens jou enjin met stoom moet was terwyl die elektroniese komponente met plastiek bedek is.

 

Dis veral ook belangrik om spesiale aandag aan jou verkoeler te gee – dis verbasend hoe baie modder in die klein gleufies kan vassit. Terwyl jy met jou neus in die enjin sit, was jou verkoeler sommer ook.

 

See en sand

Alhoewel daar min strande is waar ’n mens nog toegelaat word om met jou viertrekvoertuig rond te baljaar, bly dit darem een ‘n heerlike uitstappie. Maar, dit kan lei tot roesskade aan jou bakkie se onderstel. Boonop is sand en jou vier‑by-vier se blink verfwerk nie juis maats nie.

 

Weereens is ’n hoë-druk tuinslang die maklikste manier om seker te maak jy kry elke korreltjie sand afgespuit. Maar jou gewone tuinslang se waterdruk behoort genoeg te wees om die sand weg te spoel.

 

Vir die enjin self kan jy ’n soortgelyke proses volg as wat jy sou om van modder ontslae te raak. Na strandavonture is dit baie belangrik om van die soutwater en sandkorrels ontslae te raak. Die sand kan maklik tussen van die meganiese deeltjies inglip en so skade oor die langtermyn veroorsaak.

 

Dis juis ook die sout in seewater wat kan lei tot roes – selfs net ’n seebriesie kan maak dat roes vashouplek kry op jou voertuig. Daarom is dit so belangrik om weereens die onderkant van jou vier-by-vier behoorlik skoon te spuit. Hoe gouer jy die seewater wegspoel met vars water, hoe beter.

 

Algemene wenke

Die beste karwas is ongetwyfeld ’n handwas. Sommige karliefhebbers sien nie eens kar was as werk nie – hulle geniet dit! Dis ’n manier om jou kar beter te leer ken, so ook sal jy onmiddellik sien as daar enige nuwe merkies op jou bakwerk is.

 

Moenie sommer enige seep gebruik om jou kar te was nie. Skottelgoedwasseep sal wel jou vier-by-vier mooi skoon was, maar dit verwyder ook die beskermingswaks wat op jou motor is. Maak dus seker dat jy eerder ’n karsjampoe gebruik wat jou kar se bakwerk beter sal beskerm. In ’n knyp kan jy haaropknapper wat lanolien bevat gebruik. Dit behoort selfs te help dat reën van jou kar af drup soos water van ’n een se rug af!

 

Onthou ook om jou kar af te droog soos wat jy klaar was. Wanneer water verdamp los dit minerale en stof agter. Gebruik sommer ’n ou handdoek hiervoor, of jy kan ’n spesiale rubber afdroër kry wat jou kar in ’n japtrap sal droog hê.

 

Wanneer kampopslaan tyd aanklop, verkies meeste van ons darem ‘n ou koelte plekkie om te parkeer. Gewoonlik is voëltjies die grootste gemorsmakers, maar dennebome, akkerbome en bloekoms kan ook groot sondaars wees! Dit voel soms onmoontlik om boomgom van jou kar af te kry, maar gelukkig het ons ’n maklike oplossing vir die probleem. Gebruik ys om die boomgom spatsels yskoud te maak. Só byna-byna gevries sal die gom sommer splinter en kan jy dit dan versigtig met jou nael afkrap. Moet liefs nie iets harder nader trek nie, dit kan te maklik jou kar se verf beskadig.

 

Maak nie saak waarheen jou volgende reis jou neem nie – jy sal beslis jou geliefde veldbakkie weer splinternuut kan laat lyk sodra julle terug by die huis is. En met ons unieke versekeringspakket vir veldbakkies sal jy gedek wees selfs al is jou volgende avontuur op in Afrika!

Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!