Let Wel

7 hoofredes waarom voertuie onklaar raak en hoe om dit te vermy

2 min lees tyd
Motor 15 Augustus 2017 deur Virseker

Dis een van die grootste nagmerries vir motoriste: op pad werk toe in spitsverkeer, op pad tuis na ʼn lang werksweek of op pad na ʼn welverdiende wegbreek, raak jou motor onklaar. Is daar ʼn manier om die duiweltjies onder die enjinkap raak te sien voordat dit in ʼn ramp ontaard?

“Meganiese probleme kan enige iets van ʼn effense ongerief tot ʼn groot katastrofe veroorsaak”, sê Dawid Botha, woordvoerder van Virseker. “Dit is egter te veel maal die geval dat hierdie probleme maklik voorkom kon word, indien die waarskuwingstekens betyds raakgesien en aangespreek is.”

Volgens die Automobile Association of South Africa, is daar 7 hoofredes waarom motors op SA-paaie onklaar raak: ʼn Pap of foutiewe battery, alternatorprobleme, probleme met die aanskakelaarmotor, koppelaarprobleme, probleme met die vonkproppe, elektriese foute en ratkasprobleme.

“Om te voorkom dat hulle motors onklaar raak, behoort motoriste kennis in te win oor wat elkeen van hierdie onderdele doen, te weet wat die waarskuwingstekens is dat hulle onklaar gaan raak, en moet hulle die nodige stappe neem om foute betyds reg te stel”, stel Botha voor.


Die battery se hoofdoel is om elektrisiteit aan die basiese stelsels wat die voertuig se enjin aan die gang kry – soos die aanskakelaar, brandstofpomp en vonkproppe – te voorsien en om alle elektriese funksies aan te dryf wanneer die motor se enjin af is.


Waarskuwingstekens:
Poeierige aanpaksels aan en rondom die battery en kabels. Los kabels. Lae watervlakke (in batterye wat nie as onderhoudvry gemerk is nie). Flou paneelbordliggies voordat die motor aangeskakel word. Enjin draai stadig wanneer die aanskakelaar gedraai word.


Wenke:
Gaan die battery minstens een keer per maand na vir waarskuwingstekens. Laat dit deur ʼn kenner nagaan en toets. Onthou dat dit normaal is vir batterye om omtrent elke 3 jaar vervang te moet word, so hou ʼn rekord van wanneer die battery geïnstalleer is.


Die alternator genereer en stuur elektrisiteit na die battery en ander elektriese komponente wanneer die voertuig se enjin aan is.


Waarskuwingstekens:
Battery-waarskuwingsliggie. Flou ligte wanneer die voertuig se enjin aan is. ʼn Relatief nuwe battery wat lading verloor selfs wanneer die voertuig gereeld gebruik word. Ongewone geluide wat van die alternator en die band wat dit aandryf kom.


Wenke:
Laat die alternator deur ʼn kenner nagaan wanneer jy enige van hierdie simptome gewaar. Die alternator sal moontlik vervang moet word, maar dit kan ook net iets so klein soos ʼn diens benodig om die alternator se borsels te vervang.


Die aanskakelaarmotor word deur die battery van krag voorsien en is verantwoordelik daarvoor om die enjin te laat draai tot op ʼn spoed waar dit aan die gang kan kom en self kan loop.


Waarskuwingstekens:
Voertuig se enjin draai/karring nie, selfs met ʼn vol battery. Probleme om die motor aan die gang te kry. Klikgeluid wat van die aanskakelaar kom. Aanskakelaar hou aan loop selfs nadat die enjin aangeskakel is.


Wenke:
Indien jy enige van hierdie probleme ervaar, is dit wys om die motor so gou as moontlik deur ʼn kenner te laat nagaan. Die oorsaak kan iets so eenvoudig soos ʼn foutiewe elektriese skakel wees, of iets so ernstig soos ʼn enjin wat op die punt is om vas te steek.


Die koppelaar verbind en ontkoppel die draaikrag van die enjin aan en van die wiele.


Waarskuwingstekens:
Moeilike of raserige ratwisselings. Voertuig beweeg vorentoe terwyl die koppelaar ten volle, of amper ten volle, ingetrap is. ʼn “Sagte” koppelaarpedaal wat nie reageer nie. ʼn Branderige reuk.


Wenke:
Gebruik goeie koppelaarbeheer. Vermy dit om met jou voet op die koppelaarpedaal te ry. Stop so gou as moontlik wanneer jy enige van hierdie probleme ervaar, aangesien ʼn verslyte koppelaar groot skade aan jou motor se ratkas kan aanrig. Laat die probleem deur ʼn kenner nagaan.


Vonkproppe
is verantwoordelik daarvoor om die brandstof in petrolenjins te help ontbrand.


Waarskuwingstekens:
Probleme met aansluiting van die motor. Growwe luiering. Enjin wat misvuur. Tekort aan krag. Hoë brandstofverbruik.


Wenke:
Maak seker dat vonkproppe op die voorgestelde diensintervalle geruil word en dat die vonkproppe, sowel as die kabels wat daaraan gekoppel is, deeglik vas is.


ʼn Voertuig se elektriese stelsel vorm ʼn interverbinde netwerk wat enige iets van die ruitveërs en elektriese vensters, tot die brandstofpomp en veiligheidstelsels aandryf.


Waarskuwingstekens:
tekens sluit ʼn staking van enige, of ʼn kombinasie van die volgende kritiese stelsels in: ligte, instrumentasie, ruitveërs, lugsak-/ ABS-/ EBD-/ ESC-stelsels.


Wenke:
Laat jou motor gereeld deur ʼn dienssentrum nagaan om seker te maak dat geen foute op die aanboord-rekenaar aangedui word nie. Maak veral met ouer motors minstens een keer per maand seker dat alle elektriese komponente in ʼn werkende toestand is.


Die ratkas reguleer die krag van die enjin na die aangedrewe wiele deur middel van ratte.


Waarskuwingstekens:
Probleme om die voertuig in ʼn sekere rat te kry of te hou. Voertuig beweeg nie vorentoe wanneer dit in rat is en die koppelaar gelos word nie. Voertuig huiwer wanneer die koppelaar gelos word en “spring” dan vorentoe of agtertoe. Voertuig ruk wanneer dit in rat is. Vloeistof wat uit die ratkas lek. Oormatige hitte of geraas van die ratkas-area.


Wenke:
Maak seker dat jy ratte so glad as moontlik ruil en kies die korrekte rat vir die spoed waarteen jy ry. Indien jy enige van die waarskuwingstekens ervaar, moenie probeer om “deur te druk” tot by ʼn diensstasie nie – reël onmiddellik vir jou voertuig om nagegaan, en, indien nodig, ingesleep te word.

“Die geheim is, soos altyd, goeie onderhoud volgens die vervaardiger se standaarde”, sluit Botha af. “Dit, tesame met onmiddellike aanspreking van ʼn probleem – en om seker te maak dat jy die nodige versekering en padbystand in plek het vir as dinge skeefloop – kan dalk net die verskil tussen ʼn sorgelose reis en ʼn groot ramp maak.”

Bron: Altus Venables van I HEART PR

Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!