Die wenner van die heel eerste Virseker en RSG bakgat beskuitbakkompetisie is op 13 November 2024 by ‘n liplek-lekker finale proegeleentheid by Auto & General Park in Dainfern aangekondig.
Die dag is ook amptelik deur Virseker en RSG tot Nasionale Beskuitdag verklaar.
Bekende name soos Hamilton Wessels, Zane Meas, Andriëtte de la Harpe en Carina Johnson – kleindogter van Ouma Greyvenstein van Ouma Beskuit - het by verteenwoordigers van RSG, wat regstreeks vanaf die geleentheid uitgesaai het, Virseker, Auto & General, Telesure Investment Holdings en hulle bestuur aangesluit en hul lywe fynproewer gehou om die “beste, bakgatse bobaas baksels in Suid-Afrika aan te wys.
Dit was geen geringe taak om tot hier te kom nie. Sowat 1500 baksels beskuit van regoor Suid-Afrika is geproe om eers die Top-72 te identifiseer en later die Top-5 aan te wys wat uiteindlik dinge uitgespook het om die kroon.
Die finaliste was Genevieve Cillie van Vereeniging wat beoordelaars in die uitdunne met “White Chocolate & Cranberry” beïndruk het, Marthle Smith van Gqeberha met “Muesli, Bosbessie en wit sjokolade beskuit”, Helena Erasmus van Bethal met “Outydse karringmelk beskuit”, Dominique Stander van Alberton met “Death by Chocolate” en Petra Groenewald van Springs met “Kersiebeskuit”
Uitendelik was dit Marthle Smith wat met die louere weggestap het.
Haar prys prys, wat R560 000 werd is, sluit R20 000 in kontant geborg deur Virseker, R350 000 se lugtyd op RSG, mentorskap deur Andriëtte de la Harpe (eienaar van die onderneming Mondvol, ook naaswenner in MasterChef Suid-Afrika se vierde seisoen), die ontwikkeling van haar onderneming se korporatiewe identiteit, sowel as spesiale dekking en ‘n artikel in JAN the Journal, die tydskrif van Michelin chef Jan Hendrik van der Westhuizen.
Dominique was tweede (R10 000 kontant), Genevieve derde (R10 000 kontant), Petra vierde (R5000 kontant) en Helena vyfde (R5000 kontant).
Marthle sê, “Daar is soveel vriende en familie wat ons ondersteun – ons is totaal en al oorval met boodskappe! Ons is baie geseënd en opgewonde oor hierdie nuwe reis. Hierdie besigheid het begin in 2019 toe my dogter begin bak het vir ekstra sakgeld. Ek,
haar broer en pa het ingespring om haar te help en die besigheid het van krag tot krag gegroei. Selfs nadat die kinders uit die skool en huis uit is, hou ek en my man nou nog aan bak. Skielik het hierdie klein besigheidjie deur hierdie kompetisie GROOT vlerke gekry. Ons nuwe besigheid, “KRAAK”, is reeds geregistreer en, met ons oog op oorskakeling na grootmaat produksie met meer fancy toerusting en aanlyn verkope in Februarie 2025, reg om ‘n storm los te bak en só ons beskuit met de mense van Suid-Afrika te deel. Ons is opreg dankbaar en sien uit na die toekoms!”
Johanni Jennings, hoof van bemarking by Virseker, sê, “Dié kompetisie pas Virseker soos boeretroos en beskuit, want beskuit is ‘n karadinale deel van ons kultuur. Nie alleen die varsgebakte geur wat ‘n huis deurtrek en die smaak van pasgedoopte beskuit nie, nie alleen die pure nostalgie van Ma, Ouma, Ouma Groot of Tannie So-en-So se meesterbaksels wat deel was van jou vormingsjare nie… maar ook die vriende, familie, soms ook vreemdelinge wat om ‘n koppie iets bymekaarkom om stories van gister te deel en te herleef, vandag se belangrike sake en grappe te deel, en die stories wat nog vir baie môres vertel sal word te help skryf.”
“Daarbenewens is Virseker passievol oor entrepreneurskap in Afrikaans, en trots om deur hierdie kompetisie die woord oor die talent van ons topinskrywings te versprei… en ook, as die kersie kop die koek - oftewel die skuimpie op die beskuit – ons wenner die kans te gee om hulle entrepreneursvlerke te sprei en ‘n nuwe onderneming tot stand te bring.”
RSG Sakebestuurder, Louise Jooste, sê, “RSG en Virseker se Bakgat beskuitprojek het ons verwagtinge oortref. Ons is dankbaar vir elke luisteraar se passie en liefde vir Afrikaans.Hierdie projek is ‘n springbord vir die wenner en top5 finaliste se toekoms. Baie geluk!”
Dit was ‘n dag van lekker proe, lekker smul, lekker kuier en Suid-Afrika se bakgatste baksel!