Let Wel

Smoor verkoue en griep in die kiem met dié boererate

2 min lees tyd
Huis 10 Julie 2015 deur Virseker

Jou neus is aan die hardloop en jou keel brand elke keer wat jy sluk. Is dit verkoue of griep? Dis soms moeilik om te weet watter een dit is wat jou nou so olik laat voel, maar hoe gouer jy ’n diagnose kan maak, hoe gouer kan jy die regte stappe neem om weer blitsvinnig op die been te wees. 

 

Hier is 'n paar wenke oor wat om te maak wanneer jy siekerig begin voel.

 

Dis griep as…

…dit jou absoluut uit nêrens uit tref! Griepsimptome is beslis erger as verkouesimptome en oorval ’n mens onverwags. ’n Seer keel, hoofpyn, koors en ’n seer lyf is kenmerkend aan griep. Gewoonlik voel ’n mens ook ’n drukking om die bors en kan ’n hoes ook ontwikkel.

 

Die heel beste medisyne vir griep is ongetwyfeld rus. Dis ook baie belangrik om seker te maak dat jy genoeg vloeistof inneem om dehidrasie te voorkom. As jy vinnig spring en by ’n dokter uitkom kan hy moontlik antivirale medisyne voorskryf. Dié tipe medisyne sal help dat jy baie vinniger gesond word en kan ook help om longontsteking te voorkom. Maar – dis belangrik dat jy dit binne 48 uur vandat jy begin siek word drink, anders sal dit nie effektief wees nie.

 

Gelukkig het die boere raat om te help met griep. Daar is baie verskillende maniere om dié warm medisynedrankie te maak – maar almal stem saam dat dit werk!

 

Gewoonlik word dit gemaak met ’n basis van hardehout – iets donker soos whisky, brandewyn of rum. Meng kokende water en heuning, of in party gevalle suiker, daar in. Vir ‘n ekstra dosis Suid-Afrikaanse gesondheid kan jy dit met rooibostee ook maak. Party mense voeg dan ook suurlemoensap en speserye (enige iets van naaldjies tot kaneel of gemmer) by.

 

Drink die drankie so warm as moontlik en klim dadelik in ’n snoesige bed. As die warm medisynedrankie sy ding doen, behoort jy oornag heelwat van die lam-en-tamheid uit jou beendere uit te sweet. Drink dit elke aand voor bedtyd tot jy weer perdfris en gesond voel.

 

Dis verkoue as…

…die simptome meestal bo jou skouers is. ’n Loperige neus, hoes, oë wat heeltyd water, ’n seer keel en ’n geniesery is duidelike tekens van ’n verkoue. Die simptome bou gewoonlik oor ’n paar dae op. Verkoues is aansteeklik vir die eerste twee tot drie dae wat jy siek is, so dis belangrik om dan by die huis te bly en baie te rus.

 

Jou liggaam se eie immuunstelsel is meestal al wat nodig is om jou weer binne ’n paar dae op die been te bring. Indien jou verkoue nie beter is na omtrent ’n week nie, moet jy liefs dokter toe gaan. Meeste medisynes wat beskikbaar is sal slegs help om simptome te verlig. Weereens is die beste raad om seker te maak dat jy genoeg vloeistof inneem en rus.

 

Vitamiene C is ’n gedugte verkoue-vegter, en gelukkig is verkouetyd ook sitrustyd! Nartjies, lemoene, pomelo’s, minneolas – daar is ’n wye verskeidenheid heerlike sitrusvrugte om van te kies.

 

Knoffel word ook voorgehou as ’n wonderkuur om jou immuunsisteem ’n hupstoot te gee. Voeg dit by jou kos – of as jy desperaat raak en braaf is kan jy selfs ’n knoffeltee brou. Daar is nie veel te sê vir die smaak nie, maar dit behoort jou beter te laat voel.

 

Nog ’n ou boereraat wat behoort te help met verkouesimptome, en aansienlik lekkerder proe, is gemmertee. Soos met meeste eertydse doepas is daar ’n hele klomp verskillende maniere om dit te maak, so ontwikkel gerus jou eie resep! Die hoofbestanddele is gemmer en heuning, maar baie mense voeg ook suurlemoensap of selfs ’n stukkie suurlemoenskil by. Drink die tee terwyl dit nog baie warm is en probeer van die stoom deur jou neus inasem. Die suurlemoenwalms behoort veral te help met ’n toe neus en die gemmer en heuning sal jou keel streel.

 

As jou hoes begin erger raak, werk ’n mengsel van borrie en heuning baie goed. Meng dieselfde hoeveelhede van elkeen saam in ’n klein houertjie met ’n deksel. Neem elke paar uur omtrent ’n teelepeltjie vol en jou hoes sal binnekort vergete wees!

 

Met hierdie boererate behoort jy verkoues en griep die winter vry te spring! Alhoewel ’n mens nie jouself kan verseker teen winterkwale nie, kan ons jou wel help om versekering te kry vir byna enige ander onvoorsiene teëspoed.

Het jy hierdie geniet?

Teken op vir die nuutste Virseker nuus!

Bly op hoogte van alles Afrikaans!